Toerusting in die geloof

Swaarkry: God se doel daarmee

wpe5.jpg (2215 bytes)Deut 32:11 "Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie."
arend.JPG (4090 bytes)

Die arend maak gewoonlik sy nes op ‘n hoë bergspits met gapende afgronde. As die klein arendjies se vlerke vlieglengte bereik het, keer die groot arend die nes om. Op die oog af lyk dit baie wreed, want as jy hulle van die begin af dopgehou het, sou jy gemerk het dat daardie arme kleintjie vir die laaste paar dae nie kos gekry het nie. Ook dit lyk wreed, totdat jy besef dat die arend sy kind nie verniet uitgehonger het nie, want ‘n vet mollige klein kuikentjie kan nie sweef nie. En dan breek die oomblik van waarheid aan wanneer die kuikentjie uit die nes die afgrond in afgeskop word. Hy moet nou leer vlieg, maar gedurig vlieg die ma-arend met haar kragtige vlerke onder haar kind. Nooit dwaal sy weg nie. So oefen die arend haar kuiken. So word hy geleer om te vlieg, groot te word.

So sê die Here, het Hy sy volk destyds gelei en doen Hy dit vandag nog steeds met ons as sy kinders. Op ‘n sekere moment in jou lewe, deur die Here Self bepaal skud Hy ons los uit ons eentoninge rustige bestaan en word ons die ruimtes ingeslinger met geloofsvlerke wat sukkel om ons gewig te dra. Dit is moeilik, dit voel liefdeloos - siekte, dood, finansiële krisisse en weg is die rustige nes onder my en bevind ek my iewers in die ruimtes waar my vlerke my kwalik wil dra. Waarom Here? Net een antwoord: Om jou geloofsvlerke sterk te maak. Jy moet leer vlieg - in die geloof bokant jou probleme, jou smarte uitstyg. "Maar my vlerkies is dan nog so swak, o Here - ek sal dit nooit alleen kan maak nie." Nee, jy hoef nie, want dit is waarom God sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur het, nie net om vir jou sondes te sterf nie, maar om vir altyd met sy Gees by jou te wees. Hy dra jou met sy reuse vlerkspan. Hy het immers ons lyding op Hom geneem en ons siektes gedra (Jesaja 53:4). Daarom sal Hy nooit toelaat dat jy as sy kind jou te pletter val nie. Bly net glo! Siekte kom wanneer ek nog soveel werk het om te doen.