WAAROM HIERDIE ELLENDE?

LIG IN DIE DONKER (21)

Romeine 8:21 "... die slawerny van die verganklikheid..."

Dikwels vra ons in ‘n tyd van swaarkry en siekte:

"Waarom gebeur dit dan met my?"

Hoekom is daar soveel pyn en ellende in die wêreld? Teëspoed en siekte en lyding word nie deur die Bybel ontken nie. Trouens, dat daar sulke dinge sal wees, word aanvaar as ‘n werklikheid van ons bestaan hier op aarde. Hierdie skepping is volgens die Skrif soos ‘n slaaf, ‘n hulpelose slagoffer van verganklikheid, verval en agteruitgang. Alles is dus nie besig om beter en beter te word, soos die mensdom graag wil glo en voorgee nie. Nee, ons leef in ‘n stukkende wêreld, vol pyn en lyding.

Maar is daar dan nog troos in so ‘n stukkende wêreld, te midde van al die siekte en ellende en gebrokenheid?

Ja, daar is troos.

Die troos lê daarin dat God Self die skepping aan die verganklikheid onderwerp het - maar Hy laat dit nie daar nie. Hy is dus nog steeds in beheer. Dinge het nie uit sy hande geraak nie.

Hy beskik nog steeds oor alles en almal, ook te midde van die ellende. Hy gee ons die versekering dat daar ook ‘n ander werklikheid op pad is: die heerlikheid wat kom! Nou sug ons nog soos die hele skepping ook sug en kreun onder die pyne van die verganklikheid.

Maar dit is nie ‘n hopelose sug nie.

Dit is sug met verwagting.

Met geloofsvertroue.

Met die sekerheid dat God, ons hemelse Vader in beheer is van alles. Ook van my siekte. Met die wete het my siekte nie die laaste sê nie.

Uitgegee deur : Evangeliseringsmedia, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika