TOETS VIR JOU KINDSKAP

LIG IN DIE DONKER (13)

1 Petrus 1 : 6 - 7 "Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word."

Beproewing is vir elke mens ‘n probleem.
Mens kan maklik begin om God te verwyt vir dinge wat met jou gebeur.
Daar kan maklik bitterheid intree.

Dit is maklik om vrae te vra:

Hoekom gebeur dit met my?

As jy vra "Hoekom?" staan jy self in die middelpunt.
As jy vra "Wat?" staan God in die middelpunt.

Dan word God se reddingsplan duidelik:

  • In Christus het jy die nuwe lewe en daarom het jy ‘n lewende hoop (vs. 3).

  • As jy in Hom glo word jy veilig beskerm en bewaak vir die saligheid (vs. 5).

  • Vir kort tydjie word jy beproef om jou geloof te toets (vs. 5).

Daarom kan jy jou verheug.

Beproewinge is nie teken van verwerping nie maar is soms nodig.
Dit is ‘n oefening om jou voor te berei vir groter take in diens van die Here.

Dikwels sak mens se geloofslewe maar terug.
Dan kom daar louheid, ongeërgdheid, ontrouheid en onverskilligheid in jou verhouding tot God.
Dan kom die beproewings om die egtheid van jou geloof te toets.


book.gif (1377 bytes) 1 Petrus 1:7 "Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word..."

Jou gedrag en houdings sal bepaal of jy die toets deurstaan het:

  • Moenie ongeduldig raak nie

  • Moenie opstandig raak nie

  • Verheug jou dat jy getoets word - God gebruik net suiwer goud in sy koninkryk (1 Pet 2:5).

Die beproewings duur in elk geval net ‘n kort tydjie in verhouding tot die ewige saligheid waarvoor jy opgevoed word.
Goud is kosbaar maar dit vergaan (vs. 7).
Die nuwe lewe wat in jou ontwaak, kan niemand van jou wegneem nie.
Dit is geestelike rykdom wat ‘n lewende hoop in jou laat lewe en ‘n uitbundige blydskap in jou laat ontwaak ...
Selfs in die ergste pyn.

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika