![]() |
Romeine 12:12 | "Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed." |
Moet tog nie dink dat jy niks het om voor te lewe nie.
Al is jy siek en swak, kan jy nog positiewe verwagtings hê.
Dit is belangrik dat jy hoop sal hê.
Optimistiese mense gee nie gou moed op nie maar sonder hoop kwyn jou kragte.
Die vraag is: Waar kry jy die krag om ondanks jou siekte nog positief en blymoedig te bly?
Hier is vir jou die antwoord:
![]() |
Romeine 15:4 | "Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees" |
Jy het nou baie tyd om die Bybel te lees.
Verdiep jou in die Woord van God en jy sal sy beloftes vir jóú hoor en dit sal jou
bemoedig.
Jy sal hoor dat daar vrede tussen jou en God gekom het deur sy Seun, Jesus Christus (Rom 5:1).
Jy sal hoor dat die versoening in Christus vir jou n ewige bestemming berei het wat nóú vir jou blydskap bring: "Ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het" (Rom 5:2).
Jy sal hoor dat God jou liefhet en dat dit jou innerlik vervul met hoop: "... want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het" (Rom 5:5).
Jy sal hoor dat jy nie van siekte en pyn gevrywaar is nie - dit is deel van hierdie wêreld - maar dat jy moedig daarteen kan stry en oorwin: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin" (Joh 16:33).
Die hoop waarvan jy in die Bybel lees, is nie n
"miskien" nie. Dit is n heerlike sekerheid wat nog net nie gerealiseer het
nie - maar dit sal sonder twyfel gebeur, want God wat getrou is, het dit belowe.
As jy die Woord van God ken en gehoorsaam, sal jou geduld en hoop nie kwyn nie.
Die Woord sal jou innerlik verbly.
Dit sal jou standvastig maak soos n geharde woestynplant wat in die ongunstigste
omstandighede nog blom.
Die geopenbaarde Woord sal jou aanspoor om volhardend te bid om die wil van God te
verstaan.
God se beloftewoord sal jou vol blydskap en hoop maak en n "...blymoedige mens se hele lewe is n fees" (Spr 15:15).
Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika