VERGESIGTE VAN GENADE

LIG IN DIE DONKER 1

Deuteronomium 32:10-11 "Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ‘n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die HERE het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei..."

As mens siek is, voel jy so eensaam.
Jy voel afgesny van die lewe daarbuite waar mense lag en kinders speel.
Jy besef jou lewe is maar verganklik.
Waar vind jy troos?
Waar vind jy beskerming?
Die Israeliete het tydens die uittog hierop ‘n antwoord gekry:
Die troue God het Hom tot sy volk in die woestyn neergebuig.
Hy het oor hulle veiligheid wag gehou.
Hy was besorg oor hulle opvoeding.
Hy het hulle met die uiterste sorg beskerm.

Hulle emosionele behoeftes het Hy verstaan, Hy het hulle omhels, vertroetel en versorg met Vaderlike warmte.

Toe die kinders van die Here gevoel het asof hulle omring word deur brullende roofdiere, het die Here hulle behandel soos die appel van sy oog. Selfs toe hulle gemor en gekla en God verwyt het, het Hy hulle "...veertig jaar lank geduldig verdra" (Hand. 13:18).

Sy kinders is altyd vir Hom kosbaar.

Beproewing is nie maar betekenisloos nie, die Here wil sy kinders deur die swaarkry opvoed.

Dit is wat die arend met sy kleintjies doen:
hy skop hulle uit die nes uit om hulle selfstandigheid te leer.
As hulle kan vlieg, kan hulle altyd na ‘n veiliger plek vlug as ‘n roofdier hulle nes ontdek.
Die opvoedingsproses is egter pynlik.
Dit kan selfs gevaarlik wees.
Op byna onsimpatieke manier word die klein voëltjies van die hoë kranse afgestoot.
Met swak ontwikkelde vlerkies klap hulle dikwels paniek-bevange in hulle stryd teen die swaartekrag.

Die volwasse arend bly egter altyd naby. Wanneer dit blyk dat die kleintjies uitgeput raak, sweef hy onder die kleintjies in en dra hulle op gestrekte vlerke na veiligheid.

Siekte en terugslag is nooit maklik om te oorkom nie.
Jy kan egter altyd op die nabyheid van die Here staatmaak:

Jesaja 43:1

"Moenie bang wees nie, Ek het jou verlos..."

Die Vader versorg jou soos die appel van sy oog.
Jou lewe is vir Hom baie kosbaar.
So kosbaar dat Hy sy Seun gestuur het om jou van val en ondergang te red.

Vertrou op God en hierdie siekbed sal jou nie aftakel nie maar opvoed om God se sorgsame liefde te ken.

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika