LYDE EN DIE AFSTERWE VAN DIE SONDE

LIG IN DIE DONKER 5

1 Petrus 4:1 en 2 "...wie na die vlees gely het, het opgehou met die sonde om die orige tyd ... volgens die wil van God (te leef)."

Die lyde waarin jy verkeer, ontneem jou heelwaarskynlik van baie geleenthede. Miskien is dit die verkeer met jou gesin en geliefdes wat jy tot ‘n groot mate moet ontbeer. Dalk verlang jy na die kinderlag daar in jou sitkamer. Miskien is dit vir jou swaar om nie voluit jou deel in jou werk te kan doen nie. Dalk moet jy sonder ‘n deel van jou salaris klaarkom. Dalk moet jy voortaan sonder sommige van jou belangrikste ledemate klaarkom.

Ja, lyde neem dikwels geleenthede van ons weg. Lyde laat ons soms met die minusgevoel.

Maar daar is ook iets van ‘n plus, ‘n ligkant in jou lyde. Die pluskant is dat lyde jou ook ontneem van baie geleenthede om sonde te doen of verlei te word. Wie ly, word onttrek van die "oop" wêreld, waar hy om elke hoek teen versoekings vasloop. Wie ly, word geestelik gelouter. Sy oë word oopgemaak om die groot lyde van Christus vir ons te sien.

So is dit. Wie ly, kom dikwels tot stilstand juis om te kan terugkyk en vorentoe kyk.

Lyde laat my met nuwe oë kyk na die lewe en leemtes wat agter lê.

Lyde kan die begeerte lewendig maak "om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God".

Dit kan die pluspunt wees in jou lyde: om opnuut vir God te leef.

Juis omdat Christus ook vir jou gely het.

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika