ONS SWAKHEDE WYS EINTLIK GOD SE KRAG IN ONS

LIG IN DIE DONKER (20)

2 Korintiërs 12:1 - 10 (10) "... want as ek swak is, is ek sterk"

Niemand weet wat die "doring in die vlees" was waarvan Paulus praat nie. Dit was wel iets wat Paulus in sy werk teruggehou het. Siekte kan ‘n mens ongeduldig en verbitterd maak, veral wanneer dit kronies aanhou en nie wil wyk nie. Paulus bid dat die Here hom van die kwaal moet verlos, maar die Here se antwoord is dat sy genade vir Paulus genoeg is.

Die Here verlos ons nie altyd onmiddellik van ons nood nie. Hy werk anders. Hy sê "My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is". (2 Kor. 12:9). Daarmee sê die Here dat Paulus se kwaal hom nederig en klein hou voor God. Dit laat hom altyd nederig opkyk na God om krag. Sy kwaal verhoed dat Paulus hoogmoedig raak en dink dis hyself wat al die sukses in God se diens behaal. Met sy siekte en swakhede sal hyself en alle ander moet besef, dis die Here wat sy krag in Paulus openbaar sodat hy nog sy werk kan doen.

So sê die Here dan vandag vir jou:

Aanvaar dat jy in die omstandighede nie kan sê wat moet gebeur nie, maar dat God die dokters met verstand seën. Hy maak hulle vaardig van hand!

Aanvaar dan om nou nederig en klein te wees, jy gereed is dat God sy krag in jou gaan openbaar. Hy neem alles onder jou voete uit sodat jy in hierdie tye besef dit is net God se krag wat kan red.

Hoe gaan dit vandag?

Sleg - as jy op jouself vertrou

Goed - as jy op sy krag bou!

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika