BINNE VERANDERINGE IS DAAR BLYWENDE VREDE

LIG IN DIE DONKER (16)

Hebeërs  13 : 8

"Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid."


Die Bybel vergelyk die mens se aardse bestaan met die van veldgras en wildeblomme. Die eendag is hul daar en die volgende dag reeds weg. Ons lewe in ‘n veranderende wêreld, hier is niks permanents, of niemand wat sekerheid kan verskaf nie. Die feit dat jy in ‘n hospitaal is, beteken dat jou situasie ook verander het - en dat die verandering seker nie aangenaam is nie.

Tog leer die Bybel ons ook van God, dat Hy die Ewige, die Onveranderlike is. Hy is die liefdevolle een wat sy Seun Jesus Christus na die aarde gestuur het om ons uit ons swaarkry en sondes te red. Uit liefde het Jesus namens ons gesterf aan die kruis. Uit liefde het Hy opgestaan en opgevaar na die hemel om vir ons daar plek voor te berei. Ons weet ook dat hy nog gaan terugkom om al die mense wat in Hom glo na sy Vader te neem om tot in ewigheid daar te bly. Dit wat Jesus belowe het, wat Hy gedoen het, is net so onveranderlik soos Hyself. Daardeur wil Hy ook aan jou die volledige vergewing van jou sondes, die ewige onveranderlike lewe gee. Wat jy moet doen, is om Hom in opregtheid daarvoor te vra.

Gaan na Hom in geloof, in opregte afhanklikheid, en bid tot Hom om jou die bekommernisse wat jy beleef as gevolg van jou veranderende situasie te help verwerk. Laat Hy jou verwarde en oorlaaide gemoed rustig maak.

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika