DAAR IS NET EEN VERSORGENDE VADER

LIG IN DIE DONKER (19)

1 Petrus 5:7 "Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle ..."

Watter mens in ‘n hospitaal het nie bekommernisse nie. Sekerlik het u ook baie angste wat u moet deurstaan! Veral in die hospitaal het ons ‘n oormaat van probleme. Al hierdie ekstra bekommernisse help nie dat ons vinniger gesond word nie, maar kan ons gesondheid ‘n ekstra knou gee.

Terwyl die dokters en verpleegpersoneel se pille en inspuitings verligting bring, kan alleen God aan ons blywende kalmte gee. Slegs sy verlossende woord: "Glo in die Here Jesus en jy sal gered word" (Hand. 16:31) dra enige langtermyn waarde.

Daarom as u in angs en pyn verkeer gaan na Hom, vra Hom om hulp. Deur Jesus Christus wil Hy u vertroostende Vader wees. Hy wil en kan u beter versorg as u eie aardse vader. In geloof kan u al u bekommernisse aan Hom oorlaat.

Hy wat vir u wil sorg, ken al u sorge en pyne. Sy oog waak gedurig oor u, en Hy wil u steeds tot hulp kom. Sy arm is nie te kort om te help nie. Moet daarom nie langer alleen voel en op u eie met u probleme worstel nie. Gee die swaar las wat u dra aan Hom, want Jesus Christus het die las reeds aan die kruis van u skouers weggeneem. Vertrou in geloof op Hom. Dan sal u eendag vry wees van al hierdie aardse sorge en vir altyd by Hom wees.

Hy, die Alwyse, ken u smarte en pyne. Hy die Almagtige, beskerm u. Hy die Alomteenwoordige, is die heeltyd by u. Hy sorg vir u.

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika