DIE WONDER VAN GELOOF

Jy vra na die wonder van die geloof?

Kom ons kyk wat sê die Bybel daaroor...

In Johannes 3:16 lees ons hierdie heerlike woorde: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê."

Dit is ‘n uitspraak wat spreek van die rykdom van God se genade aan sondaarmense! God bring die wonder en die rykdom van heerlikheid wat die ewige lewe inhou, weer op die pad van die verlore sondaar ...

Die onmisbaarheid van die geloof

Johannes 3:16 leer ons dat alleen die wat in Christus glo, die ewige lewe het. Alleen deur die geloof kan ons deel kry aan die offer wat Christus aan die kruis gebring het om sondaars se skuld by God te betaal en om hulle met God te versoen. Deur die geloof word die weldade van Christus aangeneem waardeur ons volkome skulddelging maar ook lewensvernuwing ontvang.

Sonder geloof in die lyde en oorwinning van Jesus Christus is geen verlossing uit die sondedood moontlik nie.

Waar kry ek die wonderlike geloof?

God, wat sy Seun gegee het (vgl. Joh 3:16) sodat daar versoening moontlik is, gee ook die geloof aan sy kinders. Geen mens of menslike instansie beskik daaroor om dit aan iemand te gee nie. Dit is ook nie so dat alle mense oor die moontlikheid beskik om te glo en dat jy dit maar net self moet ontwikkel nie.

Dit is ‘n geskenk van God!

Efesiërs 2:8: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God".

Deur die Heilige Gees plant God die saad van die ware geloof in die harte van sy kinders. Deur die prediking van die evangelie en die gebruik van die sakramente groei daardie geloof uit tot ‘n vaste en salige oortuiging en vertroue.

Die geloof is lewend en dinamies!

Romeine 10:17: "Die geloof kom dus deur die prediking wat mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus".

Waaruit bestaan die ware geloof?

Die geloof lê beslag op die hele mens: sy verstand, sy hart en sy hande. ‘n Gelowige word ten volle opgeëis om as ‘nuwe mens’ vir die Here te lewe.

3.1 Geloofskennis. Die verstand van die gelowige word deur die Heilige Gees verlig sodat hy die Bybel as Woord van God kan ken en kan aanvaar.

Johannes 20:31: "Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê".

Wie dus die ware geloof wil deel, moet die Woord van God ken, moet met oorgawe na die Woord luister.

3.2 Geloofsvertroue. In die hart van die gelowige werk God die Heilige Gees die vertroue, die sekerheid, dat Christus ook vir jou gesterf het en dat jy deur Christus weer kind van die hemelse Vader geword het.

Hebreërs 11:1 "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie."

3.3 Geloofswerke. Die geloof is ook ‘n daad!

Ook jou hande word deur God in die geloof opgeëis. Jakobus 2:17: "So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sondermeer dood."

‘n Lewe tot eer van God hoort dus tot die wese van die geloof. ‘n Ware gelowige wil in alles in die Naam van God grootmaak.

Die heerlike sekerheid van die geloof

Omdat geloof ‘n geskenk van die onveranderlike God aan sy kinders is, kan ek seker wees dat my geloof nooit van my weggeneem kan word nie. My geloof is my bewys dat ek wel kind van God is en dus erfgenaam van die ewige lewe.

My geloof is die grootste vastigheid en anker in my lewe. Paulus skrywe: Al word alles van jou in die lewe weggeneem, het ‘n Christen nog sy geloof in Jesus Christus, en dit is rede tot groot blydskap! (Filippense 4:4).

Die geloof laat jou in dankbaarheid voor die Here jubel! Hierdie kosbare kleinood moet steeds meer opgebou en sterk gemaak word.

Judas vers 20: "Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees."

Glo jy ook?