1 TIMOTEUS 5:5 |
"En sy wat waarlik weduwee is en alleengelaat is, hoop op God en bly in smeklnge en gebede nag en dag." |
n Mens hoef nie noodwendig dodelik siek te wees en vol pyn om te ly nie. Jou bene en vingers hoef nie kromgetrek te wees om te ly nie. Jy hoef nie gespot en gehoon te word om te ly nie.
Jy kan ook bloot in stilte ly. Omdat jy alleengelaat is. Ook vir hulle wat alleengelaat is, is daar plek by die HERE. Hy vat hulle hand. Hy maak hulle oë oop om die sin van hulle lyde te sien. Dié lyde dat hulle op een of ander tydstip alleengelaat word.
Jou alleenheid - en dit kan die sin wees van hierdie soort lyde - skep vir jou n bepaalde ruimte. Dit bied n bepaalde geleentheid tot aksie en oefening - geloofsoefening. Wie alleengelaat is, sê Paulus, hoop op God en bly in smekinge en gebede dag en nag. Dit is woorde vol aktiwiteite hierdie: hoop, smeek.
Die lyde van alleenheid kan dus die geleentheid skep om jou geloof te oefen deur die aksies van hoop op God en bid tot God. Vir hierdie soort geloofsoefening is daar dikwels in die normale gang van sake en in die bedrywige vol lewe van elke dag, weinig geleentheid. Het jy al gedink watter groot krag daar van jou kan uitgaan, in jou lyde van alleenheid?
Lees weer:
Hoop op God - dit wil sê die diepe afhanklikheid van God. Die wete dat God by jou is in
jou alleenheid.
Gebede en smeking - wat kan jou gebede in jou alleenheid nie vir jou dierbares, jou land, kerk en volk beteken nie.
Dit kan die sin wees van jou lyde, van alleenheid: Hoop op God en gebed.
En so word jou lyde n venster.
En deur die venster kyk jy die hemel in.
Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika