Openlike Verklaring

 

Afrikaans English Sepedi Sesotho Setswana tsiVenda isiXhosa isiZulu

Afrikaans

OPENLIKE VERKLARING VAN DIE SINODE VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA

Die sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verklaar openlik en elke lid vir homself soos volg:

Ons glo van harte in God Drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees wat Hom in sy Woord openbaar. Ons glo dat Jesus Christus die enigste Hoof van die kerk is en dat Hy sy kerk deur sy Woord en Gees regeer. Ons aanvaar met ons hele hart en ’n goeie gewete die Drie Formuliere van Eenheid wat deur die Dordtse Sinode van 1618/19 as Belydenis aanvaar is, naamlik die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls as ons belydenis. Ons beloof om hierdie waarheid deur die genadige leiding en verligting van die Heilige Gees volgens God se Woord te handhaaf.

Ons aanvaar vir die eredienste die liturgiese beginsels en riglyne soos vasgestel deur die Sinode van Dordrecht, en soos gewysig deur die Sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

In kerkregering handhaaf ons die Dordtse kerkorde, soos aanvaar in 1618/19, en gewysig deur die Nasionale Sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Ons verklaar as vergadering dat ons na ware onderlinge eenheid streef, en dat ons as liggaam van Christus in die wêreld vir die ware geloof getuig. Almal wat deur die genadige werking van die Heilige Gees dieselfde dierbare geloof verkry het, en dit saam met ons wil bely en handhaaf, roep ons hartlik op tot kerklike gemeenskap.

Ons wens is om met alle kerkgemeenskappe wat dieselfde as ons glo en bely, die innigste geloofsgemeenskap en kerklike korrespondensie te onderhou.

Mag die Here in sy genade gee dat baie sy Woord deur die werking van die Heilige Gees sal aanneem. Mag al die uitverkorenes geroep en as ware gelowiges in een kerklike gemeenskap verenig word.

Dit is ons wens en bede.

(Acta 1863:8, Acta 2009:498).