LIG IN DIE DONKER (22)
![]() |
Romans 8:26 | "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp...." |
Siekte beserings en pyn, bring dikwels die gevoel by mens dat jy alleen is.
Jou familie het nie werklik begrip vir die moeilike omstandighede in n hospitaal nie;
die verpleegpersoneel en dokters ken nie jou innerlike vrese en vrae nie;
ander besoekers kom wel by jou, maar dit is dikwels net maar uit beleefdheid.
So raak jy uiteindelik geïsoleer met jou eie gedagtes, nood, kommer en pyn.
Hierdie vers sê egter dat daar altyd nog Een is wat weet presies wat jy voel en beleef. God weet, want die Gees tree vir ons by Hom in met onuitspreeklike sugtinge.
Al my vrese oor die toekoms,
al my angs oor volledige herstel,
al my kommer oor geliefdes,
al my worstelinge met pyn,
ja, alles word deur die Gees vir my voor God gebring.
Jy is daarom nie alleen nie. Daar is nog Een wat weet. Die Gees het vir jou ingetree by God, selfs toe jou eie woorde opgeraak en jou gebede stil geword het.
En watter groter troos is daar as die wete dat jou hemelse Vader op hoogte is met jou nood?
Is Hy dan nie die Een wat voorsien en sorg en uitkoms gee nie?
Vertrou op Hom en Hy sal jou weer optel.
Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika