Barmhartige Vader, ons dank U dat U hierdie nag so getrou oor ons gewaak het, en ons bid U dat U ons wil versterk met u Heilige Gees. Laat Hy ons voortaan lei, dat ons hierdie dag, sowel as al die dae van ons lewe, bestee tot alle geregtigheid en heiligheid. Laat ons doel, by alles wat ons ter hand neem, altyd wees om u eer te verbrei, so dat ons dan ook al die voorspoed by ons voornemens van u milde hand alleen verwag. En dat ons die genade van mag verkry vergeef ons, volgens u belofte al ons sondes ter wille van die heilige lyde en bloedvergieting van ons Here Jesus Christus; want ons het oor die sondes van harte berou. Verlig ook ons harte, sodat ons alle werke van die duisternis aflê en as kinders van die lig in alle godsaligheid in 'n nuwe lewe wandel. Gee ook seën by die verkondiging van u Goddelike Woord. Vernietig alle werke van die duiwel. Versterk alle getroue kerkdienaars en owerhede van u volk. Vertroos alle vervolgde en benoude harte deur Jesus Christus, u liewe Seun, wat ons beloof het dat U ons alles wat ons U in sy Naam bid, sekerlik sal gee en ons daarom beveel het om aldus te bid: Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Verleen ons ook u genade dat ons volgens u wil mag lewe, die wil wat U aan ons in u Wet geopenbaar het en in hierdie Tien Gebooie saamgevat is:
Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.