WAT IS DIT OM CHRISTUS NA TE VOLG

In ‘n winkel sien ek die plakker "Jesus loves you". By ‘n juwelier, net langs bogenoemde winkel, merk ek verskillende kruise op: goues met mooi kettinkies, silwer, brons en selfs een of twee van ivoor. Buite op straat staan ‘n dame met so ‘n goue kruis aan ‘n goue ketting om haar nek...

Ek stap na haar toe en vra haar hoekom sy so ‘n goue kruis om haar nek dra.

Haar antwoord was: "Ek is ‘n Christen!"

Is jy ook ‘n Christen?

Maar weet jy wat beteken daardie kruis werklik?

Weet jy wat beteken die plakker "Jesus loves you?"

Om jouself ‘n Christen te noem is nie net om aan een of ander kerk te behoort nie ... Nee, om Christen te wees is baie meer as net lidmaatskap van ‘n kerk!

Om Christen te wees is om Iemand met volle oorgawe te volg, aan te hang, te aanbid en te doen wat Hy van jou verwag.

Hierdie Iemand is Jesus Christus!

"Wie is Jesus Christus?" sal jy nou dadelik vra.

Jesus Christus is die Seun van God!

Die Bybel leer ons alles van Jesus Christus. In Betlehem, ongeveer twee duisend jaar gelede, is Hy, die Seun van God, gebore. Sy aardse vader en moeder was Josef en Maria.

Ons lees in die Bybel dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos!

Ja, Jesus Christus het gekom om ook jou sondes te vergewe. Dit wat jy weet wat jy elke dag verkeerd doen, dit wat jy weet wat nie elke dag reg is nie - ja, Jesus Christus het gekom om jou daarvan los te maak sodat jy die goeie dinge in die lewe kan doen!

Meer nog: Wanneer jy die dag doodgaan, dat jy op ‘n heerlike wyse bly lewe!

Dit doen Jesus vir jou!

Jy sal nou dink dit is belaglik: as ek doodgaan, hoe kan ek bly lewe?

Presies net dit. Die wonder om altyd te mag lewe en nooit, ja, nooit dood te gaan en net van hierdie werklikheid te verdwyn - dit gee Jesus vir elkeen wat in Hom glo.

Die wat werklik in Jesus glo, hulle sal lewe al het hulle ook gesterwe.

Hulle sal na hierdie lewe oorgaan in ‘n salige lewe met Hom, ‘n lewe wat geen swaarkry, pyn of dood ken nie, ‘n lewe wat nooit ophou nie, ‘n lewe wat tot in ewigheid sal bly.

Daarvoor het Jesus Christus aan ‘n kruis gesterf. Daardeur het Hy jou en my vrygekoop van sonde en dood.

Sy sterwe aan die kruis beteken lewe vir jou en my. Hy ken jou, Hy werk alreeds in jou hart.

Jesus se werk in jou maak jou ’n nuwe mens. Neem dus die uitnodiging aan: Jy kan weer nuut begin! Jesus het jou lief, daarom het hy dit vir jou gedoen. As jy ‘n Christen is, dan volg jy hierdie Jesus en doen alles wat Hy vir jou sê.

Joh 1:12 "Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word."

Hand 4:12 "... Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie."