LIG IN DIE DONKER (18)
![]() |
Lukas 22:31-32 | "Simon, Simon! het Jesus gesê. Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie." |
Hierdie woord van die Here Jesus aan Petrus is absoluut aangrypend. Jesus weet dat Petrus hom oor n paar uur in die steek sou laat. Hy weet dat Petrus sou sê dat hy Hom nie ken nie, wanneer Hy Petrus juis so nodig sou hê in Sy smart. Hy weet ook watter trane en gewetenswroeging dit by Petrus teweeg sou bring. In Sy onbeskryflike liefde troos hy Petrus selfs voor dit gebeur met hierdie aangrypende woorde: "Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie".
Dit is ook aangrypend dat Jesus juis vir Petrus se geloof bid. Wanneer gelowiges deur krisisse gaan dan toets dit ons geloof. Dit plaas druk op ons verhouding met God. As ek (soos Petrus) skuldig voel oor wat gebeur het, kan dit maak dat ek vir God wil wegkruip. As ek aan die ander kant ongelukkig is oor dit wat my getref het, kan ek wegdraai van die Here omdat ek voel dat Hy my in die steek laat. Satan probeer dit uitbuit om n kloof tussen ons en God te bring. Maar God nooi my in liefde uit om met my seer en worsteling na Hom te kom.
Jesus bid dat juis dit sal gebeur. Dat Petrus se geloof hom nie sal verlaat nie, maar dat hy na God sal kom. Hy het ons netso lief soos vir Petrus. Hy nooi ook ons - "almal wat vermoeid en belas is" - na Hom. Hy beloof ons dat Hy ons in liefde deur swaar en doodskaduwees sal dra en ons sal rus gee.
Onthou: Hy tree vir ons in. Hy bid vir ons.
Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika