LIG IN DIE DONKER (17)
![]() |
Job 19:25-27 | "Ek weet dat My Losser leef... Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien ... Ek smag daarna met my hele lewe." |
Job was n gelowige. So gelowig was hy dat God self sê (Job 1:8): "Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad". Tog het die grootste hartseer en n ernstige siekte ook hierdie gelowige man getref. Ons lees bladsy-na-bladsy in die Bybel van sy eie en sy vriende se worsteling om te verstaan waarom God hierdie verskriklike dinge toegelaat het. Alleen kon hulle nie by n antwoord uitkom nie. Wat Job wel geweet het, is dat die rampe en pyn wat hom getref het nie God se straf op sy sonde was nie. Daar moet n ander rede wees vir die kastyding. God sal n doel daarmee hê. Ondanks alles wat hom getref het en al sy worstelinge met God daaroor, weet hy bo alles seker dat sy Verlosser leef. Alles eindig nie hier nie. Selfs al sou die siekte hom vernietig, weet Hy dat God getrou sal wees en hom by Hom sal neem. Hy sal lewe en God sien! Hoe smag hy nie daarna te midde van al die swaar nie! Ons kan net so seker wees van God. Nie omdat ons so besonders is nie, maar omdat God ons verseker dat Hy ons wat in Hom glo, liefhet. Ons kan saam met Job sê dat ons weet dat ons Losser leef. Ons Here Jesus het die helse pyn en die dood deurgegaan ter wille van ons. So het Hy verseker dat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal kry (Joh. 3:16). Daarom kan ons ook, te midde van ons swaar, smag na die ewig lewe waar ons ons Here sal sien. Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika |