Die Kerkorde met verwysings

Die Sinode van Reddersburg het die Dordtse kerkorde van 1618/1619 vir die kerkregering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aanvaar. Verskillende sinodes het dit ooreenkomstig artikel 86 gewysig om nou soos volg te lui:

Artikel 1

Om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou, is daarin nodig: die dienste, samekomste, toesig oor die leer, sakramente en seremonies en die kerklike tug, waaroor hierna agtereenvolgens gehandel word.

Artikel 2

Daar is vier soorte dienste: die van die bedienaars van die Woord, die van die professore aan die Teologiese Skool, die van die ouderlinge en die van die diakens.

Artikel 3

Dit sal vir niemand geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie.

Artikel 4

Die wettige beroeping en toelating van iemand wat nie tevore in die diens van die Woord gestaan het nie en wat deur die klassis waarin hy woonagtig is, voorbereidend (preparatoir) geëksamineer is, bestaan uit:

  1. Beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke

  2. Beroepbaarstelling van predikante wat bedank het

  3. Beroepsbrief

  4. Beroepsbrief - Byvoegsel

  5. Beroepsbrief Kombinasie

  6. Byvoegsel vir kombinasieberoepe

  7. Eksamen met die oog op proponering en bevestiging

  8. Eksamen van persone wat elders gestudeer het

  9. Formulier vir die bevestiging van bedienaars van die Woord

  10. Kennisgewing van die bevestiging van 'n bedienaar van die Woord aan die Klassis

  11. Kombinasieberoepe

  12. Ondertekeningsformulier vir predikante

  13. Ondertekeningsformulier vir professore

  14. Ondertekeningsformulier vir proponente

  15. Proponente wat lank wag vir 'n beroep

  16. Staking van stemme by oorweging van toelating

  17. Toelating van 'n blinde tot die bediening van die Woord

  18. Toelatingprosedure

Artikel 5

Waar 'n bedienaar van die Woord van een kerk na 'n ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:

  1. Beroepsbrief

  2. Beroepsbrief - Byvoegsel

  3. Beroepsbrief Kombinasie

  4. Byvoegsel vir kombinasieberoepe

  5. Formulier vir die bevestiging van bedienaars van die Woord

  6. Kennisgewing van die bevestiging van 'n bedienaar van die Woord aan die Klassis

  7. Losmaking en bevestiging van predikante

  8. Losmaking en bevestiging van predikante as professore in teologie

  9. Losmaking van 'n vertrekkende bedienaar van die Woord

Artikel 6

Geen bedienaar van die Woord mag onder 'n beskermheer of in gestigte of op 'n ander wyse diens van die Woord aanvaar nie, tensy hy daarvoor toestemming verkry het en toegelaat is volgens die voorgaande artikels; en hy is ook net soos die ander aan die Kerkorde onderworpe.

  1. Ooreenkomste tussen staatsdepartemente en plaaslike kerke

Artikel 7

As iemand tot die diens van die Woord in 'n bepaalde kerk beroep word, moet hy op die bepaalde plek gevestig wees, tensy hy gestuur word om elders kerke te vergader.

Artikel 8

Iemand wat nie gestudeer het nie, sal nie tot die diens van die Woord toegelaat word nie, tensy daar sekerheid is van sy buitengewone gawes, godsaligheid, ootmoedigheid en ingetoënheid, goeie verstand en onderskeidingsvermoë sowel as gawes van welsprekendheid. As so iemand hom aanmeld, moet die klassis, as die streeksinode dit goedvind, hom eksamineer en na gunstige bevinding hom vir 'n tyd lank private preekproewe laat lewer, om dan met hom te handel soos die klassis stigtelik oordeel.

Artikel 9

Predikers wat uit ander kerke of een of ander sekte aansluit, sal nie tot die kerkdiens toegelaat word nie, behalwe met groot versigtigheid en dit eers nadat hulle vir 'n sekere tyd goed beproef is.

Artikel 10

'n Bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, mag die kerk waaraan hy verbonde is, nie sonder bewilliging van die kerkraad met die diakens en toestemming van die klassis verlaat om op 'n ander plek 'n beroep op te volg nie; en geen ander kerk mag hom ontvang voordat hy van die kerk en klassis wat hy gedien het, wettige getuienis van sy losmaking getoon het nie.

  1. Beroeping van 'n predikant

  2. Losmaking en bevestiging van predikante

  3. Losmaking en bevestiging van predikante as professore in teologie

Artikel 11

Die kerkraad wat die kerk verteenwoordig, is verplig om sy bedienaars van die Woord met behoorlike onderhoud te versorg en mag hulle nie die onderhoud weerhou of hulle uit hulle diens ontslaan sonder kennis en goedkeuring van die klassis met advies van die deputate van die streeksinode nie.

  1. Reglement van die Gereformeerde Kerke Emeritaatsversorgings-kombinasie

  2. Reglement vir die GKSA Pensioenfonds

Artikel 12

Omdat 'n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, mag hy nie tot 'n ander staat van die lewe oorgaan nie, behalwe om gewigtige redes waaroor die kerkraad en die klassis moet oordeel met advies van die deputate van die streeksinode.

  1. Beroepbaarstelling van predikante wat bedank het

  2. Eiewillige neerlegging van die amp

  3. Samehang van artikels 12-14

  4. Verlies van amp

Artikel 13

As 'n bedienaar van die Woord, volgens oordeel van die kerkraad met goedkeuring van die klassis en advies van die deputate van die streeksinode onbekwaam word vir die uitoefening van sy diens weens ouderdom, siekte of andersins, behou hy die eer en die naam van 'n bedienaar van die Woord en moet die kerk wat hy gedien het, hom in sy nooddruf eervol versorg.

  1. Betalingsadvies

  2. Emeriteringsouderdom van predikante en professore

  3. Konsep-emeritusverklaring

  4. Ordereëling mediese versorging van Predikante en Emeriti

  5. Reglement Thuso-fonds

  6. Reglement van die Gereformeerde Kerke Emeritaatsversorgings-kombinasie

  7. Reglement vir die GKSA Pensioenfonds

  8. Samehang van artikels 12-14

Artikel 14

'n Bedienaar van die Woord wat weens siekte of om enige ander rede sy diens 'n tyd lank moet onderbreek, wat nie sonder bewilliging van die kerkraad en advies van die klassis mag gebeur nie, bly steeds onderworpe aan die beroeping van daardie kerk.

  1. Onderbreking van diens vir 'n tyd

  2. Samehang van artikels 12-14

Artikel 15

Geen bedienaar van die Woord mag in 'n ander kerk die Woord of sakramente bedien sonder bewilliging van die kerkraad van daardie kerk nie en niemand wat die diens van sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, mag hier en daar gaan preek sonder die toestemming van die klassis of 'n streeksinode nie.

Artikel 16

Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

Artikel 17

Waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan 'n kerk verbonde is, moet in hulle dienspligte sowel as in die ander opsigte volgens die oordeel van die kerkraad en, indien nodig, van die klassis, soveel moontlik gelykheid bestaan. Dit moet ook in die geval van die ouderlinge en die diakens onderhou word.

Artikel 18

Die dienspligte van die professore aan die Teologiese Skool is om bedienaars van die Woord op te lei, die Heilige Skrif uit te lê en die suiwere leer teen die ketterye en dwalinge te verdedig.

  1. Ooreenkoms tussen GKSA en NWU

  2. Tug oor professore (Acta 1994:462 – 465)

Artikel 19

Die kerke moet soveel nodig sorg dat daar studente in die Teologie is wat deur hulle ondersteun word.

  1. Oefening van preekgawes

Artikel 20

By die afsterwe van 'n bedienaar van die Woord moet die kerk wat hy gedien het of in die geval van 'n professor aan die Teologiese Skool, die kerkverband, sy weduwee en afhanklike(s) eervol in hulle nooddruf versorg.

  1. Reglement van die Gereformeerde Kerke Emeritaatsversorgings-kombinasie

  2. Reglement vir die GKSA Pensioenfonds

Artikel 21

Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.

  1. Ooreenkoms tussen GKSA en NWU

Artikel 22

Die ouderlinge word deur die gemeente onder die leiding van die kerkraad verkies volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. By hierdie reëling staan dit elke kerkraad vry om vooraf aan die gemeentelede geleentheid te gee om die aandag op geskikte persone te vestig en om saam met die diakens vir die verkiesing die nodige aantal ouderlinge aan die gemeente vir approbasie voor te dra of om tweetalle of 'n dubbele getal te stel waaruit die gemeente die nodige aantal kies. Die verkose broeders word, nadat hulle name verskillende male afgekondig is en geen wettige beswaar ingekom het nie, bevestig volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

  1. Formulier vir die bevestiging van ouderlinge en diakens

  • Formulier vir die bevestiging van ouderlinge

  • Artikel 23

    Die amp van die ouderlinge is, benewens dit wat hulle gemeenskaplik saam met die bedienaar van die Woord moet doen soos in artikel 16 neergelê, ook om toesig te hou dat bedienaars van die Woord, hulle mede-ouderlinge en die diakens hulle ampte getrou bedien; verder om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om die lidmate veral te vertroos en te onderrig en om ook ander tot die Christelike godsdiens op te wek.

    1. Funksionele differensiasie

    2. Huisbesoek by predikante en ouderlinge

    Artikel 24

    Wat gebruiklik is in die geval van die ouderlinge, moet ook onderhou word by die verkiesing, goedkeuring en bevestiging van die diakens.

    1. Formulier vir die bevestiging van diakens

    2. Formulier vir die bevestiging van ouderlinge

    Artikel 25

    Die amp van die diakens is om sorg te dra dat die gemeente hulle eenheid in Christus in daadwerklike onderlinge liefde beoefen. Hulle opdrag is om almal in die gemeente te besoek en uit die Skrif toe te rus en aan te spoor tot daadwerklike liefde teenoor almal, in besonder teenoor die medegelowiges; verder sien hulle toe dat niemand om watter rede ook al van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie. Die liefdesgawes moet sorgvuldig ingesamel, met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitgedeel word. Die diakens doen in die kerkraad verslag van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente soos wat die kerkraad dit geskik ag.

    1. Gebruik van opgeleide en bevoegde helpsters vir hulpdiens in diakonale arbeid

    2. Inhoud van die diakenamp (Acta 1982:468-469, art. 118)

    3. Versorging van armes buite die diakonie om

    Artikel 26

    Die diakens moet ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen, versoek om met hulle oorleg te pleeg sodat die gawes des te beter uitgedeel kan word onder die wat die meeste gebrek het.

    1. Die plek van die barmhartigheidsinrigtings in die kerkverband

    2. Konstitusie Kinderhuise

    3. Reglement SDDS

    4. Verhouding met die Residentia Stigting

    5. Artikel 27

      Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël soos hy tot die meeste stigting van die kerk ag. By periodieke aftreding na minstens twee jare diens of meer, moet 'n eweredige deel jaarliks aftree.

      Artikel 28

      Soos dit die plig van die owerhede as instellings van God is om aan die kerk en sy ampsdraers hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig.

      Artikel 29

      Kerklike vergaderings wat onderhou word, is: kerkraad, klassis, streeksinode en algemene sinode.

      1. Openlike Verklaring

      Artikel 30

      Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.

      1. Die roeping van die kerk in die volkslewe

      Artikel 31

      As iemand 'n klagte het dat hy deur die uitspraak van 'n mindere vergadering verontreg is, mag hy hom op 'n meerdere vergadering beroep. Wat met 'n meerderheidstem besluit is, sal vir vas en bindend beskou word, tensy bewys word dat dit met die Woord van God of die artikels van die Kerkorde in stryd is.

      1. Kworum

      2. Prosedure vir behandeling van appèlsake

      3. Reg tot repliek

      4. Stemming op kerklike samekomste

      Artikel 32

      Alle vergaderinge moet met aanroeping van die Naam van God geopen en met danksegging gesluit word.

      Artikel 33

      Die afgevaardigdes na die meerdere vergaderinge moet hulle geloofsbriewe en opdragte saambring, onderteken deur die wat hulle stuur; en elke afgevaardigde sal 'n keurstem hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk in die besonder aangaan.

      1. Konsep-geloofsbrief

      Artikel 34

      In alle vergaderinge moet by die praeses ’n skriba gevoeg word om noukeurig op te skrywe wat noodsaaklik opgeteken moet word.

      Artikel 35

      Op meerdere vergaderinge presideer ’n bedienaar van die Woord en die werk van die praeses is om voor te dra en te verduidelik wat behandel moet word, toe te sien dat elkeen op sy beurt spreek, om die wat redetwis en alte heftig spreek die swye op te lê en as hulle geen gehoor gee nie, die gepaste sensuur oor hulle uit te oefen. Sy amp hou op as die vergadering beëindig is.

      Artikel 36

      Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die streeksinode oor die klassis, die algemene sinode oor die streeksinode.

      Artikel 37

      In alle kerke moet ’n kerkraad wees wat bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge, wat gereeld vergader onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord of die bedienaars om die beurt as daar meer as een is.

      Artikel 38

      Waar ’n kerkraad vir die eerste maal of opnuut ingestel word, moet dit geskied met advies van die klassis. As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.

      1. Die naam van 'n kerk

      2. Grensreëlings

      3. Kerkseel

      4. Nuwe gemeentes

      Artikel 39

      Plekke waar nog geen kerkraad kan wees nie, moet deur die klassis onder die sorg van 'n naburige kerkraad gestel word.

      1. Verspreidwonende lidmate

      Artikel 40

      Die diakens moet gereeld saamkom om met die aanroeping van die Naam van God te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref en die bedienaar(s) van die Woord moet daaroor goed toesig hou en, indien nodig, daarby teenwoordig wees.

      Artikel 41

      Die klassis is 'n vergadering van naburige kerke wat elkeen 'n bedienaar van die Woord en 'n ouderling of, waar nie 'n bedienaar is nie, twee ouderlinge afvaardig. Die plek en die tyd van die volgende vergadering word deur die vorige vergadering bepaal. Op hierdie vergadering moet die bedienaars van die Woord om die beurt presideer of anders die een wat deur die vergadering gekies word, maar dieselfde bedienaar mag nie op twee agtereenvolgende vergaderinge gekies word nie. Die praeses moet onder andere vra of die kerke kerkraadsvergaderings hou, of die kerklike tug uitgeoefen word, of die armes en die skole versorg word en of daar iets is waarin 'n kerk die oordeel en die hulp van die klassis vir sy regte bestuur nodig het. Op die laaste vergadering voor die streeksinode moet die afgevaardigdes na hierdie sinode gekies word.

      1. Openlike Verklaring

      2. Toepassing van art. 41 en 44 KO

      Artikel 42

      Waar in 'n kerk meer as een bedienaar van die Woord is, kan ook die wat nie volgens die bogenoemde artikel afgevaardig is nie, in die

      klassis teenwoordig wees met adviserende stem.

      Artikel 43

      Aan die einde van die klassikale en ander meerdere vergaderings moet sensuur uitgeoefen word oor die wat iets tugwaardigs in die vergadering gedoen of die vermaning van die mindere samekomste verontagsaam het.

      Artikel 44

      Die klassis moet minstens twee van die oudste, mees ervare en geskikte bedienaars van die Woord as visitatore benoem om in alle kerke van die klassis gereeld kerkvisitasie te hou, vas te stel of die ampsdraers hulle ampte getrou waarneem, by die suiwerheid van die leer bly, die Kerkorde in alles onderhou, die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik na hulle vermoë bevorder, sodat hulle diegene wat nalatig in een of ander bevind word, betyds broederlik kan vermaan en met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk.

      1. Leidraad by die toepassing van art. 44 KO

      2. Toepassing van art. 41 en 44 KO

      Artikel 45

      Elke meerdere vergadering benoem 'n korresponderende kerkraad of deputate vir korrespondensie wat alle stukke en dokumente van die vergadering ontvang en bewaar en sy handelinge op die volgende vergadering besorg. Eweneens benoem elke meerdere vergadering 'n roepende kerkraad om die volgende vergadering op te roep en te ontvang op die vasgestelde tyd en plek of anders op die tyd en plek wat die roepende kerkraad in die geval van die streeksinode, volgens advies van sy klassis en in die geval van die algemene sinode, volgens advies van sy streeksinode, bepaal.

      1. Die Argief

      Artikel 46

      Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die voorgestelde punte nagegaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om iets te verander.

      1. Behandeling van beswaarskrifte

      Artikel 47

      Die streeksinode is 'n vergadering van naburige klassisse waarheen elke klassis 'n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge afvaardig soos deur die streeksinodes bepaal. Die streeksinode vergader jaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee klassisse noodsaaklik geag word om 'n buitengewone vergadering byeen te roep.

      1. Afvaardiging na streeksinode

      2. Openlike Verklaring

      3. Sekundi vir afvaardiging na meerdere vergaderings

      Artikel 48

      Onderskeie klassisse en streek sinodes onder kerke in algemene sinodale verband, kan met naburige klassisse, streeksinodes onderskeidelik, korrespondensie hou soos elkeen dit vir die algemene welsyn die beste ag.

      Artikel 49

      Elke meerdere vergadering benoem deputate om wat besluit is, uit te voer volgens 'n welomskrewe opdrag. Die streeksinode benoem in elk geval deputate om aan klassisse hulp te bied in voorkomende moeilikhede en om teenwoordig te wees by die proponents-eksamen (peremptoir). Vir die onderskeie belange, moet soveel moontlik afsonderlike groepe deputate benoem word. Hierdie deputate hou van al hulle handelinge notule om aan die meerdere vergadering verslag te doen. Slegs die betrokke meerdere vergadering kan hulle van hierdie opdrag onthef.

      1. Deputate vir hulp hierbo genoem - vgl. artikels 4, 11, 12, 13 en 79 KO

      2. Riglyne vir die opstel van rapporte

      Artikel 50

      Die algemene sinode is 'n vergadering van al die streeksinodes (of betrokke mindere vergaderings) waarheen elke streeksinode (of betrokke mindere vergadering) 'n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos die algemene sinode bepaal, afvaardig. Die algemene sinode vergader driejaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee streeksinodes (of betrokke mindere vergaderings) noodsaaklik geag word om 'n buitengewone vergadering byeen te roep.

      1. Openlike Verklaring

      2. Reglement van Die Administratiewe Buro

      3. Werkwyse van Algemene Sinode

      Artikel 51

      Die algemene sinode stel ’n sendingorde vas in sover algemene bepalings daarvoor nodig is.

      1. Sendingorde

      Artikel 52

      Kerklike korrespondensie en samewerking of kontak met kerke en kerklike instansies buite die algemene sinodale verband, word in 'n algemene sinode gereël.

      1. Korrespondensie - Algemeen

      2. Korrespondensie - Huidige praktyk

      Artikel 53

      Die bedienaars van die Woord en ook die professore aan die Teologiese Skool moet die drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-19 onderskryf en onderteken en die wat weier om dit te doen, moet metterdaad in hulle diens geskors word deur die kerkraad of klassis en in die geval van professore, deur die algemene sinode, totdat hulle hul daaroor volledig verantwoord het. As hulle hardnekkig weier, moet hulle heeltemal van hulle diens afgesit word.

      1. Ondertekeningsformulier vir bedienaars van die Woord

      2. Ondertekeningsformulier vir professore

      3. Tug oor professore (Acta 1991:731-733, pt. 2.1.6 - 2.1.11; Acta 1994:462 – 465)

      Artikel 54

      Ook die ouderlinge en die diakens en diegene wat deur 'n klassis as proponente toegelaat word, moet die genoemde Formuliere van Eenheid onderskryf en onderteken.

      1. Ondertekeningsformulier vir ouderlinge en diakens

      2. Ondertekeningsformulier vir proponente

      Artikel 55

      Om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf en om die valse leringe en dwalinge te weer, wend die bedienaars van die Woord en die ouderlinge by die uitoefening van hulle onderskeie ampte, by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek, die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning aan.

      Artikel 56

      Die verbond van God moet so spoedig moontlik aan die kinders van die Christene in die erediens met die Heilige Doop beseël word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

      1. Bediening van die doop

      2. Doop deur sektes bedien

      3. Doop van aangenome kinders

      4. Doop van kinders in inrigtings

      5. Doop van kinders in pleegsorg

      6. Doop van kinders van ouers wat nie belydenis van die geloof afgelê het nie

      7. Eenvormigheid van dooppraktyk

      8. Formulier vir die bediening van die heilige doop aan kinders

      9. Onnodige vertraging van die doop

      Artikel 57

      Die bedienaars van die Woord moet toesien dat die vader, moeder of voogde die doop vir hulle kinders aanbied.

      Artikel 58

      Die bedienaar van die Woord moet by die doop van klein kinders sowel as van volwasse persone die onderskeie formuliere gebruik wat daarvoor vasgestel is.

      1. Formulier vir die bediening van die heilige doop aan kinders

      2. Formulier vir die bediening van die heilige doop aan volwassenes

      Artikel 59

      Volwassenes word deur die doop in die kerk van Christus ingelyf en as lidmate van die kerk opgeneem en daarom is hulle verplig om die Nagmaal van die Here te gebruik soos hulle by hulle doop belowe het om te doen.

      1. Formulier vir die bediening van die heilige doop aan volwassenes

      Artikel 60

      Die name van die gedooptes en van hulle ouers of voogde sowel as die datums van geboorte en doop moet opgeteken word.

      Artikel 61

      Tot die Heilige Nagmaal word alleen diegene toegelaat wat volgens gebruik van die plaaslike kerk belydenis van die Gereformeerde godsdiens gedoen het en 'n goeie getuienis van 'n vrome wandel besit. Sonder sodanige getuienis moet ook diegene wat uit ander kerke kom, nie toegelaat word nie.

      1. (Gewone) Reisattestasie

      2. Aansluiting by 'n Gereformeerde Kerk

      3. Attestasie vir belydende lidmate en gesinne

      4. Attestasie vir dooplidmate

      5. Bewys van lidmaatskap

      6. Doop by (her)opname (vgl. doop deur sektes bedien by art. 56 KO)

      7. Formulier vir die aflegging van belydenis van geloof

      8. Noukeurige attestering

      9. Reisattestasie vir SANW, SAPD en Korrektiewe Dienste

      10. Reisattestasies

      11. Weiering om attestasie aan te vra

      Artikel 62

      Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.

      1. Formulier vir die viering van die heilige nagmaal

      2. Kelkies

      3. Lees van formulier

      4. Verkorte formulier vir die viering van die heilige nagmaal

      5. Verkorte formulier vir die viering van die heilige nagmaal (Moderne Afrikaans)

      Artikel 63

      Die nagmaal van die Here moet minstens elke drie maande gehou word.

      Artikel 64

      Die bediening van die nagmaal vind alleen in 'n erediens plaas onder toesig van die ouderlinge.

      Artikel 65

      Lykpredikasies of lykdienste mag nie ingevoer word nie.

      1. Begrafnis nie 'n erediens nie

      2. Lykverbranding

      Artikel 66

      In tye van oorlog, pestilensie, algemene volksrampe en ander groot beproewings waarvan die druk oral in die kerke gevoel word, moet die klassis wat daarvoor deur die algemene sinode aangewys is, 'n dag van verootmoediging en gebed uitskrywe.

      Artikel 67

      Die onderhouding van die Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag word aan die vryheid van die kerk oorgelaat.

      Artikel 68

      Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoonlik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan.

      Artikel 69

      In die kerke moet die 150 Psalms, die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Twaalf Artikels van die Geloof, die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing word. Ander skrifberyminge en Skrifgetroue liedere wat die sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die kerke gelaat.

      Artikel 70

      Kerkrade moet toesien dat die huwelik as heilige verbintenis in die Here aangegaan word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

      1. Afkondiging van huweliksgebooie

      2. Formulier vir die huweliksbevestiging

      3. Gemengde huwelike

      4. Grond vir egskeiding

      5. Huwelike sonder kerklike inseëning

      Artikel 71

      Die kerklike tug is geestelik, daarom is, afgesien van die burgerlike straf, die kerklike sensuur noodsaaklik om die eer van God te handhaaf, die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en die aanstoot uit die gemeente van Christus weg te neem.

        Tug oor dooplidmate

      Artikel 72

      As iemand dan ten opsigte van die suiwerheid van die leer of vroomheid van die wandel sondig, moet, in sover dit heimlik is en geen openbare aanstoot gegee het nie, die reël onderhou word soos Christus duidelik in Mattheus 18 voorskrywe.

        Vrymesselary

      Artikel 73

      Die heimlike sondes waaroor die sondaar berou het nadat hy deur een persoon afsonderlik of in teenwoordigheid van twee of drie getuies vermaan is, moet nie voor die kerkraad gebring word nie.

      Artikel 74

      As iemand, nadat hy deur twee of drie persone in liefde oor 'n heimlike sonde vermaan is, geen gehoor gee nie of 'n openbare sonde bedryf het, moet dit by die kerkraad aanhangig gemaak word.

      Artikel 75

      Die versoening oor alle sondes wat uit hulle aard of deur veragting van die kerklike vermaninge openbaar geword het, moet, as daar genoegsame tekens van boetvaardigheid is, in so 'n vorm en op so 'n wyse plaasvind soos elke kerkraad dit vir die stigting van die kerk nodig oordeel. Indien daar verskil is in die kerkraad oor die vraag of die versoening in bepaalde gevalle in die openbaar moet plaasvind, moet daaroor met advies van twee naburige kerkrade beslis word.

      Artikel 76

      Diegene wat hardnekkig die vermaning van die kerkraad verwerp en ook die wat 'n openbare of anders 'n growwe sonde gedoen het, moet van die sakramente van die Here afgehou word.

      Artikel 77

      Diegene wat na afhouding van die sakramente en na herhaalde vermanings geen teken van boetvaardigheid laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard, moet eindelik met die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk afgesny word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is. Die finale afsnyding moet voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente, waarin vermeld moet word wat die oortreding van die sondaar is, dat daar veel arbeid aan hom bestee is deur bestraffing, afhouding van die sakramente en menigvuldige vermaninge en dat hy hom nie bekeer het nie. In hierdie afkondiginge moet die gemeente opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom te bid. By die eerste afkondiging moet die naam van die sondaar, om hom enigsins te spaar, nie genoem word nie. By die tweede moet met advies van die klassis ook sy naam genoem word. By die derde moet aan die gemeente bekend gemaak word dat die sondaar, as hy hom nie bekeer nie, van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word, sodat sy afsnyding met die stilswyende bewilliging van die gemeente kan plaasvind as hy hardnekkig bly. Die kerkraad bepaal die tyd wat vir elke afsonderlike geval tussen die drie afkondiginge moet verloop.

      1. Formulier vir die ban of afsnyding van 'n lidmaat van die gemeente

      Artikel 78

      As iemand wat afgesny is hom weer deur boetvaardigheid met die gemeente wil versoen, moet dit - voor die viering van die Heilige Nagmaal, of anders wanneer dit geleë is - tevore aan die gemeente bekend gemaak word, sodat hy by die eersvolgende nagmaal, as niemand daarteen beswaar inbring nie, openlik met betuiging van sy bekering weer opgeneem kan word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

      1. Formulier om 'n afgesnyde lidmaat weer in die gemeente van Christus op te neem

      Artikel 79

      As ampsdraers 'n openbare growwe sonde bedryf wat in die kerk skandelik of ook by die owerheid strafbaar is, moet hulle deur die kerkraad dadelik voorlopig in hul amp geskors word; ouderlinge en diakens moet dan deur die kerkraad en 'n naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade in hulle amp geskors of daarvan afgesit word. Bedienaars van die Woord moet deur die kerkraad en deur die naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade egter net geskors word, waarna die klassis met advies van die deputate van die streeksinode oordeel of hulle heeltemal uit hulle amp afgesit moet word.

      1. Beroepbaarstelling van predikante wat bedank het

      2. Die woord "kerkraad" in art. 79 KO

      3. Eiewillige neerlegging van die amp

      4. Tug oor professore (Acta 1994:462-465)

      5. Tughandeling emerituspredikant

      6. Tughandeling oor ampsdraers

      Artikel 80

      Onder die growwe sondes wat skorsing in of afsetting uit die diens verdien, is die volgende die vernaamste: valse leer of kettery, openbare skeurmakery, openbare godslastering, simonie, trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van 'n ander, meineed, egbreuk, hoerery, diefstal, geweldpleging, gewoontedronkenskap, vegtery, onregverdige winsbejag - kortom al die sondes en misdade wat die bedrywer by die wêreld en die kerk eerloos maak.

      Artikel 81

      Die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens moet onder mekaar die Christelike sensuur uitoefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik vermaan.

      Artikel 82

      Aan diegene wat uit die gemeente vertrek, moet die kerkraad 'n attestasie (getuienis) van hulle belydenis en wandel saamgee wat deur twee van sy lede onderteken is.

      1. Attestasie vir belydende lidmate en gesinne

      2. Attestasie vir dooplidmate

      3. Bewys van lidmaatskap

      4. Formulier vir die aflegging van belydenis van geloof

      5. Noukeurige attestering

      6. Reisattestasie vir SANW, SAPD, Korrektiewe dienste

      7. Reisattestasies

      8. Voorstellingsvorm: buiteland

      9. Weiering om attestasie aan te vra

      Artikel 83

      Aan armes wat om gegronde redes uit die gemeentes vertrek, gee die diakens soveel middele as wat hulle nodig oordeel en hulle pleeg oorleg oor die verdere versorging met die diakens van die gemeente waarheen die armes vertrek het.

      Artikel 84

      Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.

      Artikel 85

      In middelmatige dinge moet die buitelandse kerke by wie ander gebruike as by ons in swang is, nie veroordeel word nie.

      Artikel 86

      Hierdie artikels wat betrekking het op die wettige orde van die kerk, is so opgestel en aangeneem met algemene stemme dat hulle, as die belang van die kerk dit anders vereis, verander, vermeerder of verminder kan word en behoort te word. Geen besondere kerk, klassis of sinode het egter die reg om dit te doen nie, maar hulle moet hul daarop toelê om dit te onderhou, totdat die algemene sinode anders verorden. 1.

      Bylaes by die Kerkorde

      Aansluiting by 'n Gereformeerde Kerk

      Elkeen wat uit 'n ander kerkgenootskap hom wil voeg by 'n Gereformeerde Kerk, moet deur die volle kerkraad of 'n kommissie uit die kerkraad ondersoek word oor die redes vir sy oorkoms (Acta 1873:48).

      Afvaardiging na Algemene Sinode

      1.1 Die streeksinodes vaardig 'n gelyke getal predikante en ouderlinge na die Algemene Sinode af; gelykstaande aan 16 predikante en 16 ouderlinge, d.w.s. 32 afgevaardigdes per streeksinode.

      1.2 Om die band met die onderskeie kerke te behou, word die volgende aanbeveel: Afvaardiging moet geskied volgens beginsel van die Kerkorde (artikel 41, 47, 50 KO). By afvaardiging moet die volgende onderhou word:

      1.2.1 Die streeksinode vaardig 'n gelyke aantal predikante en ouderlinge na die Algemene Sinode af.

      1.2.2 Uit elke klassis moet broeders afgevaardig word (Acta 1976:463-464).

      Afvaardiging na Streeksinode

      Die streeksinode bepaal die getal afgevaardigdes wat deur elke klassis in sy ressort gedeputeer moet word (Acta 1976:464, pt. C.3.3).

      Amp - eiewillige neerlegging

      Eiewillige neerlegging van die amp mag nie met kennisname afgehandel word nie. Omdat die uitwendige roeping van die kerk uitgaan, moet deur die kerk beslis word dat die eiewillige daad die reg om die werk van 'n bedienaar van die Woord uit te oefen, beëindig het. Dit word volgens die kerkordelike weg in artt. 79 en 80 KO gedoen: voorlopig deur die kerkraad en finaal deur die klassis met deputate van die streeksinode (Acta 1973:317).

      Appèlsake - prosedure vir behandeling

      (Goedgekeur deur Sinode 2015)

      1 Basiese riglyne vir appèlle

      1.1 ’n Appèl handel slegs oor die besluit waarteen geappelleer word en nie oor omringende oorwegings of aangeleenthede nie.

      1.2 Die doel van ’n appèl is uitsluitlik om moontlike onreg wat deur die betrokke besluit veroorsaak is of kan word, ooreenkomstig die Woord van God of die Kerkorde uit die weg te ruim.

      1.3 Alles moet in werking gestel word om vooroordeel uit die appèlproses te weer.

      1.4 Geen persoon mag regter in eie saak wees nie.

      1.5 Alle kante van die saak moet gestel kan word en moet aangehoor word.

      1.6 Hoewel alle tegniese, formele en prosedurele vereistes vir appèlle nagekom moet word, word bevindings oor appèlle op substantiewe en nie op bloot formele gronde nie, beslis.

      Aard van ’n appèl

      2.1 ’n Appèl kan ingevolge Kerkorde artikel 31 teen ’n spesifieke besluit of handeling van ’n kerkraad, ’n klassis of ’n streeksinode aangeteken word. Die appèl moet van ’n mindere na ’n meerdere vergadering wees.

      ’n Appèl kan slegs aangeteken word wanneer ’n besluit strydig is met –

      2.2.1 die Woord van God, en/of

      2.2.2 ’n bepaling van die Kerkorde,

      en die appellant deur die besluit of handeling verontreg is.

      2.3 Die beweerde verontregting moet betrekking hê op ’n kerklike aangeleentheid soos verwoord in Kerkorde artikel 30 waarby die appellant ’n regstreekse belang het.

      2.4 Die appèl moet dien tot eer van God, tot stigting van die kerk van Jesus Christus en die herstel van reg.

      3 Deputate vir appèl

      3.1 Elke meerdere vergadering wys ooreenkomstig Kerkorde artikel 49 uit die geledere van die mindere vergaderings waaruit die betrokke meerdere vergadering saamgestel is ten minste ses en hoogstens agt Deputate vir Appèl asook ’n voldoende aantal sekundi aan.

      3.2 Die Deputate word aangewys uit lidmate wat beskik oor die toepaslike kundigheid waaronder, maar nie beperk is nie, tot kundigheid oor die kerklike reg.

      3.3 Die Deputate kan persone met toepaslike kundigheid uit die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika koöpteer vir sover dit die beoordeling van die betrokke appèl kan bevorder.

      3.4 Elke meerdere vergadering begroot vir die uitgawes van Appèldeputate.

      4 Kennisgewing van appèl

      4.1 Aan beweerde regskrenking moet so spoedig moontlik aandag gegee word. Die appellant gee binne ses weke nadat hy redelikerwys kennis geneem het van ’n besluit van ’n kerklike vergadering waarteen hy wil appelleer, skriftelik kennis van sy voorneme om te appelleer.

      4.2 Hierdie kennisgewing moet gerig word aan die Skriba van die kerkraad of die Deputate Korrespondensie van die vergadering waarteen geappelleer word asook aan die Deputate Korrespondensie en die skriba van die Appèldeputate van die vergadering waarheen geappelleer word.

      4.3 Die Skriba of Deputate Korrespondensie van die vergadering teen wie se besluit geappelleer word erken binne 14 kalenderdae of so spoedig daarna as wat redelikerwys moontlik is ontvangs van die kennisgewing van appèl en voorsien verder so spoedig moontlik op versoek van die appellant die toepaslike inligting en dokumentasie in verband met die besluit waarteen geappelleer word.

      5 Inhoud van ’n appèl

      5.1 Die appellant moet die amptelike redaksie van die besluit waarteen hy appelleer in sy appèldokumente aanhaal.

      5.2 Die appellant moet die gronde vir sy beweerde verontregting in sy eie woorde duidelik uiteensit.

      5.3 Indien ’n appèl teen die uitspraak van ’n meerdere vergadering gerig word, moet die appellant ook aantoon wat die oorspronklike oorsaak van die beweerde verontregting is.

      5.4 Die appellant moet ’n duidelike uiteensetting gee van dit wat hy van die meerdere vergadering verwag.

      5.5 Indien ’n appèlskrif nie aan die vereistes wat in hierdie prosedure gestel word voldoen nie, kan die betrokke Deputate vir Appèl die geleentheid aan die appellant gee om binne ’n vasgestelde termyn regstellings te maak en die appellant indien nodig daarin bystaan.

      5.6 Die partye sal op aanvraag van die Deputate alle relevante dokumente beskikbaar stel, hetsy digitaal, hetsy skriftelik. Die Deputate het bevoegdheid om termyne vas te stel waarbinne die nodige samewerking gee word.

      6 Indiening van ’n appèl

      6.1 Die appellant voorsien die gevraagde aantal kopieë van die appèl en bylaes waar van toepassing aan die Skriba/Deputate van die betrokke mindere vergadering en die Deputate vir Appèl. Hy stel dit verkieslik ook elektronies beskikbaar.

      6.2 'n Appellant is self verantwoordelik vir alle persoonlike uitgawes wat met die appèl verband hou, behalwe dié van die betrokke Deputate vir Appèl.

      7 Beoordeling van ’n appèl

      7.1 Konstituering van Appèldeputate

      7.1.1 Wanneer Deputate vir Appèl saamgeroep word vir die aanhoor van ’n appèl, moet eerstens by eenparige besluit bevestig word dat elke deelnemende deputaat onbevange in die betrokke saak is.

      7.1.2 Indien dit in ’n spesifieke geval blyk dat ’n deputaat belang by ’n appèlsaak het waardeur ’n objektiewe oordeel bemoeilik mag word, moet ’n onbevange sekundus opgeroep word vir deelname aan die beoordeling van die appèl.

      7.2 Ontvanklikheid

      7.2.1 Ná konstituering moet die Deputate eerstens die ontvanklikheid van die appèl aan die hand van die volgende maatstawwe bepaal:

      7.2.1.1 die besluit waarteen geappelleer word, moet woordeliks volgens en met bewys van die amptelike redaksie daarvan aangehaal word;

      7.2.1.2 die gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit wees en voldoen aan die vereistes wat hierbo in 5 gestel word;

      7.2.1.3 daar moes binne die vasgestelde tyd soos bepaal in 4.1 kennis van appèl gegee wees.

      7.3 Partye

      Die appellant/e en respondent/e in die geskil word beskou as die partye wat by die oorsponklike beswaar betrokke was/is. Indien teen ’n uitspraak van ’n meerdere vergadering geappelleer word, word dié vergadering nie ’n party in die geskil nie.

      7.4 Vertroulikheid

      7.4.1 Die Appèldeputate moet aan die hand van die saak oordeel tot watter mate die appèlproses en -dokumente vertroulik hanteer moet word.

      7.4.2 Versoeke dat getuienis as vertroulik hanteer moet word, moet deur die Appèldeputate met die nodige omsigtigheid met die oog op geregtigheid hanteer word.

      7.5 Aanhoor van ’n appèl

      Die aanhoor van ’n appèl wat ontvanklik is, verloop soos volg:

      7.5.1 Die appellant kry die geleentheid om sy appèl, sowel as enige skriftelike getuienis persoonlik of met behulp van ’n toeligter aan die Deputate voor te lê en toe te lig.

      7.5.2 ’n Toeligter van die vergadering teen wie se besluit geappelleer word kry daarna die geleentheid om op die appèl te antwoord en aan te toon waarom die appèl nie behoort te slaag nie.

      7.5.3 Nadat die Deputate die toeligting van die appellant en die betrokke mindere vergadering aangehoor het, pleeg die Deputate in camera oorleg om te bepaal wat die geskilpunte is waaroor geoordeel moet word, en deel dit by die hervatting van die verrigtinge aan die appellant en die betrokke vergadering se toeligter mee.

      7.5.4 Indien die appellant getuies wil roep om oor die geïdentifiseerde geskilpunte ter ondersteuning van die appèl te getuig, kan die appellant of toeligter die getuienis lei.

      7.5.5 Tydens en na die lewering van getuienis kan die Deputate vrae aan die appellant, ’n toeligter of ’n getuie ter opheldering van die getuienis vra.

      7.5.6 Nadat ’n getuie vir die appellant getuig het, kan ’n toeligter van die vergadering teen wie se besluit geappelleer word in kruisondervraging aan die getuie vrae stel ter opheldering, vervollediging en kontrole van die korrektheid van die getuienis.

      7.5.7 Die appellant of toeligter van die appellant kan ná afhandeling van die kruisverhoor nog een maal vrae in herondervraging aan die getuie stel, maar slegs oor aspekte wat tydens die kruisondervraging aangeraak is.

      7.5.8 Elke getuie vir die appellant word volgens die voorgaande prosedure ondervra, waarna die toeligter van die mindere vergadering teen wie se besluit geappelleer word getuies kan roep.

      7.5.9 Die getuies vir die betrokke vergadering word volgens dieselfde prosedure soos in paragrawe 7.5.4 tot 7.5.7 hierbo uiteengesit ondervra, onder kruisondervraging geneem en herondervra.

      7.5.10 Nadat al die getuies vir die betrokke vergadering aangehoor is, kry eers die appellant of toeligter van die appellant geleentheid om die Deputate toe te spreek oor die vertolking van die getuienis en daarna die verteenwoordiger of toeligter van die betrokke vergadering.

      7.5.11 Van al hierdie besprekings word ’n verslag opgestel.

      7.5.12 Indien die Deputate dit nodig vind, kan bykomende getuies uit eie beweging opgeroep word om tydens die sitting en in die teenwoordigheid van die appellant en die verteenwoordiger of toeligter van die betrokke vergadering verdere lig op die saak te werp.

      7.5.13 Na afhandeling van al die getuienis en betoë word die verrigtinge tydelik verdaag, die Deputate pleeg oorleg en formuleer ’n voorlopige bevinding.

      7.5.14 Wanneer die verrigtinge hervat word, maak die Deputate aan die appellant en die betrokke vergadering se verteenwoordiger of toeligter die voorlopige bevinding bekend en gee dan eers aan die appellant en daarna aan die betrokke vergadering se verteenwoordiger of toeligter die geleentheid om kommentaar daarop te lewer, waarna die appellant repliek mag lewer. Die Deputate toon aan of die aanvanklike bevinding deur die repliek gewysig word. Die Deputate het die bevoegdheid om ’n geskil te skik wat tot terugtrekking van die appèlskrif sal lei.

      7.5.15 Indien die partye tydens die proses tot versoening kom, verklaar die deputate die appèl as afgehandel.

      7.6 Rapport

      Die Appèldeputate stel ’n finale rapport op waarin die volgende gemeld word:

      7.6.1 ’n Kort historiese oorsig en samevatting van die inhoud en verloop van die saak, onder andere die weergawe van die besluit/e of handeling van die mindere vergadering waaroor die geskil aanvanklik begin het.

      7.6.2 ’n Samevatting van die beswaargronde wat die appellant aangevoer het.

      7.6.3 ’n Samevatting van die reaksie op die appèl wat die mindere vergadering aan die Deputate voorgelê

      het.

      7.6.4 ’n Oorsig oor die prosedure wat die Deputate by die beoordeling van die appèl gevolg het.

      7.6.5 Die Deputate se bevinding aan die hand van ’n ontleding en beoordeling van die gronde waarop die appèl berus, die getuienis wat voorgelê is en die toepassing van die Skrif en/of die bepalings van die Kerkorde daarop.

      7.6.6 Die uitspraak dat die appèl toegestaan word of van die hand gewys word.

      7.6.7 Waar van toepassing, ’n uiteensetting van die regsgevolge van die uitspraak.

      7.6.8 Waar van toepassing, aanbevelings aangaande ’n pastorale weg om die regskending of foutiewe persepsie daarvan uit die weg te ruim.

      7.6.9 Indien die Deputate vir enige rede nie ’n bevinding kan maak of ’n uitspraak oor die appèl kan gee nie, rapporteer die Deputate die redes daarvoor aan die betrokke vergadering wat dan verder met die meerdere advies van die betrokke kerke met die appèl handel.

      8 Rapportering oor ’n appèl

      8.1 Die Rapport van die Appèldeputate dien soos enige ander Deputaterapport op die eersvolgende vergadering.

      8.2 Slegs die Rapport van die Deputate word, sonder verdere toeligting deur die appellant of die betrokke mindere vergadering, ter tafel geneem. Aan die appellant en toeligter word geen spreekbeurt gegee nie.

      8.3 Voordat die vergadering oor die Rapport van die Deputate besin en besluit, verlaat alle persone wat betrokke was by die besluit van die betrokke mindere vergadering asook die appellant, indien teenwoordig, die vergadering.

      8.4 Indien die betrokke vergadering die werkwyse van die Deputate goedkeur, is die appèl dienooreenkomstig beslis.

      8.5 Indien die betrokke vergadering nie die werkwyse van die Deputate goedkeur nie, moet skriftelike redes daarvoor en ’n gemotiveerde alternatiewe uitspraak deur die vergadering aan die appellant en die betrokke mindere vergadering verstrek word, by gebrek waarvan die Deputate se bevindings en aanbevole uitspraak geag word die bevindings en uitspraak van die betrokke vergadering te wees.

      8.6 Die vergadering moet die wyse waarop die saak afgehandel word, nadat uitspraak gelewer is, goedkeur (sien Acta 2012:28 pt 2.7.8.4).

      9 Onvoorsiene gevalle

      In gevalle waar hierdie prosedure nie voorsien nie, tref die Algemene Sinode ’n reëling.

      Argief

      (Acta 1961:362-364)

      I Die Sinode is van gevoele dat alle kerklike argiewe op een plek behoort bymekaar gebring te word en meen dat die Teologiese Skool op Potchefstroom die aangewese bêreplek is (Acta 1933:124).

      II Die argief bestaan uit die dokumentêre, gepubliseerde en fotoneerslae van:

      A Die meerdere vergaderinge van die Gereformeerde Kerke met hulle aanverwante organisasies, deputategroepe en mandaathouers. Aan alle te benoemde deputategroepe word opgedra om die argiewe in hulle besit onder oë te sien en sover moontlik te sentraliseer in die kerke-argief.

      B Die kerkrade van die Gereformeerde Kerke, met hulle aanverwante organisasies, kommissies en mandaathouers.

      C Privaatfamilies of individue wat bergingsruimte by die deputate vir die Kerke-argief verkry.

      D Aanwinste, wat gekeur word deur die deputate.

      III Die Sinode besluit dat alle stukke van meerdere vergaderinge ouer as tien jaar na die sentrale argief gestuur moet word en daarna jaarliks aangevul moet word deur die stukke van die oudste jaartal. Streeksinodes en klassisse word gemaan om aandag te gee aan die indeksering, liassering, bewaring en berging van hulle onderskeie argiefstukke.

      IV Insake die argiewe van die onderskeie kerkrade, waarvan die kerkrade die juridiese eienaars is maar die kerkverband die argivariese versorging en veilige bewaring behartig, word besluit om te onderskei tussen 'n verouderde en nog lewende deel.

      A Die verouderde deel sal, ooreenkomstig die staatsargiefwet, bestaan uit die kerkraadnalatenskap ouer as 50 jaar. Hierdie verouderde deel, bestaande uit notule-, korrespondensie-, finansiële en kommissie-, organisatoriese en verwante neerslae, behoort alleen in die sentrale kerke-argief gehuisves te word. Dit bly die eiendom van die betrokke kerkraad. Omdat die kerverband hoë koste en arbeid bestee aan die veilige en ordelike bewaring hiervan, word deur die kerke ooreengekom dat hierdie verouderde deel nie uit die kerke-argief onttrek mag word sonder die toestemming van die deputate vir die Kerke-argief nie. Die aansoeke vir onttrekking sal meld

      1 presies watter stukke (op die indeks aangedui) benodig word;

      2 watter periode dit buite die argief sal verkeer;

      3 watter voorsorgmaatreëls getref word vir absolute veiligheid by vervoer en berging buite die argief. Met die verouderde argiewe mag deur geen enkele instansie enige risiko geneem word nie, omdat die waarde daarvan onberekenbaar en onherstelbaar is.

      B Die nog lewende deel bestaan uit die nalatenskap jonger as 50 jaar. Hierdie nog lewende kerkraadsargiewe moet en kan ook in die argief geberg word. Verlof om dit uit te neem kan egter van die argivaris alleen verkry word, as aan die voorwaardes onder 4.1. hierbo vermeld voldoen is.

      V Familie- en/of persoonlike versamelings is onderworpe aan die bepalings hierbo gestel vir verouderde kerkraadsargiewe.

      VI Aanwinste word die uitsluitlike eiendom van die argief van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

      VII Die raadpleging van dokumente geskied onder dieselfde reëls as wat in die Argiefwet neergelê is vir staatsargiewe. Aan die deputate word opgedra om 'n behoorlike reglement vir navorsers op te stel met betrekking tot toesig, besoekersboek, aansoekstrokies, inventarisse ens.

      VIII Elke kerkraad behou die reg om spesiale voorwaardes te stel vir die gebruik van sy argief; dit moet in die inventaris by die stukke opgeneem word en navorsers is daaraan verbonde.

      IX Waar kerkrade of ander dokumenteienaars geen spesiale voorwaardes gestel het nie, geld die volgende: Die nog lewendige argief van 'n kerkraad mag alleen met skriftelike toestemming van daardie kerkraad geraadpleeg word.

      Artikels 12 tot 14 KO - samehang

      Die sinode van 1967 het die volgende rapport aanvaar:

      1 Opdrag: Die opdrag word gevind in die Handelinge van die Sinode (1964), art. 57 C.

      2 Inleiding: Die beskrywingspunt in die opdrag genoem, het betrekking op die uitwerking van die toepassing van Kerkorde, arts. 13 en 14 op die posisie, bevoegdhede, regte en pligte van predikante. Aangesien die beskrywingspunt van die Westelike Klassis (Acta 1964:100-101, pt. C) meer bepaald 'n praktyk in gedagte het wat voortgevloei het uit die besluite van 1939 en 1942 in hierdie opsig, is dit nodig om die samehang van arts. 12, 13 en 14 van die Kerkorde kortliks na te gaan.

      Omdat 'n bedienaar van die Woord normaliter voltyds en lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, moet die Kerkorde gevalle van eervolle ontslag uit die amp (art. 12), emeritering (art. 13) en onderbreking van diens vir 'n tyd (art. 14) orden.

      In art. 12 word voorsiening gemaak vir eervolle ontslag sodra die predikant oorgaan na 'n ander staat van lewe en dus sy amp as bedienaar van die Woord neerlê om gewigtige redes (volgens die oordeel van die kerkraad en klassis).

      In art. 13 word voorsiening gemaak vir emeritering wanneer 'n bedienaar van die Woord vanweë ouderdom, siekte of ander oorsake buite sy beheer permanent onbekwaam geword het om sy dienspligte uit te voer.

      In art. 14 word voorsiening gemaak vir die tydelike onderbreking van die dienswerk van 'n predikant wanneer hy weens siekte of andersins tydelik nie sy ampswerk kan verrig nie.

      Samevattend word gekonkludeer dat elkeen van hierdie artikels 'n bepaalde vorm van ontheffing uit die amp (art. 12 KO) en uit die ampswerk (art. 13 en 14 KO) orden. Aangesien elke artikel ook 'n bepaalde grond vir die ontheffing het, mag die een artikel nie gebruik word om 'n ander kragteloos te maak nie. 'n Predikant wat onder art. 13 of 14 van sy ampswerk onthef is, is by oorgang tot 'n ander staat van lewe nog steeds onderworpe aan art. 12, KO" (Acta 1967:59).

      Artikels 41 en 44 KO - samehang en toepassing

      Op die vergadering van die eerw. Klassis Reddersburg van 12 Oktober 1954 het ʼn rapport gedien oor die geskiedenis, betekenis en samehang en die toepassing van artikels 41 en 44 KO Aangesien die Klassis in hierdie rapport tot die konklusie gekom het dat die Algemene Sinodes van 1927, 1930, 1939 en 1945 ʼn historiese wording t.o.v. die toepassing van hierdie artikels in ons Kerk in Suid-Afrika waarskynlik verkeerdelik bestendig het, en aangesien die bevindings in die rapport ook daarom van belang is vir ons hele Kerk, het die Klassis dit goed geag om die rapport aan die eerw. Algemene Sinode voor te lê sodat sake betreffende die toepassing van die artikels in ons Kerk in die reine gebring kan word.

      Die rapport lui soos volg:

      1. Geskiedenis van artikels 41 en 44 KO

      a. Artikel 41.

      In die jare pas na die Hervorming is deur die gereformeerdes die noodsaaklikheid van ʼn soort onderlinge toesig oor die gemeentes en kerkrade ingesien. Hierdie toesig is hoofsaaklik aan die klassis opgedra en het o.a. gehandel oor die leer van die predikante en die “regte bestuur” van die kerkrade (met “regte bestuur” word bedoel die regering en die organisasie van die gemeentes). Om nie weer terug te val in die Roomse hiërargie met sy supervisie van bo nie en om tog toesig te hou oor die gemeentes waarvan die lidmate nog maar pas die Roomse juk afgegooi het, is die toesig op ʼn gemeenskaplike en onderlinge basis gereël. Op die klassisvergaderinge is by wyse van vrae deur die praeses gestel sekere toesig gehou oor die gemeentes. Hierdie toesig of ondersoek is moontlik gemaak en het met die vrug gewerk omdat die klassisse baie dikwels vergader het (sommige selfs maandeliks), en dit is noodsaaklik geag omdat allerlei verkeerde dinge nog gebeur het en kon gebeur en omdat die gemeentes besonder op mekaar aangewys was, veral ook wat goeie raad aangaande die regte bestuur betref het. Die klassis het daarom ook om die beurt in die verskillende gemeentes vergader om enige gedagte aan hiërargie teen te gaan en om die gelykheid in gesag van die gemeentes te beklemtoon. Die sake van die gemeente wat die klassis ontvang het, kon dan ook van naby deur die vergadering ondersoek word. Op hierdie wyse kon daar op die vergaderinge van die klassis deur die vrae van die praeses onderlinge toesig gehou word, terwyl t.o.v. die gemeente waar vergader is, die ondersoek enigsins breedvoeriger was.

      Aanvanklik het hierdie toesig, sover dit artikel 41 aangaan, die drie besondere ampte en die uitoefening daarvan deur die ampsdraers gedeeltelik ingesluit. Die toesig oor die leer van die predikante, wat plaasgevind het as die predikante om die beurt op die klassisvergaderinge ʼn predikasie gelewer het, het later weggeval, omdat die opleiding baie verbeter het. Hierdie toesig oor die leer is daarna visitatore opgedra. Vir die onderlinge toesig het oorgebly die vrae soos dit staan in artikel 41 KO en waarin die aksent val op die regering en die organisasie van die gemeentes.

      In ons Kerk in Suid-Afrika het die toepassing van artikel 4 (en ook artikel 44) vir die eerste keer ter sprake gekom op die Algemene Sinode van 1873. Uit die O.V.S. het ʼn beskrywingspunt gedien oor artikel 44 KO waaruit geblyk het dat die Algemene Vergadering van die O.V.S. jaarlikse kerkvisitasie aangevra het. Ook uit die Kaapkolonie het die Algemene Vergadering gevra dat die Sinode ʼn stel vrae moes opstel wat deur die Algemene Vergadering “als eene classicale vergadering dient te doen aan elke gemeente, volgens artikel 41 KO” In antwoord op hierdie twee beskrywingspunte het ds. D. Postma ʼn ontwerp van vrae voorgelê volgens daardie artikel “en die instede van kerkvisitatie vooreerst kunnen dienen.” Hierdie konsep het uit 10 vrae bestaan, maar die Algemene Sinode het nog een bygevoeg, wat navraag gedoen het oor wat in die gemeente gedoen word vir die uitbreiding van Gods Koninkryk.

      Hier vind ons dus die belangrike besluit dat die vrae wat opgestel is deur die Sinode van 1873 en later in 1939 tot 12 vermeerder is, onder artikel 41 KO gevra moes word “instede van kerkvisitatie.” (By die opstelling van hierdie 11 en later 12 vrae vir artikel 41 is klaarblyklik sekere vroeëre visitasie – reglemente gevolg; daar was blykbaar t.o.v. die toesig soos in artikel 41 bepaal, nooit enige reglement of selfs nader uitwerking van die vrae nie, behalwe dat vroeër die volgende vrae ook nog voorgekom het: “of zij eenigen strijd hebben met eenig hoofdstuk der Leere?” (Acta Emdensche Sinode 1571. Vgl. P. Biesterveld en H.H. Kuyper: Kerklike Handboekje, bl. 56.) Dieselfde geld vir Art. XIV Acts Nas. Sinode Dordrecht 1578 (a.w., bl. 105). In art. XXX KO Nas. Sinode Middelburg 1581 (a.w., bl. 149) en art. XXXVIII KO Nas. Sinode ‘s-Gravenhage 1586 (a.w., bl. 201) en art. XLI van die KO Nas. Sinode Dordrecht 1618-19 (a.w., bl. 236) is hierdie vrae aangaande die leer en Die ketters egter weggelaat en het hulle, gewysig en uitgebrei, voorgekom in visitasiereglemente en artikels in kerkordes wat op visitasie betrekking het.)

      Artikels 41 en 44 is dus in 1873 saamgevoeg in ons kerklike praktyk, en dit is opmerklik dat die Algemene Sinode van 1927 wel die woorde “instede van kerkvisitasie” geskrap het maar verder geen aandag geskenk het aan die saak om die twee artikels tot hulle reg te laat kom nie. Dit het selfs ook nie gebeur toe die Algemene Sinode van 1930 gevra is om die noodsaaklikheid van kerkvisitasie te beklemtoon nie, want toe is besluit: “Die Sinode verwys die kerkraad van Johannesburg-Oos na die Klassis waaronder hy sorteer.”

      Die feitlike toestand is dus vandag dat artikels 41 en 44 KO in 1873 saamgevoeg is met ʼn stel vrae wat onder artikel 41 gevra moes word en waardeur die Algemene Vergadering ʼn totaalbeeld kon kry oor die kerklike lewe van die provinsie. Hierdie toestand is bestendig toe in 1927, 1930, 1939 en 1945 wel aandag geskenk is aan die vrae maar nie aan die Kerkorde-artikels nie.

      B Artikel 44.

      Kerkvisitasie is die instel van ʼn ondersoek na toestand van die gemeente, en dit is so oud as die kerk self (vgl. Hand. 9:32 in H. Bouwman: Gereformeerde Kerkrecht, bl. 163). In die Roomse Kerk het die visitasie ʼn belangrike kenmerk geword van die hiërargie, en daarom was die gereformeerdes nie ten onregte bang vir hiërargie in die kerklike lewe deur middel van visitasie of visitatore nie. Aanvanklik is hierdie soort kerklike toesig of ondersoek ook nie noodsaaklik geag nie, aangesien die klassisse dikwels vergader het en die onderlinge toesig of ondersoek op die klassisvergaderinge in hierdie behoefte voorsien het.

      Gaandeweg het visitasie tog noodsaaklik geword, omdat die kerklike lewe meer gereeld geword het, die klassisse minder dikwels vergader het en daar ʼn aantal predikante en gemeentes was wat hulle nie alte veel aan die kerkverband en meerdere vergaderinge gesteur het nie. Dit het ook later om verskillende redes moeilik geword om die toerbeurt van die plek van die vergaderinge vol te hou, sodat ʼn belangrike deel van die onderlinge toesig weggeval het (vgl. Ook art. 41 hierbo). Klassisse en gemeentes wat visitasie bepleit het, vanaf 1581 reeds, het daarop gewys dat ʼn geheelbeeld van ʼn gemeente nodig is vir deeglike klassistoesig en dat jaarlikse visitasie so ʼn beeld aan die klassis kan gee; meteen kan ook enige moeilikhede of vraagstukke wat in die gemeentes mag ontstaan, betyds ter hand geneem en opgelos word.

      Op die Sinode van Dordrecht 1618-19 is besluit om die visitasie verpligtend te maak vir alle klassisse en ʼn breë omskrywing van die taak van visitatore is gegee; die bepalinge is as artikel 44 in die D.KO opgeneem. Die bedoeling van die Sinode was om meerdere vastigheid aan die kerklike lewe te gee deur gereelde visitasie van die gemeentes, maar daar is tewens gewaak daarteen dat hiërargiese suurdeeg in die gereformeerde kerkregering binnegeloods sou word. “Er is volstrekt geen sprake in artikel 44 van een administratief of statistisch onderzoek, of een onderzoek naar de kerklijke gebouwen, neen, die kerkvisitatie dient allereerst om voor die zuiverheid van de leer te waken, in de tweede plaats om toe te zien dat naar de orde der kerken geleeft wordt, en ten slotte om de kerken met goeden raad te steunen” (Bouwman: a.w; bl. 166).

      (In hierdie verband is dit goed om op te merk wat Bouwman sê oor die karakter van die vistitasie in die provinsie Groningen (a.w. bl. 169): “Ofschoon deze wijze van visitasie ... gaande zoowel over stoffelijke en geestelijke zaken, bevorderlijk was voor de ... reformatie in de provincie Groningen, is zij mede een middel geweest voor de verbastering der visitatie in ongereformeerde geest.’’)

      In Suid-Afrika vind die visitasie plaas volgens artikel 44 K.O en visitasiereglemente wat deur die klassisse kragtens artikel 44 opgestel word. Hier moet ook opgemerk word dat meeste visitasiereglemente gebruik maak van die 12 vrae wat in die loop van die tyd opgestel is vir die toepassing van art. 41 KO met die byvoeging van ʼn aantal vrae wat meer op die stoflike en administratiewe aangeleenthede betrekking het.

      2. Die betekenis en samehang van artikels 41 en 44 KO

      Uit die voorgaande historiese oorsig van die artikels 41 en 44 KO blyk die volgende sake betreffende die betekenis en samehang van die artikels:

      a. Die artikels het altwee te doen met klassistoesig oor die gemeentes. Die toesig was aanvanklik slegs op ʼn onderlinge en gemeenskaplike basis en het gegaan om die suiwerheid van die leer, die uitoefening van die besondere ampte en die regte bestuur in die gemeentes. Later het die toesig ook partikulier plaasgevind deur visitatore en is die sake betreffende die suiwerheid van die leer, die uitoefening van die ampte en die toepassing van die Kerkorde bepaaldelik aan visitatore opgedra. Die toesig op die klassisvergadering is toe meer bepaal by sake betreffende die regte bestuur (regering en organisasie) van die gemeentes.

      b. Die gees en betekenis van artikel 41 laat derhalwe die aksent val op die regte bestuur of instelling (regering en organisasie) van die gemeentes. Wat die sake betref, noem die artikel slegs die kerkraadsvergaderinge, die tug en die versorging van die armes en die skole. Om die organiese karakter van die KO egter ook in hierdie artikel te bly bewaar, d.w.s. om o.a. nie onnodig te reglementeer nie, lui die artikel: “Verder moet die praeses onder ander elkeen afvra ... “ (vgl. KO art. 41). Of soos dit oorspronklik gelui het in die Acta van die Emdense Sinode:” ... en diergelijke dingen meer” (Kerkelijk Handboekje, bl. 56). Hiervan sê Van Dellen en Monsma (The Church Order Commentary, bl. 189): “The president of classis should therefore feel free to vary the prescribed or suggested questions as he deems best, and to add other questions as circumstances may demand.”

      Aangesien hier as laaste vraag nog bykom of daar iets is waarvoor die gemeente die oordeel of hulp van die klassis vir die regte bestuur van hulle kerk nodig het, lê dit voor die hand dat artikel 41 nie ʼn vaste reglement t.o.v. die onderlinge toesig wil wees nie maar dat die praeses van die klassis na gelang van omstandighede moet besluit wat gevra word t.o.v. die regering en organisasie van die gemeentes en watter vrae voorrang moet geniet. Dit is derhalwe geensins die doel van artikel 41 om by die klassisvergadering deur middel van vrae die hele veld vn die gemeentelike aangeleenthede te dek nie. (hoewel die doel van die 12 vrae wat by hierdie artikel bygevoeg is, soos dit uiteengesit is in die historiese gedeelte wat Suid-Afrika betref, juis daarop bereken was om ʼn geheelbeeld van die gemeentes en gemeentlike aangeleenthede te kry “instede van kerkvisitatie”).

      c. Hierteenoor staan die toesig en ondersoek van artikel 44 by wyse van visitasie in opdrag van die klassis, wat enigsins gereglementeerd toegaan om ʼn geheelbeeld van die gemeentes te kry. In die visitasie val die aksent op die leer en die Kerkorde, en dit veronderstel derhalwe ʼn ondersoek in besonderhede van die ampsdraers en die uitoefening van die ampte t.o.v. die gereformeerde leer en kerkregering. Dit is noodsaaklik dat gewaak word teen ʼn oorbeklemtoning (of selfs beklemtoning) van ʼn ondersoek na die stoflike en administratiewe aangeleenthede van ʼn gemeente. Eintlik is so ʼn ondersoek nie gewens nie, tensy die kerkraad en gemeente dit verlang.

      d. Die klassis vergader volgens artikel 41 elke kwartaal, en volgens artikel 44 word die gemeentes jaaliks gevisiteer. Dit beteken dat die klassis elke jaar ten volle onderling en spesiaal of partikulier oor al die gemeentes toesig kan hou naamlik:

      (1) t.o.v. die regte bestuur (regering en organisasie) van al die gemeentes deur variëring van die betrokke vrae en aanbieding van raad en hulp en oordeel (art.41),

      (2) en t.o.v. die leeren kerkordelike aangeleenthede van al die gemeentes om moeilikhede in die opsig te voorkom en probleme op te los en die gemeentes van klassishulp en raad te dien (art. 44).

      e. Ons eerwaarde Klassis en ook ander klassisse van ons Kerk voel egter i.v.m. die klassistoesig oor die gemeentes kragtens artikels 41 en 44 KO ʼn mate van dubbelslagtigheid en duplikasie en oorvleueling. Die gevoel is oorsaak daarvan dat sommige klassisse artikel 41 nie meer toepas nie en dat die toepassing van hierdie artikel in ander klassisse saam met die toepassing van artikel 44 ʼn lang en saai en tydrowende vergadering as gevolg het. Die oorsaak van hierdie toestande wat sekerlik nie deur die betrokke artikels gewens word nie is o.a. die gelykskakeling van die artikels deur die Sinode van 1873 en die bestendiging van die gelykskakeling deur die Sinode van 1927, 1930, 1939 en 1945, ten spyte van die feit dat ons kerklike lewe so ontwikkel het dat visitasie algemeen ingevoer kon word.

      Die handhawing van die 12 vrae by artikel 41 berus dus op ʼn gelykskakeling van artikels 41 en 44 in die verlede wat nou nie meer nodig is nie; sodra as artikel 44 in die praktyk toegepas word, moet die 12 vrae van art. 41 wegval, anders sou dit ʼn ongewenste reglementering van die artikel beteken wat die organiese betekenis daarvan grootliks laat verlore gaan.

      Die twaalf vrae sou inderdaad beter by artikel 44 gepas het as ʼn sinodale leiding vir die klassisse t.o.v. visitasie. In die praktyk het meeste klassisse daarom ook hierdie vrae in hulle visitasiereglemente geïnkorporeer.

      3. Die toepassing van artikels 41 en 44 KO

      Vir die goeie toepassing van artikels 41 en 44 KO wens ons nou die volgende aan die eerw. Klassis voor te lê:

      a. Toesig oor die gemeentes volgens artikel 41 en 44 vorm ʼn belangrike deel van elke klassisvergadering. Dit is ook duidelik dat op elke klassisvergadering sowel die onderlinge as die partikuliere toesig aanvullingderwys behoort plaas te vind en dat ʼn praktyk om slegs een van die artikels op ʼn vergadering te laat werk, nie of in elk geval minder gewens is, of deurdat dit by wyse van weglating van artikel 41 geskied of dat die artikels al om die ander vergadering alleen in werking is.

      b. Om op elke klassisvergadering sowel die onderlinge (art. 41) as die partikuliere (art. 44) toesig te laat plaasvind sonder om die agenda te oorlaai, stel ons die volgende voor:

      (1) Die praeses (of die klassis) besluit welke vraag of vrae na gelang van omstandighede en aktualiteit benewens (of ook sonder) die vrae in art. 41 KO genoem, op die volgende vergadering gestel sal word, sodat die gemeentes die vraag of vrae desverkiesend skriftelik kan beantwoord. Die belangrikheid van die vraag of vrae eerder as die hoeveelheid vrae moet beklemtoon word.

      (2) Die kerkrade behoort ruim gebruik te maak van hierdie onderlinge toesig deur met vrymoedigheid die oordeel of hulp van die klassis aan te vra vir die regte bestuur van die gemeentes. Mede hierdeur kan die klassis ook vasstel of partikuliere toesig deur spesiale visitasie miskien nodig is.

      (3) Visitatore dien daarop te let dat die eintlike visitasie handel oor die suiwerheid van die leer, die uitoefening van die ampte, die toepassing van die KO en die noodsaaklikheid of gewenstheid van raad of hulp van die klassis. Ons haal met aanbeveling aan: “Visitors should not dwell overly long on matters which are of minor import. They should conserve their time for matters of greater import. Certain matters require a very brief annual check-up, as a matter of safety. But the greatest amount of good proceeds from the work of Church Visitors if they will reduce the routine aspect of their labours to a minimum and individualize their work in each Church stressing those matters which require special attention. They should by all means so arrange their work that ample time will Be left for the consideration of questions which the Consistory may desire to present’’ (Van Dellen en Monsma, a.w., bl. 198). Die rapport wat oor die visitasie aan die klassis voorgelê word, moet dan ook by voorkeur sodanig wees dat juis die belangrike aspekte van die toesig beklemtoon word.

      (4) Die 12 vrae genoem by artikel 41 (bl. 65 en 66 KO) word nie in die Onderlinge toesig van toepassing gemaak nie maar kan moontlik as ʼn leidraad by die toepassing van artikel 44 gebruik word.

      c. Omdat die klassis nie kwartaalliks nie maar hoogstens twee keer in die jaar vergader, is dit in die praktyk moeilik om die gemeentes jaarliks te visiteer, en dit vermeerder ook die aantal visitasierapporte wat op die vergaderinge behandel word. Dit moet egter aanbeveel word dat die klassis s gou as omstandighede dit toelaat, vier keer per jaar sal vergader en dat die gemeentes jaarliks gevisiteer sal word. Onses insiens laat omstandighede dit al toe.

      Die Sinode van 1952 (Acta, bl. 234) het ʼn besluit geneem i.v.m. artikels 41 en 44. Die saak is toe na die onderskeie Klassisse verwys. Ons wil egter daarop wys dat agtereenvolgende algemene sinodes, soos ons in hierdie rapport probeer aantoon, die regte toepassing van artikels 41 en 44 deur hul besluite in die weg staan; gevolglik is dit die aangewese weg dat die Algemene Sinode sy aandag by vernuwing aan hierdie saak sal gee. Ons wil ook net meld dat die kommissie van die Klassis wat hierdie saak in studie geneem en daaroor gerapporteer het bestaan het uit dr. K. S. Van Wyk de Vries en dr. P. J. Coetzee

      Artikel 44 KO - moontlike leidraad by visitasie

      Vraag 1: Of daar in die reël op die dag van die Here tweemaal gepreek word en of by afwesigheid van die predikant die leesdienste getrou waargeneem word en of die bywoning van die dienste deur die gemeente goed is?

      Vraag 2: Of daar elke Sondag eenmaal volgens kategismus gepreek word en of die bywoning deur die gemeente goed is?

      Vraag 3: Of Sondae en in die week ook met die jeug gekatkiseer word en of die kerkraad toesig hou oor die katkisasies en hom vergewis of die ouers gereeld huiskatkisasie hou?

      Vraag 4: Of die predikasies eenvoudig volgens Gods Woord gedoen word?

      Vraag 5: Of die kerkraad toesien dat die Doop so spoedig moontlik aan die kinders bedien word?

      Vraag 6: Of daar gereeld huis- en krankebesoek gedoen word deur die lede van die kerkraad na eis van elkeen se roeping?

      Vraag 7: Of die kerkraad gereeld saamkom, veral voor die Nagmaal om onder mekaar die Christelike sensuur uit te oefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik te vermaan?

      Vraag 8: Of die Heilige Nagmaal gereeld, op die bepaalde tye in die jaar gehou word met behoorlike voorbereiding en tugoefening?

      Vraag 9: Word die armes behoorlik versorg en hoe geskied dit?

      Vraag 10: Hoe gaan dit met die onderwys en die opvoeding van die jeug en wat word gedoen tot bevordering van Christelike Nasionale Onderwys?

      Vraag 11: Wat word in u gemeente, finansieel en andersins, gedoen vir die uitbreiding van Gods koninkryk op die gebied van sending en evangelisasie?

      Vraag 12: Of daar iets is waarin u gemeente die raad of die hulp van die klassis nodig het?

      (Acta 1955:185, pt. (4); vgl. ook Acta 1939:42-43, Acta 1945:175 en Acta 1949:249-250).

      Attestering

      Die Sinode beklemtoon opnuut weer dat kerkrade noukeurig moet attesteer (Acta 1991:551-552, pt. 22.27).

      Begrafnis nie 'n erediens nie

      'n Begrafnis is in hoofsaak 'n familie-aangeleentheid en dus nie 'n erediens nie (Acta 1985:423-424, pt. 4.9).

      Beroepbaarstelling KO Artikels 4, 8 en 9

      (TOELATING) (Art 151)

      1 Sake waarvan die Sinode kennis neem: Beroepbaarstelling in terme van KO artt 4, 8, 9 (SR3.1)

      Die November 2011-Kuratorevergadering het kennis geneem van die onderstaande riglyne, vir deursending aan die Sinode vir goedkeuring:

      1.1 Formele aspekte

      1.1.1 Konstituering

      Die Kommissie, bestaande uit dr HG Stoker (s), ds PA Coetzee en prof J Smit, het op 30 Julie 2010 vergader. Dr HG stoker is as voorsitter aangewys en prof J Smit as skriba.

      1.1.2 Opdrag

      Benoem, in die lig van die Kommissieversoek, ʼn Kommissie bestaande uit dr HG Stoker (s), ds PA Coetzee en prof J Smit om die nodige riglyne op te stel met die oog op die aard en omvang van die ondersoek van persone wat aansoek doen in terme van onderskeidelik KO, artt 4, 8 en 9 van die Kerkorde (KD-notule 17 Mei 2010:10, 11).

      1.2 KO art 4

      1.2.1 KO-bepaling en Sinodebesluite

      KO art 4 veronderstel die opleiding van teologiese studente én stel eksaminering as vereiste vir die toelating tot die diens. Sinode 2006 besluit soos volg: (i) die ideale situasie is dat teologiese studente hulle volle opleiding in Potchefstroom doen. (ii) Voorsiening kan gemaak word om die Kandidaats I-III by ʼn erkende instelling òf deur middel van telematiese studie te doen. Die Kandidaats IV-VI word in Potchefstroom gedoen .

      1.2.2 Prosedure

      1.2.2.1 By die voorneme om teologie met die oog op die verwerwing van ʼn kandidaatsertifikaat te studeer moet studente by die Kuratore aanmeld. Hierdie reëling is van toepassing op alle studente – diegene wat die BTh I-III by die TSP òf by ʼn erkende instelling wil voltooi.

      1.2.2.2 Studente wat by die Kuratore aanmeld word by wyse van psigometriese toetse, onderhoude en ander vereistes wat tans geld, geëvalueer.

      1.2.2.3 Studente wat die Kandidaats I-III met toestemming van die Kuratore by ander instansies voltooi, meld by voltooiing van die studie by die TSP aan vir ʼn colloquium doctum. Hierdie colloquium is ʼn assessering van 'n aansoeker se kennis en insig met die oog daarop om vas te stel of die aansoeker met die Kandidaats IV-VI kan voortgaan. Die Senaat maak ʼn aanbeveling oor die vraag (i) of die aansoeker vir die Kandidaats IV-VI kan inskryf; (ii) wat die aansoeker te doen staan om sy kennis en insig te verbeter met die oog daarop om vir die Kandidaats IV-VI te kan inskryf.

      1.2.2.4 Vir studente wat hulle volledige studie by 'n ander instansie voltooi het geld die volgende:

      1.2.2.4.1 Kyk by 1.2.2.2.

      1.2.2.4.2 'n Assessering vind plaas op grond van die sertifikaat/dokumente wat ingedien moet word, waaronder

      ook 'n evaluering van die instelling(s) waar die dokumente verwerf is.

      1.2.2.4.3 Die aansoeker meld by die TSP aan vir ʼn colloquium doctum. Die doel van hierdie colloquium is om vas te stel of die persoon se kennis op 'n standaard is vir die verkryging van 'n Kandidaatsertifikaat. Na aanleiding van die uitslag van die colloquium bevind die Senaat dat die student die Kandidaatsertifikaat kan verkry of maak verdere aanbevelings ivm die persoon.

      1.3 KO art 8

      1.3.1 KO-bepaling: Iemand wat nie gestudeer het nie, sal nie tot die diens van die Woord toegelaat word nie, tensy daar sekerheid is van sy buitengewone gawes, godsaligheid, ootmoedigheid en ingetoënheid, goeie verstand en onderskeidingsvermoë sowel as gawes van welsprekendheid. As so iemand hom aanmeld, moet die klassis, as die Streeksinode dit goedvind, hom eksamineer en na gunstige bevinding hom vir 'n tyd lank private preekproewe laat lewer, om dan met hom te handel soos die klassis stigtelik oordeel.

      1.3.2 Prosedure:

      1.3.2.1 Die aanvanklike aansoek om in terme van KO art 8 tot die bediening toegelaat te word, word aan die aansoeker se Kerkraad gerig.

      1.3.2.2 Indien die Kerkraad oordeel dat die aansoek meriete het, word die KO art 8 aansoek (deur die aansoeker met volledige motivering soos art 8 beskryf tesame met 'n aanbeveling van die Kerkraad) by die TSP ingedien. (Dit sal verstandig wees indien die Kerkraad ook die advies van die Klassis mbt die KO, art 8 aansoek vra).

      1.3.2.3 Die aansoeker meld by die TSP (Senaat en Kuratore) aan vir ʼn colloquium doctum. Die colloquium doctum dien as ʼn assessering van die teologiese akademiesegeskiktheid van die aansoeker. Drie preke (OT, NT en HK) word geëksamineer.

      1.3.2.4 Die TSP maak die uitslag van die assessering aan die Kerkraad bekend.

      1.3.2.5 Die Kerkraad gee die nodige dokumentasie en motivering aan die aansoeker om by die Streeksinode aan te meld.

      1.3.2.6 Indien die Streeksinode bevind dat die aansoeker slaag, word die student na 'n Klassis gestuur om 'n tyd lank preekproewe te lewer, en om dan met hom te handel soos die Klassis stigtelik oordeel.

      1.4 KO art 9

      1.4.1 KO-bepaling: Predikers wat uit ander kerke of een of ander sekte aansluit, sal nie tot die kerkdiens toegelaat word nie, behalwe met groot versigtigheid en dit eers nadat hulle vir 'n sekere tyd goed beproef is.

      1.4.2 Prosedure

      1.4.2.1 Aansoekers wat uit ander kerke aansluit, moet by 'n plaaslike kerk aansluit of in proses wees of getuienis gee daarvan.

      1.4.2.2 Die aanvanklike aansoek om in terme van KO art 9 tot die bediening toegelaat te word, word normaalweg aan die aansoeker se Kerkraad gerig.

      1.4.2.3 Kyk by 1.2.2.4.3.

      1.4.2.4 Predikers van kerke in die buiteland kan, indien hulle nie hier aan 'n plaaslike kerk verbonde is nie, maar van voorneme is om predikant in die GKSA te word, hulle aanmeld by die TSP wat sal oordeel of artt 4/9 van toepassing is. Indien art 9 van toepassing is, word 'n colloquim doctum met die persoon gereël.

      Beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke.

      Kerklike getuienis en beroepbaarstelling deur ons word ook geëis van kandidate in die Teologie en proponente uit die erkende Gereformeerde Kerke in Nederland en Amerika, wat wel nie weer geëksamineer sal word nie, maar tot 'n broederlike onderhoud met die Kuratore verplig is (Acta 1904:37-38)

      Die "erkende Gereformeerde Kerke" is die wat met ons Kerke in korrespondensie is (Acta 1991:212).

      Beroepbaarstelling van predikante wat bedank het

      Die Sinode van 1973 het die volgende hieroor goedgekeur (Acta 1973:317-318):

      In ons opdrag word die volgende beskrywingspunt ingesluit: "Die eerwaarde Sinode spreek hom uit oor die volgende vraag: Mag 'n ampsdraer sy amp neerlê (bedank) en waar dit in die verlede voorgekom het dat predikante hulle amp neergelê het en dit aanvaar is - watter weg tot beroepbaarstelling moet gevolg word indien so 'n persoon aansoek doen om herstel?" (Acta 1970:430).

      4.1 Ten eerste vra die beskrywingspunt antwoord op die vraag of 'n ampsdraer sy amp mag neerlê (bedank). Hierop moet geantwoord word dat 'n ampsdraer wel mag bedank; maar daardeur beëindig hy op eiewillige wyse sy ampspligte en ampsregte. Daarmee word die kerk voor 'n voldonge feit gestel wat behandel moet word soos reeds in 3.2.1 [3 hierbo] hiervan gerapporteer is.

      4.2 Die tweede vraag wat beantwoord moet word, is: Watter weg tot beroepbaarstelling moet gevolg word indien so 'n persoon aansoek doen om herstel?

      4.3 Eiewillige neerlê van die amp is 'n ontduiking van die oordeel van die kerke, soos bepaal in artt. 12 en 79 KO Daarom moet 'n persoon wat hom hieraan skuldig gemaak het, eers die oordeel en die aanbeveling van die kerk waar hy lidmaat is, verkry, voordat hy by die kerk en klassis waar hy uit die amp is, aansoek doen vir 'n aanbeveling waarna hy hom wend tot die Streeksinode (in wie se ressort laasgenoemde kerk en klassis ressorteer) met die aansoek om beroepbaarstelling (vgl. Acta 1970:127-128, art. 122).

      4.4 'n Persoon wat sy predikantsamp eiewillig neergelê het, moet ooreenkomstig art. 4 KO aansoek doen om beroepbaar gestel te word. Die prosedure genoem in 3.2.2.3 [c hierbo] geld ook van predikante wat onder artikels 12 of 79, KO uit die amp is. (Die besluit van Sinode 1958:134, art. 68, pt. 8.a. word herroep.)

      4.5 Berou alleen kan nie genoegsame grond wees om weer beroepbaar gestel te word nie. By oorweging van 'n aansoek om beroepbaarstelling sal beslis moet word of die persoon weer met stigting in die kerk sal kan dien en of hy die gawes van roepingstrou, selfverloëning en volharding besit. (Vergelyk ook die gawes genoem in die Teologiese Skool-boekie, 1968:28-29). Indringende ondersoek moet ook ingestel word na die beweegredes tot die aansoek.

      Beroepe in kombinasie (Acta 1939:34-38)

      Dadelik moet vasgestel word dat daar in hierdie saak geen strikte eenvormigheid kan wees nie. Hierdie feit word beklemtoon sowel deur dr. F.L. Rutgers (Kerkelijke Adviezen, I, bl. 36 e.v.) as deur dr. Bouwman (Kerkrecht I, bl. 421). Reeds vanaf die tyd van die Reformasie was daar verskillende maniere van kombinering van gemeentes met die oog op beroep. By elke kombinasie moet op die voorgrond staan wat die meeste in die belang van die betrokke gemeentes is, waarby natuurlik plaaslike omstandighede 'n rol sal speel. Om in hierdie saak eenvormigheid te forseer, kan slegs tot skade van die gemeentes wees. Wat hier volg, moet dus slegs as leidraad beskou word.

      Die stof wat ons hier besighou, kan onder drie hoofde saamgevat word:

      1 Reëlinge wat aan die beroeping voorafgaan.

      2 Die beroepsbrief.

      3 Die byvoegsel by die beroepsbrief.

      Reëlinge wat aan die beroeping voorafgaan.

      I. Vooraf moet gesê word dat die sinode uitgaan van die gedagte dat dit drie gemeentes, A, B en C is wat in kombinasie gaan. As daar meer of minder gemeentes is, word alles natuurlik dienooreenkomstig gewysig.

      Sodra deur die afsonderlike kerkrade van gemeentes A, B en C die beginsel van kombinering goedgekeur is, moet 'n gekombineerde kerkraadsvergadering gehou word. Hierdie vergadering word op dieselfde wyse gekonstitueer en die besluite word op dieselfde manier geneem as wat uiteengesit is onder punt 9 op K – 71 .

      Op die gekombineerde vergadering moet dan die volgende punte behandel word:

      A. 'n Akte van kombinasie moet opgestel word. Hierdie akte dien terselfdertyd as byvoegsel by die beroepsbrief. 'n Konsep hiervan word dus gegee op bl. 67. (Die deputate vir die bevestiging moet ondersoek instel of die akte behoorlik opgestel is. 'n Kopie van die akte word aan die klassis gestuur vir kennisgewing).

      B. Daar moet besluit word hoe die beroeping sal plaasvind. Hier moet die verskillende punte oorweeg word:

      1. Moet daar 'n vrye verkiesing wees of 'n twee- of drietal gestel word? Die sinode beveel aan dat daar reeds voor die gekombineerde vergadering 'n groslys by die betrokke gemeentes opgevra word, waaruit op hierdie vergadering 'n twee- of drietal saamgestel word.

      Moet A, B en C al drie aan die stemming deelneem of moet die stemming alleen gehou word in A, terwyl B en C hulle aan die beslissing onderwerp? Die sinode beveel aan dat die eerste alternatief gekies word, aangesien anders die gedagte kan ontstaan dat die leraar net aan die een gemeente behoort.

      Dit kan so gereël word dat die gemeentes wat eerste beroep, die stembriefies in verseëlde koeverte stuur na die gemeente wat laaste beroep, waar die briefies dan behoorlik gemeng en gesamentlik getel word. Twee deputate van elk van die ander gemeentes moet hierby teenwoordig wees, sodat terselfdertyd die beroepsbrief onderteken kan word. In hierdie geval kan die moeilikheid ontstaan dat daar 'n herstemming moet plaasvind, waaraan ook weer die ander gemeentes moet deelneem, tensy daar op die gekombineerde vergadering besluit is dat die gemeente wat laaste beroep, ook beslis in die geval van 'n herstemming. Om hierdie moeilikheid te voorkom, is dit miskien wenslik dat daar slegs 'n tweetal gestel word. 'n Ander moontlikheid is dat die gemeentes almal gelyktydig beroep. Dit kan bv. die Saterdagmiddag gebeur, terwyl die uitslag van die stemming in B en C telefonies of andersins direk aan A bekend gemaak word. A laat dan weet of daar 'n herstemming moet plaasvind al dan nie. Reëling moet dan getref word waar en wanneer die beroepsbrief deur die deputate van die verskillende gemeentes onderteken moet word en deur watter konsulent.

      Waar moet die bevestiging plaasvind? Die sinode beveel aan dat dit gebeur in die gemeente waar die leraar sal woon. Dit sluit nie uit dat in die ander gemeentes van die kombinasie intree-predikasies gehou sal word nie. (As die bevestiging in gemeente A plaasvind kan gemeentes B en C nie as genabuurde gemeentes vir hierdie doel geld nie).

      Beroeping van 'n predikant

      1.1 "Wanneer 'n leraar oordeelt dat hij binne een jaar moet vertrekken, dan zal de roepende gemeente de onkosten teruggeven die door de gemeente om hem te verkrijgen, gemaakt waren". (Acta 1879:46).

      1.2 Die Sinode ag dit nie wenslik dat 'n leraar wat nog geen twee jaar in sy gemeente werksaam is nie, beroep sal word, aangesien die kort bediening in stryd is met die belange van die gemeente (Acta 1945:113).

      Beswaarskrifte indieningsprosedures

      Indieningsprosedures vir Beswaarskrifte in die lig van die Sinodebesluite van 1967, 1991 en 1994.

      2.1 Sinode 1955 (35-37) stel by monde van die Moderamen die vraag of ’n eenvormige prosedure vir Beswaarskrifte daargestel behoort te word en verwys dit na Deputate (1955:35-37).

      2.2 Sinode 1958 (101, 106-107, 116-117) kry as aanbeveling van die Deputate dat elke vergadering sy eie prosedure ten opsigte van Beswaarskrifte daarstel. Die saak word weer na Deputate verwys.

      2.3 Sinode 1961 (512-517) hanteer ’n Meerderheids- en Minderheidsrapport. Geen besluit word geneem nie en die saak word weer na Deputate verwys.

      2.4 Sinode 1964 (444, 446) besluit dat ʼn Beswaarskrif aan die vergadering wat die betrokke besluit geneem het gerig moet word.

      2.5 Sinode 1967 (349-350) keur ’n Beskrywingspunt goed dat KO, art 33 konsekwent toegepas word sodat alleenlik opdragte van die Streeksinodes ter tafel geneem mag word.

      2.6 Sinode 1991 (526-528) handhaaf ’n beswaar teen die besluit van 1964. Die wese van die beswaar is dat ’n aparte prosedure vir Beswaarskrifte nie nodig is nie, aangesien ’n Beswaarskrif soos ’n saak (Beskrywingspunt) hanteer behoort te word. Die Sinode keur dit goed dat sake wat volgens KO, art 46 op ʼn meerdere vergadering moet dien, die weg van KO, art 33 behoort te volg.

      2.7 Sinode 1994 (52-54) word deur die Regsdeputate insake Appèlle en Beswaarskrifte na aanleiding van die besluit van 1991 voor die vraag gestel of daar net een weg is vir die hantering van ’n Beswaarskrif, nl. toetsing van ’n saak langs die kerklike weg, of twee weë, naamlik dat ’n beswaar deur ’n individu ook na toetsing en afwysing nog steeds by ’n betrokke meerdere vergadering ingedien kan word (52, 3.1). Die Sinode bevind dat die gewone kerklike weg vir die behandeling van alle sake onder KO art 46 onder gewone omstandighede gevolg moet word met inagneming van KO artt 30, 31 en 33.

      Verder dat die reg van direkte toegang tot enige meerdere vergadering vir aangeleenthede wat dit Skriftuurlik regverdig, nie deur 1991 se besluit geblokkeer word nie (53, 3.2).

      2.8 Sinode 2006 wys Studiedeputate aan om die Sinode by sy volgende sitting oor die reikwydte van die besluite van Sinodes 1967, 1991 en 1994 insake die reg van direkte toegang tot enige meerdere vergadering te adviseer.

      2.9 Sinode 2009 behandel die Rapport van die Studiedeputate van 2006 maar verwys die Rapport terug na Studiedeputate vir ʼn duidelike aanbeveling oor indieningsprosedure van Beswaarskrifte. Die rede hiervoor omdat die Rapport van 2006 twee moontlikhede stel en nie by een aanbeveling oor indieningsprosedure uitkom nie.

      3 Beredenering

      3.1 Die Sinode van 1964 het ʼn duidelike besluit oor prosedure vir indiening van Beswaarskrifte geneem (444):

      a ʼn Gravamen moet gerig word tot die vergadering wat die betrokke besluit geneem het waarteen beswaar gemaak word.

      b Dit moet betyds vir opname in die Agenda van die betrokke vergadering ingedien word.

      c Die besluit waarteen die beswaar ingedien word, moet duidelik woordeliks aangegee word.

      d Die gronde waarop die beswaar steun, moet ook duidelik aangegee word.

      e ʼn Beswaarskrif oor ʼn besondere besluit mag nie meer as een keer ingedien word nie, tensy die beswaarde met gewigtige redes aantoon waarom nie berus kan word nie.”

      3.2 Die Sinode van 1967 (350) handhaaf ʼn Beskrywingspunt rakende KO art 33 dat alleen opdragte van Streeksinodes ter tafel geneem mag word wat, op die keper beskou, in kontradiksie is met die besluit van 1964 dat Beswaarskrifte direk by die vergadering wat die besluit geneem het, ingedien moet word.

      3.3 Die Sinode van 1991 bring deur die handhawing van ʼn Beswaarskrif teen die besluit (prosedure) van 1964, die Sinode in lyn met die besluit van 1967 dat slegs opdragte van Part Sinodes ter tafel geneem mag word. Dit beteken dat sake wat volgens KO art 46 op ʼn meerdere vergadering moet dien, die weg van KO art 33 behoort te volg.

      3.4 Die Sinode van 1994 bevind na aanleiding van ʼn vraag deur die Regsdeputate insake Appèlle en Beswaarskrifte dat vir alle sake (ook Beswaarskrifte) onder gewone omstandighede die gewone kerklike weg (KO art 33) van behandeling geld, maar dat dit nie beteken dat direkte toegang tot enige meerdere vergadering vir aangeleenthede wat dit Skriftuurlik regverdig geblokkeer is nie. Volgens hierdie bevinding bestaan die reg tot direkte toegang steeds met inagneming van die besluite van 1967, 1991 en 1994.

      4 Bevinding

      4.1 Tans is daar twee moontlikhede vir die indiening van Beswaarskrifte. Die eerste en die verkiesliker manier van indiening is die indiening wat die weg van KO art 33 volg. Hierdie indiening kan egter nie as die enigste beskou word nie. In terme van die besluit van Sinode 1994 (52-54) is daar tweedens die weg van direkte indiening by die vergadering wat die besluit geneem het waarteen beswaar gemaak word.

      5 Aanbeveling

      5.1 Die bevinding van Sinode 1994 dat daar twee moontlikhede van indiening van Beswaarskrifte is (2.7 en 4.1 van hierdie Rapport) gehandhaaf word met die gevolglike uitvloeisel dat dit (twee moontlikhede) in kerklike vergaderings so toegepas word.

      5.2 Motivering

      5.2.1 ʼn Beswaarskrif behoort verkieslik die weg van KO art 33 te volg ten einde geleentheid aan die plaaslike kerk en meerdere vergaderings te bied om die beswaar(skrif) te behandel en indien nodig te verfyn en/of advies te gee oor die verdere verloop van die saak.

      5.2.2 Sou ʼn Beswaarskrif langs die weg van KO art 33 nie die nodige ondersteuning ontvang nie, en die beswaarde/s nie die advies van die betrokke mindere vergadering kan aanvaar nie, kan die beswaarde/s steeds die Beswaarskrif by die vergadering wat die besluit geneem het vir oorweging indien.

      5.2.3 ʼn Meerdere vergadering behoort by die beoordeling van ontvanklikheid van sake onder KO art 46 die kerkordelike beginsels soos byvoorbeeld verwoord in KO artt 30, 33, en 46 deeglik in ag te neem en daarteen waak om ongemotiveerd en op rigiede wyse sake onontvanklik te verklaar.

      5.2.4 Hierdie werkswyse/prosedure verseker dat sake onder KO art 46 op eie inhoud en meriete oorweeg sal word.

      Betalingsadvies

      Die Algemene Sinode van die GKSA in 2003 word versoek dat die Admin. Buro asook kerkrade, kragtens arbeidswetgewing en deursigtigheid, maandeliks aan emeriti asook dienende predikante ʼn volledige betalingsadvies rakende emeritaats- asook traktementsbetalings verskaf.

      Beredenering en motivering

      1 Alhoewel die kerke nie deel uitmaak van die privaatsektor nie, en totaal ʼn andersoortige instelling is, moet onthou word dat alle probleme in kerkverband nie altyd op die voorgeskrewe Bybelse en kerklike wyse geskik of hanteer word nie. Om daarom die algemene arbeidswetgewing te gehoorsaam, in soverre dit nie in stryd met die Woord van God is nie, sal ʼn wyse besluit van die kerke wees.

      2 Daarom, en op grond van die Bybelse beginsel van eerlike deursigtigheid is dit nodig dat kerke en die Admin. Buro deurlopend predikante en emeriti maandeliks voorsien van ʼn volledig berekende betalingsadvies.

      3 Versoeke in die verband deur emeriti is tot op hede nie aan gevolg gegee nie, en dit skep onnodig spanning en kan tot groot misverstande lei.

      4 Kerkrade met emeriti kan baie baat vind daarby as hulle ook van ʼn afskrif van hulle emeritus se betalingsadvies voorsien word sodat hulle deurlopend op hoogte kan bly van sy versorgingsituasie.

      Bewys van lidmaatskap

      Die Sinode herroep alle vorige besluite in die verband en verklaar dat die saak van lidmaatskap as sodanig tuishoort by die plaaslike kerkraad (Acta 1958:138, pt. C).

      Die gebruik van opgeleide en bevoegde helpsters vir hulpdiens in diakonale arbeid

      Hierdie saak is afkomstig van ʼn beskrywingspunt van die Klassis Johannesburg voor die Sinode van 1952 wat soos volg gelui het:

      “Die Sinode spreek hom uit oor die kwessie van opgeleide of bevoegde helpsters vir hulpdiens in diakonale arbeid.”

      Die kwessie is deur die betrokke Sinode verwys na ʼn deputaatskap om ʼn studie daarvan te maak en die e.v. Sinode van advies te dien (Acta Sinode 1952, bl. 172).

      Die betrokke deputaatskap se studierapport is voor die Sinode van 1952 gelê, en laasgenoemde Sinode het o.a. besluit om die ondergetekende deputate te benoem om van die saak nog verder studie te maak omdat die betrokke studierapport net die een kant van die saak beklemtoon het, nl. om wel gebruik te maak va die helpsters (Acta Sinode 1955, bll. 153-155).

      In die vorige studierapport word o.a. aan die volgende aspekte van die saak aandag geskenk:

      * Opleiding en besoldiging van helpsters,

      * die behoefte aan sodanige helpsters,

      * die beskikbaarheid van geskikte sodanige helpsters,

      * die verhouding tussen sodanige helpsters en die diakonieë.

      Hierdie Deputaatskap kan sy bevindinge oor hierdie vier aspekte van die saak kortliks soos volg uiteensit:

      A Opleiding en besoldiging van helpsters.

      (1) Die Deputaatskap onderskryf die beginselstandpunt soos geformuleer in punt 5 (1) van die rapport van Kommissie VI van die Sinode van 1955, wat soos volg lui:

      “Net soos daar op Skriftuurlike gronde geen beswaar kan bestaan as ʼn broeder diaken hom verder bekwaam en laat oplei om sy amp as diaken beter te kan uitvoer sonder traktement, besoldiging of loon nie, so kan ook geen beswaar bestaan as ʼn gelowige, man of vrou, in die amp van gelowige hom of haar verder bekwaam of laat oplei om in die amp van die gelowige beter naastediens te kan lewer nie, met die verstande dat hierdie Christelike beginsel sal bly geld dat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie. Word hierdie laaste beginsel in ag geneem, dan is die noodwendige gevolgtrekking dat vir sodanige opgeleide broeder of suster geen besoldiging moontlik is nie, en dit moet altyd bly: werk in die amp van die gelowige. So iemand mag dus nie gebruik word as ʼn blywende besoldidgde of nie-besoldigde hulpkrag nie” (Acta Sinode 1955, bl. 155).

      (2) Die Deputaatskap bevind dat die parallel wat soms getrek word tussen “professionele” maatskaplike werkers aan die een kant en geneeshere, verpleegsters ens. aan die ander kant om daardeur te betoog dat maatskaplike werk ook ʼn erkende “professie” is, op veralgemening berus en nie rekening hou met die werklike toestand sowel hier te lande as in die buiteland nie.

      Die feit dat in Suid-Afrika maatskaplike werk tans onder die vakkundige afdeling van die Staatsdiens geklassifiseer word, word deur baie deskundiges as voorbarig beskou, aangesien hulle meen dat maatskaplike werk nie aan die erkende standaarde vir ʼn professie voldoen nie. Sowel in Suid-Afrika as in die buiteland is dit selfs onder verantwoordelike maatskaplike werkers nog geen uitgemaakte saak dat hulle wel professionele dienste lewer nie. In Amerika is 60% en in Suid-Afrika 40% van alle maatskaplike werkers ongekwalifiseerd en daar is genoegsame aanduidings dat hulle “gespesialiseerde roetinetake in die versorgingsaksie” minstens net so goed en soms beter verrig as die sogenaamde professioneel opgeleide persone.

      (3) Besoldiging

      Die Deputaatskap onderskryf die standpunt dat daar geen beginselbeswaar bestaan teen die besoldiging van professionele persone soos geneeshere, verpleegsters ens. uit diakonale fondse nie. Hier word slegs vir die professionele dienste betaal.

      Afgesien daarvan of maatskaplike werksters wel professionele dienste lewer of nie, bevind die Deputaatskap egter dat hy by die indiensneming van maatskaplike werksters slegs hulle dienste uit diakonale fondse besoldig sal moet word nie maar ook items soos die huur van kantore, aankoop van kantoortoerusting, motorvervoer ens.

      Die ervaring by ander instansies wat maatskaplike werksters in diens neem, toon dat vrywel die grootste deel van die inkomste aan hierdie tipe uitgawes bestee word en nie aan werklike barmhartigheidsdiens nie. Waar daar twyfel bestaan of die sogenaamde “professionele” dienste werklik beter vrugte afwerp as die amptelike werk van die diakens, skyn dit nie of hierdie koste geregverdig sal wees nie.

      Om sodanige professionele werkster in diens te neem en te besoldig sal diakonieë

      (a) fondse spesiaal daarvoor en vir die instandhouding van haar kantoor moet insamel;

      (b) oor regspersoonlik moet beskik, wat belangrike kerkregtelike implikasies en beginselbesware sal meebring, en

      (c) om praktiese redes genoodsaak wees om by die Registrateur van Welsynsorganisasie as ʼn welsynsorganisasie te registreer onder Wet no.40 van 1947, wat sal meebring dat jaarlikse volledige finansiële state en ander besonderhede aan die Registrateur voorgelê moet word;

      (d) die werkster se volle salaris (beginsalaris tans byna £40 per maand) moet betaal as die indiensneming nie deur die Departement van Volkswelsyn gesubsidieer word nie. In laasgenoemde geval moet die diakonië bereid wees om hulle werksaamhede deur die Departement van Volkswelsyn te laat inspekteer.

      Punt (b) hierbo i.v.m. die regspersoonlikheid van die diakonieë sal wel oorkom kan word indien kerkrade die dienskontrak met die maatskaplike werkster sluit, maar dan word punte (a), (c) en (d) outomaties op die kerkraad van toepassing, wat nie slegs kerkregtelike nie maar ook belangrike staastregtelike implikasies meebring. Inspeksie en verslae sal natuurlik alleen daardie sake (gehalte werk, finansiële state, ens.) geld wat betrekking het op die diakonale werk en veral die in verband met die werkster.

      B Behoefte aan sodanige helpsters.

      (1) Die Deputaatskap onderskryf die standpunt soos geformuleer in punt 5 (2) van die rapport van Kommissie VI van die Sinode van 1955, wat soos volg lui:

      “Wat die behoefte aan besoldigde helpsters betref, is dit van sodanige aard en karakter dat die behoefte met ervaring en studie binne die bestaande ampte uitgevoer en tot sy volle reg kan kom sonder om die diakonale amp te belas om gelde in te samel en te bestee vir die doel van besoldigde helpsters.” (Acta Sinode 1955, bl.155),

      (2) Die argument dat sodanige helpsters benodig word vir die uitoefening van roetinetake soos kommittering van kinders, opstel van verslae aan die Kommissaris van Kindersorg, bywoning van Kinderhofsittings, ens... d.w.s. gedeeltelike implementering van die Kinderwet No. 31 van 1937--gaan om die volgende redes nie op nie:

      (a) Dit is die beleid van die Departement van Volkswelsyn dat sodanige take slegs deur die vakkundige beampte van die Departement van Volkswelsyn uitgevoer behoort te word (vgl. Omsendbrief No. 56 van 1955, gedateer 20/12/1955, van die Departement van Vokswelsyn Oor Werkverdeling tussen vrywillige welsynsorganisasies en die Buitekantore van die Departement).

      (b) Indien diakonieë of kerkrade nogtans daarop sou aandring dat hulle maatskaplike wersters (wanneer hulle diè in diens geneem het) met hierdie take behulpsaam moet wees, sal hulle hulle moet onderwerp aan voorskrifte en beleidsbepalings van die amptenare van die Departement van Volkswelsyn (vgl. Omsendbrief 56/55, hierbo vermeld).

      (c) Om sodanige take deur ʼn maatskaplike werkster te laat onderneem sal so ʼn diakonie of kerkraad onder die Kinderwet No. 31 van 1937 (art. 45 (i)) goedgekeur moet word, welke stappe die betrokke diakonie of kerkraad onderhewig sal stel aan inspeksie deur amptenare van die staat;

      (d) Al sou die besware in (a), (b) en (c) te bowe gekom kan word, dan bestaan daar nog geen waarborg dat sodanige werkster die betrokke take altyd sal kan verrig nie, daar dit bloot van die diskressie van elke betrokke Kommissaris van Kindersorg afhang of hy van haar dienste gebruik wil maak in stede van die van die vakkundige beamptes van die Departement van Volkswelsyn.

      Die verstandhouding bestaan dat Kommissarisse van Kindersorg in toenemende mate slegs van die dienste van die vakkundige beamptes van die Departement van Volkswelsyn gebruik maak (vgl. Omsendbrief 56/55, hierbo vermeld).

      (e) Die Deputaatskap is verder van mening dat dit nie op die weg van die Kerk en sy diakonië of kerkrade lê om funksionarisse aan te stel om die Kinderwet No. 31 van 1937 geheel of gedeeltelik te implementeer nie. Prinsipieel is dit die taak van die Staat. Bowendien behoort toepassing van sekere bepalings van die Kinderwet op Gereformeerde kinders sover moontlik ontmoedig te word, daar hierdie wet ook ʼn bepaalde, nie-Gereformeerde lewensen wêreldbeskouing bevorder.

      (3) Die Deputaatskap betwyfel dit of die behoefte aan die uitvoering van gespesialiseerde roetinetake onder die Kinderwet deur Gereformeerde diakonieë werklik so groot is dat dit die indiensneming van maatskaplike werksters teen ʼn salaris van gemiddeld £40 per maand sal regverdig.

      Word daar werklik sò baie Gereformeerde kinders voor die Kinderhof gebring? Watter addisionele take sou so ʼn werkster verrig om haar indiensneming ekonomies te maak? Die toestand sal die grootste versoeking aan diakens bied om hulle ampswerk op so ʼn werkster af te skuif net om haar nie te laat ledig sit nie.

      (4) Wat betref die gedagte dat sodanige maatskaplike werksters die behandeling van gedragsprobleme van kinders in inrigtings as gevolg van vroeëre huislike lewe moet onderneem, wens die Deputate te meld dat hulle nie oortuig is van òf die noodsaaklikheid òf die vermoë van ʼn professionele maatskaplike werkster om hierdie funksie te verrig nie. Die aantal professionele maatskaplike werksters wat in Suid-Afrika sodanige werk verrig, is sò gering dat ons uit hierdie feit moet aflei dat diè tipe werk by inrigtings òf nie geslaagd is nie, òf nie ekonomies is nie. Bowendien bestaan daar ʼn onversoenbare beginselbotsing tussen die sekulêre beginselgrondslag en daaruit spruitende lewenspraktyk van die professionele maatskaplike werk aan die een kant en die Gereformeerde leer en lewenswandel aan die ander kant.

      ʼn Pedagoog is die aangewese persoon om hierdie funksie te onderneem, en daar is genoeg Gereformeerde opvoedkundiges vir hierdie doel beskikbaar.

      (5) Ondervinding en navorsing in die Lutherse lande het getoon dat gebruikmaking van opgeleide besoldigde helpsters nie werklik ʼn vermeende bebehoefte bevredig nie, en daar bestaan ʼn sterk neiging om gebruik te maak van onopgeleide vrywillige kragte, wat baie op die geaardheid van ons kerkrade georganiseer word. Goeie wetenskaplike argumente word vir hierdie neiging aangevoer.

      C Beskikbaarheid van geskikte sodanige helpsters.

      Die Deputaatskap bevind dat sodanige geskikte helpsters nie beskikbaar sal wees nie.

      Die P.U. vir C.H.O. neem vanaf die begin van 1957 nie meer studente in om hulle as maatskaplike werkers op te lei nie. Die getal maatskaplike werksters wat vantevore aan hierdie Inrigting opgelei was, is so gering dat dit te betwyfel is of uit hulle geledere vir ʼn onbeperkte tyd voldoende rekrute gewerf sal kan word.

      Die totale aantal studente wat jaarliks in Suid-Afrika as maatskaplike werksters opgelei word, is so gering dat hulle op verre na nie in bestaande behoeftes voorsien nie. Bowendien heers aan die verskillende universiteite in Suid-Afrika, soos oor die res van die wêreld, die grootste verwarring en onsekerheid oor die inhoud en beginselgrondslag van die opleiding vir maatskaplike werksters. Onder die geledere van die maatskaplike werkers self heers onsekerheid en verwarring.

      Dit staan te betwyfel of die beginselgrondslag en inhoud van bestaande opleidingskursusse vir maatskaplike werkers ʼn toets aan Gereformeerde prinsipes sal kan deurstaan.

      Gereformeerde skrywers, waaronder prof. Dr. G. Brillenburg Wurth, meen dat die diepste gedagte van die moderne professionele maatskaplike werk (“social casework”) vir geen Christelike toepassing vatbaar nie. So verklaar prof. Wurth o.a. in hierdie verband:

      “Daarom dienen wij ons tegen al wat ook in Protestantse kring zich in die richting beweegt met kracht te verzetten en daarbij gedachtig te zijn aan het “prinsiis obsta”’ d.w.z. ons niet slechts keren tegen uitwassen, maar het kwaad in de wortel aan te tasten.

      “Wat is dat kwaad. . . . . dat de zielszorg hier heerst in plaats van te dienen, dat de mens hier God van Zijn plaats verdringt.” (Christelijke zielezorg in het licht der moderne psychologie, bl 307).

      Volgens ʼn artikel in Koers, Augustus 1955, skyn dit asof daardie metode van maatskaplike sorg bekend as professionele maatskaplike werk, gesien in sy ganse eksistensiële posisie, met die Calvinisme in die besonder en met die Christendom in die algemeen prinsipieël totaal onversoenbaar is. Dit het oorspronklik gespruit uit ʼn sekere Angel–Saksies-deistiese lewens-en wêreldbeskouing. In Amerika het dit gegroei en ontwikkel tot sowel die speerpunt en gangmaker as die aktiewe draer van ʼn nuwe, na-Christendomlike wêreldwye internasionale skynkultuur.

      Dit skyn dus, soos reeds aan die begin gesê, nie asof persone met die regte opleiding beskikbaar sal wees vir besoldigde professionele hulpdiens in diakonale arbeid nie.

      In ooreenstemming met die sienswyse geformuleer in punt 5 (1) van Kommissie VI se rapport voor die Sinode van 1955 (hierbo aangehaal) is dit egter vir mans-of damestudente aan die P.U. vir C.H.O. moontlik om die graadkursus in Maatskaplike Sorg te volg om hom of haar verder te bekwaam of op te lei om in die amp van die gelowige beter naastediens te kan lewer.

      D Die verhouding tussen sodanige helpsters en die diakonieë.

      (1) Die Deputaatskap vind afdoende regverdiging vir die standpunt soos geformuleer in punt 5 (3) van Kommissie VI se rapport voor die Sinode van 1955, wat soos volg lui:

      “Die praktyk van sodanige besoldigde hulpdiens hier te lande en elders het geblyk te wees ʼn wesenlike gevaar vir die uitvoering en selfs voortbestaan van die diakonale amp, omdat dit nie by hulpdiens bly nie maar die diens van diakonale barmhartigheid langsamerhand verdring”. (Acta Sinode 1955, bl. 155).

      (2) Getuienis van die wesenlikheid van hierdie gevaar blyk o.a.uit die volgende:

      In ʼn redaksionele artikel in Die Kerkbode 15 April 1953,bl. 491, lees ons onder andere die volgende:

      “Die strewe was al die jare om die diakenamp tot ryker en voller ontplooiing te bring. Maar hierdie strewe . . . . (het) ons . . . self verydel deur ʼn organisasie op te bou waarin die beroepswerker of werkster nie naas die diaken gestel is nie, maar hom verdring het by die versorging van die armes”.

      In die Hervormde Kerk in Nederland het dit reeds sover gekom dat ʼn vooraanstaande kerklike maatskaplike werkster nie net alleen met geringskatting van die diakonale arbeid verwys na “de zo noodzakelijke heroriëntering van die practijk van de dienste der barmhartigheid” van de Kerk” nie maar openlik pleit vir ʼn vervanging van die “verouderde” leerstellinge en mensbeskouing soos o.a. uitgedruk in die instellingsformulier vir diakens, met die leerstellinge en mensbeskouing van die “social casework”. Van laasgenoemde het prof. Brillenburg Wurth, soos hierbo gemeld, gesê dat die diepste gedagte daarvan vir geen Christelike toepassing vatbaar is nie. (Vergelyk die artikel van mej. M. James in Evangelische benadering van die mens, deur Idenburg, Van Lennen, e.a.; Keulen, Delft, 1951 bl. 210.)

      In die Anglikaanse Kerk het die maatskaplike werk en die deurwerking van die geestelike grondslae waardeur die maatskaplike werk gedra word, tot gevolg gehad dat ʼn vooraanstaande skrywer moes uitroep: “Today a social philosophy which substitutes gadgets . . . for sad, weary, stumbling, shame-faced souls, has successfully, evicted the Church from the field of her service” (J.C. Pringle: Social work of the London churches; Oxford University Press, 1937; bl. 155).

      Oor die toestande in Swede lui een verslag o.a. soos volg: “ ... in modern Sweden, where sociology has become a religion in itself, and birth control, abortion and promiscuity . . . are recogniced as inalienable rights . . . .Newspapers thundered that bishops had no business meddling in such matters; citizens told them (the bishops) to mind their own business and even a few parsons accused their superiors of aspiring to emulate the Church of Rome . . . All a woman need to have (a legal abortion) is to convince a social worker that the birth is unsuitable”. (Ons onderstreep) (Uit die tydskrif Time, 25 April 1955, bl.29).

      Van die kant van professionele maatskaplike werkers in Amerika word die sterkste mag waarmee hulle te kampe het om hulle “professie” as ʼn selfstandige professie gevestig te kry, deur Herbert Bismo bestempel as: “The Puritan tradition, which has been such a pervasive influence in our cultural history (and which) represents, in a sense, the fullest expression of the Protestant Ethic” (The Philosophy of Social Work; Public Affairs Press, Washington; bl. 87).

      In ʼn ongepubliseerde meestersverhandeling oor Professionele maatskaplike werk in sy verhouding tot pastorale werk binne die gemeente in’n Calvinisties-gereformeerde kerkverband: ʼn teoreties-prinsipiële uiteensetting, in1954 aangebied in die Fakulteit van Sosiale Wetenskappe aan die P.U. vir C.H.O., word bevind dat die professionele maatskaplike werk vanweë sy anti-Christelike beginselgrondslae uiteraard ʼn wesenlike gevaar inhou vir die uitvoering en selfs voortbestaan niè slegs van die diakonale amp nie maar van aldrie ampte in die kerk.

      5 Aanbevelings.

      A Op grond van voorafgaande uiteensetting beveel die Deputate aan dat die eerw. Sinode hom sowel om prinsipiële as om praktiese oorweginge uitspreek teen die gebruik van besoldigde professionele helpsters of maatskaplike werksters vir hulpdiens in diakonale arbeid.

      B Die Deputate beveel verder aan dat diakonieë, gesien die besondere eise wat ons huidige tydsgewrig aan die uitoefening van hulle ampswerk stel, van hierdie rapport deeglik kennis neem en ook trag om artt. 25 en 26 van die Kerkorde behoorlik in praktyk te bring.

      Die plek van barmhartigheidsinrigtings binne die GKSA

      Die plek wat die barmhartigheidsinrigtings binne die kerkverband, en oor hul beheer deur die Algemene Sinodes, deur soos volg daarop te antwoord:

      1 Die beheer oor die diakonale inrigtings berus by die plaaslike kerk waaronder elke inrigting ressorteer.

      2 Die kerkverband het ook belang by die diakonale inrigtings. Daarom Benoem die Sinode deputate vir diakonale sake om:

      2.1 korrelerend op te tree,

      2.2 geldelike hulp te bied, en

      2.3 met die Owerheid te skakel.

      2.4 Die opdrag aan die te benoemde deputate vir diakonale sake is:

      1 om met die Regering te onderhandel ten einde die bestuur en beheer van die barmhartigheidsinrigtings in ooreenstemming met die Kerkkode te kan bring;

      2 om trustees te wees vir alle eiendomme wat verkry word kragtens sy opdrag, en in regte op te tree vir daardie belange;

      3 om ʼn kantoor in stand te hou met ʼn voltydse amptenaar;

      4 om die ingesamelde geld vir die barmhartigheidsinrigtings onder sy opdrag te administreer;

      5 om ʼn studie te maak van barmhartigheidsdiens onder sy opdrag, en skakel te wees met die Regering en ander barmhartigheids- en liefdadigheidsinrigtings volgens KO art. 26.

      3 Motivering:

      3.1 Die meerderheidsrapport rus op die studierapport 1973 wat ʼn nuwe struktuur in die presbiteriale kerkregering wil inbring wat geen presedent in die geskiedenis het nie, en wat ook nie afdoende Skriftuurlik en kerkregtelik bewys is nie.

      3.2 In KO art. 25 word o.a. die verhouding van die diakenamp tot die Kerkraad plaaslik gereël. In die meerdere vergaderings daarenteen gaan dit nie om verteenwoordiging van ampte nie maar van kerke.

      Derhalwe is die diakenamp tog verteenwoordig op die meerdere Vergaderings waar die kerke saamkom. Die plaaslike verhouding volgens KO art. 25 kan dus nie na meerdere vergaderings Deurgetrek word nie.

      3.3 Net as die KO diakens sou beskou as deel van die plaaslike kerkraad, sou hulle na meerdere vergaderings afgevaardig kon word.

      3.4 Die versorging van inwoners in die diakonale inrigtings lê volgens KO art. 25 op die terrein van die plaaslike dianonie onder toesig van die kerkraad. Dit behou die noue band tussen die diakonale inrigting en die diakonale amp in die plaaslike kerk.

      3.5 Die samewerking van die diakonieë in die kerkverband ten opsigte van die diakonale inrigtings, word bewerkstellig deur die sinode deputate vir diakonale sake.

      3.6 Die deputate vir diakonale sake moet allereers uit diakens bestaan. Volgens KO art. 40 word ook predikante bygevoeg.

      Die roeping van die kerk in die volkslewe

      N.B.: Die besluit het alleen betrekking op die volgende sinsnede in art. 30: "In hierdie (kerklike) samekomste moet geen ander as kerklike sake en dit op kerklike wyse, behandel word nie."

      Die woorde "geen ander" moet ons hier nie in absolute sin opvat nie. Die KO self handel oor die korrespondensie met die owerheid in art. 28, waarvan ten minste die tweede deel algemeen gehandhaaf is sonder die beswaar dat dit nie in 'n kerkorde tuishoort nie. En in art. 21 word oor die toesig op die skole gespreek in die sin dat die Christelike karakter van alle skoolonderwys gehandhaaf moet word.

      Wat die kerklike praktyk betref, weet ons dat die kerk hom uitgespreek het oor die armversorging in verband met ander armbesture (vgl. art. 26 KO), oor huwelikskwessies, oor egskeidings, oor die bestryding van onsedelikheid, oor vrouestemreg, oor die eed en derglike.

      Duidelik is dus dat die betrokke sinsnede van art. 30 net soos al die ander artikels van die KO histories verklaar moet word. Met ander woorde, ons het hier nie te doen met 'n bepaling van 'n wetboek nie maar met 'n artikel van 'n kerkorde wat in die algemeen die orde wil handhaaf in die gemeente van Christus.

      Dat die kerklike samekomste nie bedoel is vir die bespreking en beslegting van staatkundige, maatskaplike of streng wetenskaplike kwessies nie - dit is die punt wat art. 30 wil vasstel. Daarvoor word die kerklike vergaderings nie gehou nie.

      Wel het die gereformeerde kerke in dae van vervolging hulle ook met politieke kwessies ingelaat, maar dit het geskied omdat Rome die politieke mag te hulp geroep het om die reformasie teë te werk.

      Sedert 1572, toe in Nederland al meer vryheid gekom het, het die gereformeerde kerke prinsipieel duideliker uitgespreek dat in kerklike vergaderinge alleen kerklike sake behandel moet word (vgl. Dordrecht 1574, art. 4). Op die sinode van Dordrecht 1578 is bepaal dat by gemengde sake die beslissing "by die owerheid en kerkraad tesame sou staan" (art. 17), terwyl die sinode van Middelburg 1581 die redaksie van die artikel vasgestel het soos dit nou lui. Hiermee het die geref. kerke stelling geneem teenoor die roomse konsilies wat van die standpunt uitgegaan het dat staat en maatskappy sowel as wetenskap en kuns in diens van die kerk staan, sodat die kerk daaroor seggenskap het.

      Hierteenoor handhaaf ons die geref. beskouing:

      1.1 dat die Here vir die kerk 'n eie opdrag gegee het, nl. die verkondiging van die Heilige Woord en wat daarmee verband hou. (Sien Matt. 28:19);

      1.2 dat die kerk, veral in die prediking, geroep is om die lig van die Woord van God oor alle lewensfunksies te laat uitstraal en

      1.3 dat daar gemengde sake is waarby kerk, staat en maatskappy gemeenskaplike belang het.

      Oor die eerste twee punte hoef ons hier nie verder te spreek nie. Wat in geding is, is die gemengde sake waar gemeenskaplike belange aan die woord is.

      Om die gedragslyn van die kerk in hierdie opsig te omskrywe, verwys ons liefs na ons uitnemende KO self. Die woord "korrespondensie" wys ons hier die goeie weg. Daaronder het ons vaders verstaan dat belanghebbendes na gelang van voorkomende gevalle mekaar van die gewigtigste sake op hoogte hou, nou en dan verskillende belange met mekaar bespreek, mekaar se oordeel aangaande gewigtige punte inwin en daartoe desverkiesend oor en weer afgevaardigdes stuur.

      Hiermee meen ons is alles gesê wat in algemene sin oor die saak gesê kan word.

      Aan die kerklike vergaderinge moet dit verder oorgelaat word om self te bepaal wat die gemengde sake is en hoe die "korrespondensie" of verband bewerkstellig sal word (Acta 1942:24-26).

      Doop - bediening

      Omdat dit die Bybels reformatoriese volgorde is dat die sakrament op die Woord volg, besluit die Sinode van 1985 dat die doopbediening na die Skriflesing of na die prediking plaasvind (Acta 1985:421, pt. 4.2.1. en 4.2.4.1).

      Doop deur sektes bedien

      2.1 Die doop moet nie erken word nie:

      2.1.1 Wanneer dit bedien is in 'n antitrinitariese gemeenskap, wat hetsy die Persoon of die Goddelike Natuur van die Seun of die Goddelike Natuur van die Heilige Gees ontken.

      2.1.2 Wanneer dit bedien is in 'n geselskap wat die Nuwe Verbond of Testament van genade ophef, d.w.s. wat die soendood en die Middelaarswaardigheid van Christus ontken en wat Hom miskien net as ideaalmens, profeet, genie of voorbeeld voorhou.

      2.2 Op grond hiervan het die Sinode die volgende konklusie aanvaar:

      2.2.1 Persone wat deur herdoop hulle Christelike doop misken het, moet nie weer oorgedoop word nie, maar moet hulle dwalings herroep wanneer hulle toegelaat word tot die gemeenskap van 'n Gereformeerde Kerk. Of hierdie herroeping voor die kerkraad alleen, of openbaar voor die gemeente sal geskied, moet deur elke kerkraad self uitgemaak word (vgl. ook art. 75 KO).

      2.2.2 Persone wat alleen gedoop is in 'n antitrinitariese geselskap (bv. die Unitariërs of Russeliete) of in 'n gemeenskap wat die Nuwe Testament of Verbond, gevestig in die bloed van Christus ophef, moet weer gedoop word wanneer hulle in die gemeenskap van 'n Gereformeerde Kerk opgeneem word, aangesien hulle vorige doop nietig was of fiktief. Elke kerkraad moet self kennis neem in voorkomende gevalle of die geselskap waaruit 'n persoon oorkom, een is wat so 'n nietige of fiktiewe doop onderhou. Wanneer hieroor verskil van gevoele bestaan, moet die meerdere vergadering geraadpleeg word.

      2.2.3.1 In die geval van kinders van mense wat oorkom uit 'n antitrinitariese geselskap of een wat die middelaarsdood en -waardigheid van Christus ontken, dieselfde as in konklusie 2.2.2.

      2.2.3.2 In gevalle waar ouers uit sektes oorkom en ongedoopte kinders het, moet die kinders gedoop word (Acta 1930:28-30). In gevalle waar kinders tot jare van verstand gekom het, waaroor die kerkraad sal oordeel, sal die doop geskied volgens die formulier vir volwassenes (Acta 1945:126?).

      2.2.3.3 Die Sinode is van oordeel dat as 'n lidmaat van 'n Gereformeerde Kerk hom deur 'n sekte laat doop het, hy daardeur by sodanige sekte aangesluit het. Daardeur verval hy as lidmaat van die Gereformeerde Kerk en kan alleen weer opgeneem word na openbare belydenis van geloof (Acta 1945:126).

      Doop van aangenome kinders

      Oor die vraag of die doop aan aangenome kinders bedien mag word, besluit die Algemene Sinode van 1970 dat dit wel gedoen mag word. Wanneer lidmate aansoek doen om die doop van hulle aangenome kinders moet Kerkrade hulle vergewis dat:

      6.1 die aanneming ook in wetlike vorm sy beslag gekry het en

      6.2 die ouers die aanneming beleef as 'n aanneming in die Here.

      Dieselfde prosedure word gevolg as by die doop van natuurlike kinders en dieselfde formulier word gebruik (Acta 1970:137, pt. 6.b. en 6.c.).

      Doop van kinders in inrigtings

      Die huisouers, of ander verantwoordelike persone deur die Tehuiskommissie goedgekeur, mag die verbondskinders vir die doop aanbied (Acta 1949:278).

      Doop van kinders in pleegsorg

      ’n Kind wat wetlik by Gereformeerde ouers in pleegsorg geplaas is, ooreenkomstig die Here se eise wat aan doopouers gestel word, gedoop kan word (KO, artt 56 tot 58 en 60). Die besondere inhoud van die Doopsformulier en die Skrifgronde wat in die Doopsformulier aangebied word, moet in die bediening van kinders in pleegsorg in alle geval dieselfde bly.

      2 Motivering

      2.1 Twee Sinodes het hulle oor die doop van aangenomekinders uitgespreek.

      2.1.1 Sinode 1949 (Acta:278-279) het van prof JD du Toit se advies kennis geneem, naamlik dat ‘die huisouers, of ander verantwoordelike persone wat deur die Tehuiskommissie goedgekeur is, die verbondskinders vir die doop mag aanbied’.

      2.1.2 Sinode 1970 het ʼn breedvoerige studieverslagoor die doop van aangenome kinders ter tafel geneem en soos volg besluit (Acta 1970:137): ‘Kerkrade moet hulle daarvan vergewis dat, wanneer lidmate aansoek doen om die doop van hulle aangenome kinders dat:

      (1) die aanneming ook in wetlike vorm sy beslag gekry het, en

      (2) die ouers die aanneming beleef as ʼn aanneming in die Here.

      Dieselfde prosedure as by die doop van natuurlike kinders word gevolg, en dieselfde Formulier word ook hiervoor gebruik.’

      2.1.3 B Spoelstra (Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering, 1989:315) verwys na bogenoemde twee Sinodebesluite en maak die volgendeopmerking: ‘Deeglike studie van die leer van die verbond het aan die lig gebring dat die werk van God in die NT nie aan biologiese afstamming gebind is nie. Wanneer gelowige ouers ʼn kindjie wettig aangeneem het, is hulle in die Here die ouers van daardie kind. Niks kan die doop van so ʼn kindjie verbied nie’.

      2.2 Geen Sinode het hom tot op dese oor die doop van kinders in pleegsorg uitgespreek nie. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat wetgewing (Kinderwet) sedert 1970 insake pleegsorg en aanneming voortdurend en plek-plek ingrypend verander het. Sinodes is dit egter eens dat doop bedien kan word indien daar ordelike, wetlike toesig oor die kind is en dat die ouers die doopbelofte moet kan uitleef.

      2.3 Die doop van kinders – kinders in pleegsorg ingesluit – spruit voort uit die rykdom van die beloftes van die verbond en die seëninge wat God aan sy kinders wil bied. Die kerk, ouers- (pleegouers in dié geval) is verantwoordelik om die verbondsplig uit te voer.

      2.4 Die bepaling dat daar ’n “permanente” verband tussen ouer en pleegkind vooraf reeds uitgemaak moet word, kan nie deurgaan nie. In die Here se Woord, soos ook bely in Sondag 10 van die Kategismus, stel dat sulke kinders nie toevallig deel van die huisgesinne van sulke pleegouers geword het nie en sou sodanige inbind in die huisgesin van gelowige ouers tog ’n duidelike inbinding in die huis van die Here ook wil bring. Die feit dat alles in God se hande is en dat God in alle gevalle voorsien, bepaal dat ons nie die aspek van onbepaalde tyd voorwaardekan maak tot die bediening van God se opdrag en belofte aan diesulke kinders nie. Die ryke betekenis van die verbond van die Here waarsku juis ook teen die gevaar om die verbondsband te verskraal as sou dit net ’n biologiese band kon wees.

      2.5 Sinode 1970 het aangetoon dat aanneming, wat in dié geval versorging van die kind in pleegsorg kan insluit, ’n aanneming in die Here moet kan wees. Pleegsorg wat in die huidige wetgewing 'n meer wetlike vorm begin aanneem het, kan dan ook as aanneming in die Here beskou word.

      2.6 Die Kinderwet van SA (Wet No. 38 van 2005) beskryf die posisie van kinders asook die verantwoordelikhede en regte van ouers wat kinders in pleegsorg neem (Hoofstuk 13, deel 1, seksies 180-190 van die Kinderwet). Ingevolge die wet is die pleegsorg-ouers verantwoordelik vir die dag tot dag geestelike sowel as liggaamlike versorging van die kind in hulle sorg (Wet 38, hfst 13, Deel 1, 65 (1)). Die wet stel die belang van die kind op die voorgrond, waaronder die bied van sekuriteit in terme van opbou van gesonde gesinsverhoudings, asook die onderhouding van die taal-, kultuur en godsdienstige agtergrond van die kind (Deel 1, 65 (1) (a tot k, in besonder g en h) asook Aanhangsel B, Deel 2, 6). Alhoewel pleegsorgouers geen verhindering in die weg mag lê dat die kind met sy/haar biologiese ouer(s) kontak maak nie(Deel 1, 65 (1) (b)), is dit duidelik dat hulle as gevolmagtigde pleegsorgers verantwoordelikheid vir die kind in hulle sorg aanvaar. Saamgevat: ʼnkind in pleegsorg is ʼn kind wat op medium/lang termyn (ten minste twee jaar) onder die sorg van pleegouers staan. Die moontlikheid bestaan ook dat pleegouers so ʼn kind as hulle eie aanneem (Kinderwet, hoofstuk 16), wat ʼn permanente relasie tussen ouers en kind(ers) tot gevolg het.

      Doop van kinders van ouers wat nie belydenis van die geloof afgelê het nie.

      Die kinders van ouers wat self nie belydenis van die geloof afgelê het nie, moet gedoop word; maar dat die ouers ernstig vermaan word om belydenis te doen. Solank hulle self nog nie belydenis gedoen het nie, mag hulle nie as doopouers optree en ook nie as doopgetuies ingeskryf word nie (Acta 1873:154).

      Dooppraktyk - eenvormigheid

      Waar ouers nie lidmate van 'n Gereformeerde Kerk is nie, sal die kerkraad in elke partikuliere geval besluit of hulle voor die kansel toegelaat word of nie (Acta 1945:126).

      Egskeiding - grond

      Alleen owerspel word as grond vir egskeiding erken volgens Matt. 5:32 en nie kwaadwillige verlating nie (Acta 1924:44, Acta 1927:54, Acta 1964:475).

      Eksamen van persone wat elders gestudeer het

      Persone wat elders gestudeer het, d.w.s. nie aan die Teologiese Skool nie en wat begeer om by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die diens van die Woord te tree, wend hulle eers tot die Teologiese Skool waar op die vasgestelde wyse bepaal word of die voornemende kandidaat 'n sertifikaat van aflegging van die Kandidaatseksamen kan ontvang, soos dit vereis word vir die Voorbereidende Eksamen (Acta 1967:52).

      Eksamens - Teologiese Kandidate

      I Samehang en onderskeiding

      Die kerk:

      A Finaliseer en toets die teologies-wetenskaplike onderlegdheid van die toekomstige bedienaar van die Woord in die kandidaatseksamen;

      B toets, met die oog op beroepbaarstelling, die bekwaamheid en gawes van die kandidaat om sy teologies-wetenskaplike kennis in die praktyk toe te pas in die Voorbereidende Eksamens (preparatoir);

      C toets, met die oog op toelating tot en bevestiging in die amp, die regsinnigheid in leer en die vroomheid in lewenswandel van die proponent in die Toelatingseksamen (peremptoir).

      II Inhoud en afneem van die eksamens:

      A Die Kandidaatseksamen:

      Hierdie eksamen word volgens die bepalinge wat die Algemene Sinode van tyd tot tyd vasstel, deur die Kuratore van die Teologiese Skool afgeneem. 'n Student wat aan die Teologiese Skool die voorgeskrewe studiekursusse deurloop het, word dan aan die einde van die bepaalde studietermyn op die voorgeskrewe wyse geëksamineer.

      Hierdie eksamens moet die teologies-wetenskaplike peil en regsinnigheid, wat aan die Teologiese Skool gehandhaaf moet word, weerspieël. Die sertifikaat, wat die gunstige afloop van die kandidaatseksamen vermeld, word deur die Kuratore in naam van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika uitgereik. Hierdie dokument moet as bewysstuk dien dat die kandidaat in die Heilige Godgeleerdheid bekwaam geag word om: as bedienaar van die Woord op te tree, die Heilige Skrif te kan uitlê en die suiwere leer teen die ketterye en dwalinge te verdedig (vgl. art. 18 KO) (Acta 1967:48-49).

      B Die eksamen voor die Streeksinode (Acta 1970:127-128):

      Die praktiese besluit van die sinode ("om slegs een eksamen te bepaal vir voornemende bedienaars van die Woord, " en om "die een eksamen weer terug te bring na die Streeksinodes") word soos volg vasgestel:

      1 Direk nadat hy die Kandidaateksamen afgelê het, wend die kandidaat hom met die bewyse daarvan tot die korresponderende kerkraad van die Streeksinode uit die ressort vanwaar die kandidaat afkomstig was toe hy hom aangemeld het vir opleiding as bedienaar van die Woord, sodat die Streeksinode so gou doenlik en sonder onnodige uitstel opgeroep kan word vir die afneem van die eksamen met die oog op proponering en bevestiging in die amp.

      Die Streeksinode moet hom, voordat hy die eksamen laat plaasvind, vergewis van die feit dat die kandidaat die voorneme het om na aflegging van die eksamen 'n wettige beroep te aanvaar.

      'n Kandidaat wat die kandidaatseksamen afgelê het en wat nie van voorneme is om die eksamen volgens art. 4 KO af te lê nie en 'n beroep te aanvaar nie, moet van sy voorneme behoorlik en met aanbeveling van die Kuratorium van die Teologiese Skool, rekenskap gee aan die Streeksinode waar hy eksamen behoort af te lê, sodat die Streeksinode grondig op die versoek kan ingaan voor en aleer hy die kandidaat toestemming gee om sy voorneme ten uitvoer te bring.

      Die eksamen word, met die oog op beroepbaarstelling en bevestiging in die amp, afgeneem deur die Streeksinode ooreenkomstig sy bepalinge.

      2 Vir die deugdelike en min of meer eenvormige afneem van hierdie eksamen stel die sinode vir die Streeksinode as riglyne die skema soos vervat in die besluit van die sinode 1967, art. 212 4 b (1) - (2) (f) en C (a) en (b) (bl. 49-51):

      a) By hierdie meerdere vergadering moet die kandidaat dan die volgende stukke inlewer:

      i 'n Getuienis oor leer en lewe deur die kerkraad of -rade onder wie die kandidaat die laaste twee studiejare

      ressorteer het. Op grond van die getuienis moet die kerkraad ook 'n aanbeveling maak.

      ii 'n Akte van bewys dat hy die kandidaatseksamen soos deur die Alg. Sinode vereis, met goeie gevolg afgelê

      het.

      3 Die eksamen voor hierdie meerdere vergadering sal hoofsaaklik uit die volgende bestaan:

      a) Die kandidaat moet 'n preek voor die vergadering lewer, sodat geoordeel kan word oor sy geskiktheid in die beoefening van die preekgawes en oor sy bekwaamheid in die uitlegging van die Heilige Skrif volgens die grondteks. Vir die doel moet die betrokke meerdere vergadering minstens ses maande voor die eksamen 'n aantal Skrifgedeeltes aandui waaruit die kandidaat 'n keuse kan maak. Die preek moet sy eie werk wees en mag nie voor die eksamen gebruik word nie.

      b) Verder moet met die eksamen vasgestel word of die kandidaat bekwaam is om as herder en leraar die hoofsake van die geloofsleer te verduidelik, as kategeet op te tree en as kerkregeerder te dien.

      c) Die vergadering sal die reg hê om enige punt wat verband hou met sy beroepbaarstelling en proponering, baie deeglik te ondersoek ten einde seker te maak dat hy wel bekwaam is om met stigting voor die gemeente op te tree.

      d) Die vergadering sal die reg hê om enige punt, hetsy oor die leer of iets anders, baie deeglik te ondersoek en vir daardie doel die kandidaat te ondervra ten einde sy sienswyse grondig na te gaan.

      e) 'n Grondige ondersoek na die beweegredes tot die amp. Die vergadering stel sowel uit die voorgelegde stukke as uit die eksamen vas dat die kandidaat wel oor die nodige gawes om in die roeping as herder en leraar vrugbaar werksaam te wees, beskik. Daaruit moet blyk dat hy goeie studie- en preekgawes besit; dat hy met lewenswysheid, nie alleen in eie kring, maar ook in die openbaar en na buite waardig kan optree; dat hy as goeie voorganger ook die temperamentele geskiktheid het om, soos dit gestel word in 2 Tim. 2:24 (ʼn Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra'), te kan optree.

      4 Verdere ondersoek aan die hand van die volgende riglyne kan soos volg gedoen word:

      a) Of hy die roeping voel: van wanneer af, opvoeding in die ouerhuis, belangstelling en meelewend in die geestelike en kerklike dinge.

      b) Het hy rekening gehou met hierdie roeping in sy optrede as jongeling; in die studentetyd; in die keuse van 'n lewensgesellin?

      c) Was daar toename in die begeerte om predikant te word? Was daar groei in hierdie roepingsbewustheid, veral in die studiejare as teologiese student?

      d) Is die begeerte en roepingsbewustheid in ooreenstemming met die Skrifvereistes vir 'n dienskneg van die Here: nie hoogmoedig te wees of homself te soek nie of om 'n gesiene posisie in die lewe te bekom nie? Kom daar al iets in hom tot openbaring van wat Christus leer in Mat. 11:29: 'Leer van My dat Ek sagmoedig en nederig van hart is'? 'Die gesindheid wat in Jesus Christus was, moet ook in ons wees', (Fil. 2:1-8); 'Vrug van die Heilige Gees' (Gal. 5:22), moet in die dienskneg van die Here altyd tot openbaring kom."

      5 Omdat dit ook 'n toelatingseksamen (vgl. Acta 1967:51, pt. C) is, gaan die eksamen ook oor:

      a) die leer: Dit moet 'n toets wees van die proponent se regsinnigheid op grond van die dogma van die kerk. 'n Toets van sy regsinnigheid in die kerkreg. 'n Toets van sy regsinnigheid in die uitvoering van sy ampswerk, t.w. Hermeneutiek, Homiletiek, Kategetiek, Pastoraal en Liturgiek.

      3) Sy lewe:

      a) 'n Intieme ondersoek na die lewens- en wêreldbeskouing en die lewenspraktyk van die proponent, desnoods deur 'n vertroulike kommissie van die klassis.

      b) Hierby word ook vrae oor die Christelike Etiek in die volle klassis aanbeveel. Na afloop van hierdie eksamen word die proponent se toelating tot bevestiging as predikant van die betrokke kerk in 'n geslote vergadering besluit en die uitslag aan hom meegedeel.

      6 Slaag die kandidaat in die eksamen onderteken hy die formulier vir proponente. Daarna stel die vergadering hom beroepbaar en ontvang hy die reg om te proponeer, d.i. preekkonsent met die oog op 'n beroep. Nadat hy wettig beroep is, mag hy bevestig word.

      A Riglyne vir twee eksamens:

      Die besluit met riglyne vir twee eksamens afgeneem deur klassisse (Acta 1967:49-51, art. 212) word behou om deur Streeksinodes in werking gestel te word wanneer hulle dit onder besondere omstandighede nodig ag (Acta 1970:128, pt. 3).

      Emeriteringsouderdom van predikante en professore

      Waar art. 13 KO melding maak van ouderdom, word die "ouderdom" deur die Kerkraad, Klassis en Streeksinodedeputate bepaal op versoek van ʼn predikant en kerkraad (Acta 1997:370).

      In die lig dat beide die emeritaats- en pensioenfonds uitgaan van die veronderstelling dat predikante normaalweg op ouderdom 65 emeriteer, moet kerkrade en predikante daarvan kennis neem dat die versorgingsbedrag van predikante wat nie medies ongeskik is nie en wat voor ouderdom 65 emeriteer, in verhouding met die diensjare aansienlik gaan verminder (Acta 1997:370).

      Emeriteerouderdom % van versorgingsbedrag (slegs die EVT)

      Na 55 maar voor 56 40%

      Na 56 maar voor 57 44%

      Na 57 maar voor 58 48%

      Na 58 maar voor 59 52%

      Na 59 maar voor 60 56%

      Na 60 maar voor 61 60%

      Na 61 maar voor 62 68%

      Na 62 maar voor 63 76%

      Na 63 maar voor 64 84%

      Na 64 maar voor 65 92%

      Na 65 100%

      (Acta 1997:261)

      Die professore tree normaalweg af op ouderdom 65 jaar. By voorlegging van bevredigende getuigskrifte oor gesondheid en werkvermoëns kan die Kuratorium in oorleg met die PU vir CHO die diens van jaar tot jaar verleng (Acta 1979:193, ook Acta 1994:654, 655).

      Funksionele differensiasie - ouderlingamp

      Die Sinode van 1967 het 'n rapport insake Funksionele Differensiasie van die ouderlingamp behandel en besluit dat daarin begripsverwarring voorkom en dat daarin 'n misinterpretasie van art. 23 van die Kerkorde opgesluit lê (Acta 1967:100-102).

      Gemengde huwelike

      Die kerk van Christus is by elke huweliksluiting ten nouste betrokke, naamlik om toe te sien dat die huwelik as 'n heilige verbintenis "in die Here" aangegaan word. Wat in die Heilige Skrif baie duidelik verbied word, is geloofsgemengde huwelike. Ten opsigte van rasgemengde huwelike bied die Skrif geen regstreekse uitspraak nie asook geen grond om huwelike bloot vanweë ras- en kleurverskil vir ongeoorloof te hou nie (Acta 1985:441).

      Die huwelik is 'n instelling van God wat die huwelikspaar, die familie, die kerk en die samelewing - waarby die regering ingesluit is - wesenlik raak. Die Heilige Skrif gee nie 'n uitgesproke oordeel oor rasgemengde huwelike nie. Bybelse lering oor die huwelik en oor die eenheid van die mensdom bied geen gronde om sulke huwelike as ongeoorloof te beskou nie. Die huwelikspaar, familie, kerk en staat behoort hulle in die geloof aan hierdie Bybelse beginsels te onderwerp. In die praktyk verplig die Christelike liefde om die probleme op die persoonlike, familie- en sosiale vlak, wat ras- en etniese en kulturele verskille in 'n rasgemengde huwelik kan veroorsaak, in ag te neem. Hierdie implikasies geld veral vir kinders uit sulke huwelike. Daarom is dit noodsaaklik dat elkeen van die betrokke partye - die familie, kerk en staat - elkeen volgens sy roeping in ooreenstemming met die bogenoemde Bybelse beginsels hierdie implikasies aan die huwelikspaar sal aantoon (Acta 1988:55).

      Grensreëlings

      By verskille oor die grense van 'n nuwe gemeente of 'n te herstigte gemeente of by die herreëling van grense van bestaande gemeentes moet kerkrade hulle wend tot die klassis, wat dan beslis (Acta 1955:319; vgl. ook Acta 1985:58, pt. 2.3.5 sowel as Acta 1873:44 en Acta 1876:51 {art. 188} en 1873:52 {art 194}).

      Huisbesoek by predikante en ouderlinge

      Volgens art. 23 Kerkorde word aan ouderlinge opgedra "om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om die lidmate veral te vertroos en te onderrig..." Hier word dus die volgende doelstellinge aangedui:

      1.1 tot stigting van die gemeente - waaronder verstaan moet word die "opbouing van die geloofslewe" van die gemeentelede;

      1.2 tot vertroosting van die lidmate - dit kan gevolglik gedoen word deur persoonlike kontak in die huise;

      1.3 tot onderrigting van die lidmate - dit word hier as 'n opdrag aan die ouderlinge gegee om aan die huise van die lidmate ook onderrig te verstrek (Acta 1982:468, pt. C.2).

      Vir die doeltreffende uitoefening van hierdie opdragte word aan elke ouderling van 'n gemeente 'n spesifieke wyk opgedra waarvoor hy verantwoordelik is. Die lidmate wat binne die vasgestelde grense van 'n wyk woonagtig is, word dus aan die sorg van die ouderling vir daardie wyk opgedra, sodat bogenoemde doelstelling deur hom aldaar nagestrewe moet word en daarvan moet hy van tyd tot tyd rekenskap gee aan die kerkraad.

      As daar nou in so 'n afgebakende wyk ook huisgesinne is waarvan die hoofde in een van die ampte staan, maak dit geen saak nie en genoemde huisgesinne van 'n predikant of ouderling word nie onttrek aan die herderlike sorg van die ouderling bloot deur die feit dat hulle in die amp staan nie.

      Die afsonderlike ampsdraers word weliswaar ook weer kragtens art. 81 KO aangewys om mekaar op te skerp in die uitoefening van die ampswerk, maar dit is heeltemal 'n ander opdrag wat by die van artikel 23 moet kom.

      Die bearbeiding van die gesinne van ampsdraers moet dus geskied deur die ouderling wat verantwoordelik is vir daardie wyk. Hierdie bearbeiding van die huise van mede-ampsdraers moet nie vervul word met 'n verkeerde gees nie maar in presies dieselfde gees waarin al die ander gesinne bearbei word.

      So spreek dit vanself dat 'n ouderling verantwoordelik is vir die bearbeiding van sy eie huis as dit binne sy ressort val. Met medewete en goedkeuring van die eerwaarde kerkraad kan hy sekerlik versoek dat 'n ander ouderling daar optree, maar dit bly sy opdrag. En so moet ook die huis van die predikant bearbei word deur die ouderling van die wyk waarin hy woonagtig is (Acta 1952:220-221).

      Huwelike sonder kerklike inseëning

      Die Generale Sinode keur die huwelik sonder kerklike inseëning af en maan kerkrade aan om op katkisasie, by huisbesoek, in die prediking daarteen ernstig te vermaan (Acta 1936:170).

      Huweliksgebooie - afkondiging

      Die Sinode besluit dat volgens art. 70 KO dit noodsaaklik is dat voorgenome huwelike voortaan nog aan die gemeente bekend gestel sal word (Acta 1973:330, pt. E. 1.2).

      Kandidate - staking van stemme by oorweging van toelating

      As stemme staak oor die toelating van kandidate tot die Heilige Diens, sal dit beskou word as nie-toelating (Acta 1873:35; vgl. ook bylaes bl. 49 vir die volledige besluit).

      Kelkies

      1 Gebruik van aparte kelkies by die Nagmaalsviering: Die Sinode van 1930 het 'n lang rapport daarteen goedgekeur (Acta 1930:47-50).

      2 Gemoedsbesware teen aparte kelkies (Acta 1930:157-159)

      3 Prinsipiële raamwerk insake die viering van Nagmaal (Acta 2000:400-401; Acta 2003:531-539)

      Kerkraad – woordbetekenis in artikel 79 KO

      Die kerkraad bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge (vgl. art. 37 KO en Acta:1979:560, art. 157).

      Kerkseel

      I Die seel is 'n kerkie op 'n rots gebou met randskrif die naam van die betrokke instansie wat dit gebruik en die devies as onderskrif op die rots: "Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie".

      II Die seel sal slegs in een grootte gebruik word.

      III Die gebruik van die seel:

      A Kerke is geregtig om die seël te gebruik met die randskrif Die Gereformeerde Kerk N.N. (afb. 4).

      B Meerdere vergaderings van kerke is geregtig om die seel te gebruik met die naam van die betrokke vergadering as randskrif (afb. 5).

      B Ander instansies kan, wanneer dit nodig blyk te wees, deur 'n Algemene Sinode gemagtig word om die seel te gebruik.

      IV Afdrukke van die seel sal deur die Administratiewe Buro op versoek van kerke, aan hulle verskaf word vir gebruik (Acta 1967:158-159; vgl. ook Acta 1970:105).

      Korrespondensie – algemeen

      'n Belangrike rapport wat aanvaar is, het voor die Sinode gedien. Die konklusies daarvan lui soos volg:

      1.1 Konklusies i.s. "korrespondensie":

      1.1.1 Die term "korrespondensie" hoef nie vervang te word deur 'n ander term wat beter sal pas by die huidige omstandighede nie, maar dit moet slegs nader omskryf word.

      1.1.2 Die nadere omskrywing moet saamval met die onderskeiding van kerke in dieselfde kerkverband en min of meer verwante kerke in verskillende kerkverband.

      1.1.3 Die nadere omskrywing moet aansluit by die van die Sinode van Grand Rapids, nl. korrespondensie in engere (of eintlike) sin en korrespondensie in ruimer sin. Die eerste sien dan op kerke in een kerkverband (art. 48 KO) ook waar dit oor die nasionale grense heen gaan. Dit is kerklike korrespondensie. Die tweede sien op kerke in verskillende kerkverband. Dit is interkerklike korrespondensie.

      1.1.4 Gelyktydige korrespondensie van 'n kerk in een land met kerke in verskillende kerkverband in 'n ander land is moontlik met inagneming van die onderskeiding tussen korrespondensie in engere sin en korrespondensie in ruimer sin (vgl. hierby Acta 1961:528-529, pt. 5).

      1.1.5 Sowel korrespondensie in ruimer sin as korrespondensie in enger sin kan onderhewig wees aan nadere reëling. Wat die laaste betref, kan bv. rekening gehou word met besondere omstandighede (Acta 1955:163).

      1.2 Konklusies insake die vraag of die kerkverband verder strek as nasionale en territoriale grense:

      1.2.1 Hierop moet bevestigend geantwoord word en Gereformeerde Kerke in verskillende lande wat een is in belydenis en kerkregering (NGB art. 29) kan saamkom in 'n gewone ekumeniese sinode na analogie van art. 36 KO

      1.2.2 Die noue kontak tussen die Gereformeerde Kerke, wat met mekaar kerklike korrespondensie onderhou, moet voortgaan deur afgevaardigdes oor en weer te stuur, nie slegs om groete oor te bring nie maar om oorleg te pleeg in verband met gemeenskaplike belange (Acta 1955:164-165).

      Korrespondensie - huidige praktyk

      (Acta 1991:786 e.v.)

      In die praktyk word die korrespondensie tans nog deur die volgende deputate van Sinodes (Potchefstroom) van die GKSA behartig:

      - Deputate GER en Ekumeniese Aangeleenthede

      - Deputate vir Korrespondensie met Buitelandse Kerke

      - Deputate vir Gesprek met NH en NG Kerk

      Kredensiebriewe

      1.1 Lasbriewe vir afgevaardigdes na meerdere vergaderings moet onderteken wees deur praeses en skriba (Acta 1869:13, 16).

      1.2 Die Sinode maan die kerkrade aan om toe te sien dat geloofsbriewe behoorlik opgestel sal word, met vermelding van die amp van die afgevaardigde (Acta 1945:13).

      1.3 Die Sinode van 1967 het besluit om art. 33 KO konsekwent toe te pas sodat alleenlik opdragte van streeksinodes ter tafel geneem mag word, omdat:

      a. die streeksinodes die lasgewer van die Algemene Sinodes is en

      b. die sakelyste van die Algemene Sinodes nie oorlaai behoort te word met onbestudeerde en onverantwoorde "opdragte" nie (Acta 1967:349-350).

      Kworum

      Kerkrade, klassisse en Streeksinodes sal hulle eie kworum bepaal. Die sinode ag dit wenslik dat dit nie minder as die helfte plus een sal wees nie.

      As verskeie lede van 'n kerkraad sodanig betrokke is dat hulle geen sitting kan neem nie en daar geen kworum oorbly nie, dan moet dit bereken word na die getal wat nog oorbly.

      As besware teen die hele kerkraad gemaak word, moet volgens Kerkorde die meerdere vergadering in die saak handel (Acta 1920:58).

      Liturgie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

      Sien Acta 1997:731-768 vir die volledige besluit.

      Die erediens bestaan uit vier hoofmomente.

      1. Die Ontmoetingsdiens (Introïtus)

      Die Ontmoetingsdiens bestaan uit die vier elemente, Votum, groetseën, lofliedere en geloofsbelydenis.

      1.1 Die Votum

      Die funksie van die votum is dat die gemeente openlik en nederig, plegtig verklaar dat die erediens 'n saamkoms van God met sy volk, en daarom van sy volk met Hom en met mekaar is.

      1.2 Die Groetseën

      Die Formule wat in die samekomste vir die groetseën gebruik moet word, moet woorde van God wees, gerig aan gemeentes. Hierdie Formules kom voor in die briewe van die Nuwe Testament aan bepaalde gelowiges, daarom ook in Openbaring 1:4,5 wat gerig is aan die sewe gemeentes in Klein Asië.

      1.3 Lofpsalm

      Hierdie liturgiese handeling van die gemeente as deel van die Ontmoetingsdiens het die spesifieke doel om op God se groetseën te antwoord. Dit kan ook deur die sing van meer as een loflied geskied.

      1.4 Die Geloofsbelydenis

      Die liturgiese plek van die geloofsbelydenis is in die reël na die loflied. Die geloofsbelydenis kan egter ook elders aan die hand van bogenoemde riglyne liturgies sinvol en ordelik aangewend word.

       

      2. Verootmoedigings- en Versoeningsdiens in die samekoms

      Na die Ontmoetingsdiens is die gemeente sterk bewus van die heilige volmaaktheid van God, wat in skerp teenstelling is met die gemeente se sonde, ellende en onwaardigheid. Hierdie teenstelling moet en wil die gemeente voor God erken en bely (Jes 6:3-7) en so word die gemeente in ootmoed voor die Here gestel. Hierdie besef kan alleen in sondaarharte deurbreek deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Die elemente van skuldbelydenis en vryspraak in die liturgie kan nie op 'n vaste patroon, bloot vir roetinedoeleindes voorgeskryf word nie. Die elemente kom in die prediking en in die Formuliere (veral Nagmaal) voor.

       

      2.1 Die afkondiging van die Wet

      Die voorlesing van die Wet, as kenbron van ellende, as tugmeester tot Christus en as reël van dankbaarheid het 'n plek in die deel van die Verootmoedigings- en Versoeningsdiens. As Verbondsgemeente moet die gemeente die Wet in sy geheel ten minste een maal op die Rusdag aanhoor as bekragtiging van die Verbondsverhouding met God. Die voorlees van die Wet uit Eksodus 20 en Deuteronomium 5 beklemtoon die Wet as geheel.

      Ander Skrifgedeeltes kan die Wet se beloftes en eise as Verbondboek na vore bring, bv.: Ef 4:25-5:3, Rom 12:9-21, dele uit die Bergrede en Kol 3:5-17 en kan aanvullend saam met die voorlesing van die Wet gebruik word.

      3. Die Woorddiens

      Die Woorddiens omvat die gebed om die verligting van die Gees, die Selfstandige Skriflesing, die Skriflesing waaruit die prediking kom, die prediking en die sakramente.

      3.1 Die Gebed om verligting (epiklese)

      Die noodsaak van gebed om die verligting van die Heilige Gees gerig op die Woorddiens word opnuut beklemtoon, sonder om die inhoud van die eerste gebed (of dit meer as die epiklese kan omvat) voorskriftelik te maak. Hierdie gebede kan voor of na die Skriflesing geskied en kan gepraat of deur die gemeente gesing word. Weens die verduisterde verstand en hart van die mens en weens die Goddelike aard van die Skrif moet gebid word dat die Woorddiens waarlik opening, ontsluiting en toepassing van die Woord sal wees, en dat die gemeente die Woorddiens as Woord van God sal aanneem en dat die Woord vrug sal voortbring. Hierdie gebed van die gemeente spruit voort uit hulle totale afhanklikheid van God die Heilige Gees as die eintlike Inspireerder en Verklaarder van die Goddelike Woord. Die bede om verligting gaan nie net om prediking nie, maar moet veral ook op die voorlees en aanhoor van die Woord gerig wees. Die gebed is dat God in die voorlees en aanhoor van die Woord mense sal aanspreek en dat die gemeente die gelese en verkondigde Woord as die eie Woord van God sal aanneem, toe-eien, gehoorsaam en uitdra.

      3.2 Die Selfstandige Skriflesing

      Die liturgiese handeling van die Selfstandige Skriflesing as liturgiese moment word onder die Woorddiens erken. Die beoefening van hierdie liturgiese handeling word aan die vryheid van die plaaslike kerk oorgelaat.

      3.3 Die Skriflesing waaruit die prediking voortvloei

      Die prediking het ’n dienende funksie van oopmaak en toepas ten opsigte van die Skriflesing waaruit die prediking voortvloei en behoort so nou as moontlik daaraan verbind te word. Die koppeling van Skriflesing en prediking word aan die vryheid van die plaaslike kerk oorgelaat.

      3.4 Die prediking

      Die ontmoeting van God met sy volk kom verder tot uitdrukking in die kragtige Woorddiens waar God in die mededeling van sy genadegawes, sy volk vertroos en vermaan met die belofte en eis van sy verbond met ons. Hierdie Woorddiens is ’n besondere liturgiese handeling wat die sleutels van die koninkryk van die hemel in die samekoms bedien. God is aan die woord deurdat die prediking die Woord as opdrag het. Die lewende God se lewende Woord word verkondig (uitlê en toepas) en dwing tot ‘n lewende, dinamiese, appellerende oordra van die prediking.

      3.5 Die sakramente

      Die Sinode van 1985 het duidelike besluite oor die liturgiese inhoud van die doop en Nagmaal geneem en die liturgiese plek by albei sakramente aangedui as ná die Woord (by die doop ten minste na die Skriflesing). Verder is geen opdragte rakende die sakramente aan hierdie Deputate gegee nie.

      4. Die Antwoorddiens (Responsoria)

      In die Responsoria kom normaalweg die aanbidding deur gebede waarin die voorganger die gemeente voorgaan, en die gebede wat die gemeente sing, asook die liefdegawe na vore. Omdat dit antwoord van die gemeente is, kan die geloofsbelydenis en skuldbelydenis ook by uitsondering hier voorkom.

      4.1 Die "amen" van die gemeente

      Die "amen" aan die einde van handelinge soos die prediking, gebede en geloofsbelydenis is die gemeente se instemmende belydenis en bevestiging. Dit is die vasgryp aan wat God in sy verbond beloof en die bevestiging van wat bely en gebid is (vgl. Kategismus, Sondag 52). Ter wille van goeie orde gaan die voorganger die gemeente hierin voor of laat dit saamsing.

      4.2 Gebed

      Die liturgiese plek van gebede in die samekoms word aan die vryheid van kerke oorgelaat, met die riglyn dat die gebed om verligting voor die Woorddiens plaasvind en die omvattende gebed van lofprysing, aanbidding, dank, verootmoediging en skuldbelydenis en smeking/voorbidding in die Antwoorddiens, omdat aanbidding deur die Woorddiens opgeroep word. Die liturgiese handeling van stilte na die Woorddiens, voor die aanbidding as antwoord op die Woorddiens, word aan die vryheid van die kerke oorgelaat. In die gebede in die samekoms van die gemeente behoort die volgende onder andere aandag te kry: verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens, aanbidding, skuldbelydenis, dank, smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God (bv. Neh 1:8-10; Luk 11:13). Die liggaamshouding behoort te pas by die liturgiese betekenis en wese van die gebed en altyd eerbied te betoon in die wete dat die Drie-enige God aangeroep word. Die gebedshouding van die hele gemeente word aan die vryheid van die kerkraad oorgelaat.

      4.3 Sing van Psalms

      Die sang van die gemeente is ’n belangrike onderdeel van die Antwoorddiens, maar as respons van die gemeente kom dit as liturgiese handeling ook in die ander hoofmomente van die liturgiese gang voor. Sang is diensbaar aan die woorde waarmee met God in die liturgie gekommunikeer word omdat die gemeente daarin as geheel aan die woord kom. Die lied dien as ’t ware as Formulier om in eenheid te aanbid, smeek, bely, prys, verheerlik en te verootmoedig. Waar sekere Psalms en Skrifberymings hulle daartoe leen, kan van wisselsang gebruik gemaak word. Dit word aan die vryheid van die kerke oorgelaat.

      4.4 Die liefdegawe of Christelike handreiking

      Die liefdegawe of Christelike handreiking vorm deel van die antwoord van dankbaarheid op die Woorddiens. Met hierdie daad betuig die gemeente sy dank aan God vir die meedeling van sy genadegawes op tasbare wyse. Die gemeente moet goed ingelig wees, liefs die vorige Sondag, waarvoor die gawes bestem is.

      5. Die wegstuurseën

      Die seën van die Here aan die einde van die erediens het nie die betekenis om die slot van die samekoms aan te dui nie, maar wel die wegstuur van die gemeente om onder die seënende hand van die Here tot die aksie van diens uit te gaan. Dit moet liturgies in woord en gebaar duidelik wees dat die dienaar gemagtig is om die seën van die Verbondsgod, namens Hom, op die Verbondsgemeente te lê. Die besluite van Sinode 1985:420 ten opsigte van hierdie liturgiese handeling bly steeds van krag.

      Losmaking en bevestiging van predikante

      2.1 By die losmaking van dienaars asook by die bevestiging van dienaars en proponente sal daar deputate wees namens die klassis, wat bestaan uit twee lede deur elkeen van die twee naburige kerkrade benoem, saam met die konsulent. Hierdie kommissie moet kennis gee van die afloop aan die kerkraad van die korresponderende gemeente van die klassis (Acta 1904: ).

      2.2 Die reiskoste van hierdie deputate word deur die gemeente wat beroep het, gedra (Acta 1904: ; Acta 1967:580-

      581).

      Losmaking en bevestiging van predikante as professore in teologie

      3.1 'n Predikant word afgesonder in die diens van professor aan die Teologiese Skool kragtens die roeping o.a. in 2 Tim. 2:2 ten behoewe van die opleiding van bedienaars van die Woord.

      3.2 Die diens as professor aan die Teologiese Skool onthef die predikant van die verpligting aan die ander fasette van die ampswerk as predikant, maar hy behou die bevoegdheid daartoe onder toesig van die plaaslike kerk.

      3.3 Die professor aan die Teologiese Skool is vir sy diens aan die Teologiese Skool aan al die plaaslike kerke in die kerkverband gelyklik verbind.

      Bg. beginsels word in die praktyk soos volg toegepas:

      3.4 'n Professor aan die Teologiese Skool word slegs beroep uit die diensdoende predikante van die plaaslike kerke binne kerkverband.

      3.5 Die beroep (verkiesing en bevestiging) van 'n bedienaar van die Woord as 'n professor aan die Teologiese Skool en die toesig oor sy diens as professor geskied deur al die kerke in kerkverband deur middel van hul afgevaardigdes, ooreenkomstig die bepalings van die Algemene Sinode. (Vir die beroepingsvergadering vgl. die verwysing by art. 18 KO).

      3.6 Die predikant wat as professor beroep is, moet vir sy bevestiging die akte van losmaking van die plaaslike kerk wat hy gedien het, voorlê in terme van die prinsiepe 3.2 hierbo.

      (Acta 1973:315, pt. 2.2.1.1 - 2.2.2.3.)

      Lykverbranding

      Die Sinode het oor die toenemende gebruik van lykverbranding in ons land besluit:

      Die Sinode merk met leedwese op dat lykverbranding toeneem en is van oortuiging dat dit nie moet nagevolg word deur ons lidmate nie en wil daarteen waarsku omdat dit van heidense oorsprong is en in stryd is met die eeue-oue gebruik van begrafnis soos dit voorkom in die Ou en Nuwe Testament.

      Verder kan die Christelike kerk hom nie met lykverbranding verenig nie, want met die skynargument dat dit om gesondheidsredes gedoen word, skuil agter lykverbranding 'n materialistiese wêreldbeskouing. Vir die Christen met sy geloof aan die opstanding het die begrafnis die simboliese betekenis dat die liggaam aan die aarde toevertrou word as 'n graankorrel wat eers sterf om later heerliker te voorskyn te kom (Acta 1933:117 en 122; vgl. ook Acta 1952:208, pt. 1 en 1952:216, pt. 1).

      Naam en eiendom van die kerke

      I Al wat benoem moet word, is die plaaslike kerk. Dit behoort deur die betrokke plaaslike kerke self te geskied, ooreenkomstig die betrokke besluit van die Sinode van 1955, bv. Gereformeerde Kerk Rustenburg (Acta 1985:477, pt. 4.1).

      II Ter wille van identifisering en voorkoming van verwarring kan meerdere vergaderinge self 'n naam aan die besondere samekoms van die kerke gee, of dit bly soos dit is - met die voorbehoud dat dit nie 'n naam van 'n kerklike liggaam as 'n entiteit benewens die plaaslike kerke is nie (Acta 1985:477, pt. 4.2).

      III Wanneer die Gereformeerde Kerke in kerkverband as 'n groep kerke van ander denominasies onderskei moet word, moet die meervoud, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, gebruik word (Acta 1985:477, pt. 4.3).

      IV Die Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika moet tot 'n regspersoon omgevorm word ten einde hom in staat te stel om regshandelinge te verrig wat verband hou met die doel en funksies waarvoor hy gestig is. Nadat die Administratiewe Buro tot regspersoon omgevorm is, word hy die eienaar van alle gemeenskaplike roerende bates van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in hierdie sinodale verband asook van alle ander roerende bates wat deur hom geadministreer word, uitgesonder sodanige roerende bates as wat: 1) aan trustees behoort en deur hom namens sodanige trustees geadministreer word; 2)aan enige stigting of maatskappy behoort en deur hom namens sodanige stigting of maatskappy geadministreer word (Acta 1985:477, pt. 4.4 - 4.5). Die Administratiewe Buro word hiermee vrygestel van die stel van sekerheid tot bevrediging van die Meester van die Hooggeregshof vir die behoorlike en getroue beheer van gelde wat aldus die eiendom van die Administratiewe Buro word soos vereis in artikel 3 van die Trustgeldebeskermingswet 34 van 1934 en die Meester van die Hooggeregshof word hiermee gelas om van sodanige sekerheid af te sien soos in artikel 3(1) van die vermelde Wet bedoel (Acta 1988:500, pt. 4.8).

      V Die Algemene Sinodebesluit 1955 (Acta 1955:83) word onder aandag van alle kerke en meerdere vergaderings gebring (Acta 1985:478, pt. 4.6.2).

      Die volgende Sinodebesluite word herroep:

      1 paragraaf 2 van die Sinodebesluit van 1955 (Acta 1955:83-84, pt. 2a, 2b, 2c, 2d);

      2 paragraaf 6.2 van die Sinodebesluit van 1982 met betrekking tot stigtings (Acta 1982:630B, pt. 6.2, 6.2.1, 6.2.2, 6.2.3, 6.2.4) (Acta 1985:479, pt. 4.8).

      “6 In die lig van die rapport van die deputate vir korrespondensie met die Hoë Owerheid oor die onderhawige saak, sowel as die bespreking wat in die Sinode gevoer is, besluit die Sinode: 6.1 Aangesien die bestaande kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika geen bepalings het omtrent die eiendomme van die afsonderlike kerke, om dit te verkry, te besit, te bestuur of te vervreem of op 'n ander manier te handel met roerende of onroerende goedere deur elke sodanige gemeente nie, so verklaar die Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika soos volg:

      “6.1.1 Elke Gereformeerde Kerk binne die kerklike gemeenskap van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, is alleen eienaar van sy goedere en fondse en al sulke goedere en aktes daaroor en alle verbande in sy guns op las gepasseer, word geregistreer en gedoen op en in naam van die betrokke kerk en wel soos volg: Die Gereformeerde Kerk..........

      “6.1.2 Die kerkraad van elke gemelde kerk is bevoeg in naam en ten behoewe van sy kerk tot alle eiendomsdade van watter aard ook, maar in besonder en sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid van die voorgaande om roerende en onroerende goedere te koop, te huur, te verhuur, te verkoop, met verband of servitute of ander laste te beswaar, verder om roerende en onroerende goedere om oorsake wat die betrokke kerkraad genoegsaam oordeel, weg te skenk of teen minder as die waarde daarvan oor te maak en om fondse op verbande of ander deur die kerkraad goedgekeurde sekuriteit uit te leen en te belê.

      “6.1.3 Die kerkraad van elke gemelde kerk is bevoeg om gevolg en uitvoering te gee aan al die voorgaande handelinge ingesluit die passeer en transport van onroerende goedere, om alle dokumente te teken of te laat teken deur sodanige persoon of persone as wat deur die kerkraad daartoe gemagtig word.

      “6.1.4 Bostaande geld vir alle bestaande en nog te stigte Gereformeerde Kerke binne die kerklike gemeenskap van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika." (Acta 1982:630A).”

      Nagmaal - lees van formulier

      Die Formulier moet gelees word elke keer as die Nagmaal gevier word, sonder dat dit aanleiding gee tot 'n opsionele tweede nagmaalsviering (Acta 1967:165).

      Nuwe gemeentes

      Nuwe gemeentes sal alleen gestig word na goedkeuring van die respektiewe klassisse. As die lede van die nuwe gemeente tot twee Streeksinodes behoort, moet toestemming verkry word van altwee betrokke klassisse. Hierdie besluit is ook van krag as stigting verlang word deur persone wat nog nie in kerkverband met die Gereformeerde Kerke geleef het nie (Acta 1955:319; vgl ook Acta 1985:58, pt. 2.3.5).

      Oefening van preekgawes

      Die Sinode besluit dat die optrede van studente voor gemeentes om hulle preekgawes te oefen die spreek van 'n stigtelike woord is (Acta 1961:244, pt. f).

      Onderbreking van diens vir 'n tyd

      Artikel 14 van die Kerkorde bepaal dat 'n predikant altyd gebonde bly aan die roeping van die kerk waaraan hy verbonde is, selfs wanneer hy gedwing word om die uitoefening van sy amp vir 'n tyd deur omstandighede te onderbreek.

      In die artikel word vier beginsels gestel:

      1.1 Die onderbreking moet noodsaaklik wees.

      1.2 Die onderbreking moet vir 'n bepaalde tyd wees. Wanneer daar permanente of vir 'n onbepaalde tyd onvermoë is, word volgens art. 13 KO gehandel.

      1.3 Die onderbreking moet deur die kerkraad bewillig word met advies van die klassis.

      1.4 Die verbintenis tussen die predikant en die kerk moet ongeskonde bly en die predikant mag deur die kerkraad selfs voor verstryking van die bepaalde tyd teruggeroep word. Dit sluit dus die oorgaan tot 'n ander staat van lewe uit, daar dit onder artikel 12 KO gereël word. Sodra die onderbreking eindig, gaan die predikant weer met volle ampsbediening voort net soos voor die onderbreking. (Acta 1967:60).

      Ondertekening van die bevestigingsformulier

      Die ondertekening van die formulier vir bedienaars van die Woord vind plaas by die bevestiging van proponente in teenwoordigheid van die Klassikale deputate genoem in art. 10 KO (Acta 1936:59).

      Onnodige vertraging van die doop

      Die Sinode neem met besorgdheid kennis van die omvang wat die onnodige vertraging van die doop in ons kerke aangeneem het (Acta 1958:134; vgl. ook Acta 1961:132-136).

      Ooreenkoms met betrekking tot kapelaandienste

      1 Vooraf:

      1.1 Vir die doeleindes van hierdie ooreenkoms word onder “Departement” die bepaalde organisasie en bevelstruktuur soos in die betrokke staatsdepartement gangbaar is, verstaan, hierna aangedui as “die Departement”.

      1.2 Vir die doeleindes van hierdie ooreenkoms word onder “Die betrokke Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” die plaaslike kerk soos dit in kerkordelike verband met ander plaaslike kerke selfstandig in sinodale verband leef, verstaan, hierna aangedui as “die Kerk”.

      1.3 Onder “kapelaandienste” word die bepaalde kerklike bediening binne die verantwoordelikheidsfeer van die betrokke Departement, en wat nie deur die gewone kerklike instansies gelewer kan word nie, verstaan.

      1.4 Die Departement en die Kerk erken wedersyds mekaar se eiesoortige struktuur, verantwoordelikheid en werkswyse asook elkeen se eie onderskeie reg wat wedersyds eerbiedig word.

      2 Die partye:

      2.1 Die Departement word verteenwoordig deur die daartoe bevoegde amptelike instansie van die Departement, genoem

      2.2 Die Kerk word verteenwoordig deur òf

      2.2.1 die Sinodale deputate vir skakeling met die Hoë Owerheid, p/a die Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerk in SA, Posbus 20004, Noordburg, 2522, wat dit op kerklike wyse na die Betrokke kerklike instansie verwys, òf

      2.2.2 die betrokke Gereformeerde Kerk aan wie die bedienaar van die Woord (hierna genoem “predikant”) vir kapelaandienste kerkordelik verbind is.

      2.3 Die Departement het ʼn keuse watter kerklike instansie, in 2.2 genoem,geskakel moet word, alhoewel die Departement waarskynlik nuwe behoeftes langs die weg in 2.2.1. aangedui, onder die aandag sal bring, en onderhandelings oor diensdoene predikante in departementele verband langs die weg in 2.2.2. aangedui, sal doen.

      3 Beroeping en aanstelling van predikante vir departementele kapelaandienste: die Kerk (vgl. Par. 2).

      3.2 Die Kerk kan in bepaalde gevalle sy behoeftes ten opsigte van die bediening en versorging van Gereformeerde onder die aandag van die Departement bring.

      3.3 Nadat die behoefte aan die voorwaardes vir ʼn deeltydse of voltydse kaplaanspos in die Departement vasgestel is, stel die Kerk ʼn predikant vir hierdie diens op kerklike wyse beskikbaar, en die Departement stel die betrokke predikant aan volgens ʼn prosedure wat hierna omskryf word.

      3.4 Die prosedure by die kerklike beroeping en departementele aanstelling:

      3.4.1 Die plaaslike kerkraad met advies van die klassis stel ʼn groslys van ses name op waaruit beroep kan word, en lê die groslys aan die Departement voor.

      3.4.2 Die Kerk erken die reg en die verantwoordelikheid van die Departement om ʼn sekerheidsklaring te doen en die mediese geskiktheid van die te beroepe predikant vas te stel.

      3.4.3 Nadat die groslys goedgekeur is, gaan die Kerk voort met beroeping. Die groslys kan te eniger tyd aangevul word volgens die prosedure in 3.4.1. hierbo.

      3.4.4 Nadat hy die beroep aanvaar het, word die beroepe predikant deur die plaaslike kerk wat hom beroep het in sy amp bevestig en deur die Departement as kapelaan aangestel.

      3.4.5 Die Departement aanvaar volle verantwoordelikheid vir die onderhoud, salaris en pensioen van die predikant en lê volle besonderhede hiervan vòòr die bevestiging en aanstelling aan die kerklike instansies vir goedkeuring volgens art. 11 KO voor.

      3.5 Die kapelaan is predikant van die plaaslike kerk wat hom beroep en bevestig het, en hy kan met medewete van die Departement kerkdiens in die plaaslike kerk en kerkverband verrig mits dit nie met die departementele kapelaansdiens bots nie.

      3.6 In die geval van predikante in kerkdiens wat tegelyk kragtens onderhandelings tussen die Kerk en die Departement deeltydse kapelaansdienste verrig, behou die Departement die reg van sekerheidsklaring. Sodanige deeltydse kapelaansdiens geskied op sodanige voorwaardes soos deur die Departement en die Kerk in elke besondere geval ooreengekom.

      3.7 Dit word verstaan en ooreengekom waar dit in wedersydse onderhandelings, behoudens sekerheidsklaring, duidelik is dat kerklike versorging en bediening aan Gereformeerdes deur die betrokke plaaslike predikant sonder aanstelling as kapelaan gelewer kan word, die Departement hierdie diens sal erken.

      4 Die diens van die kapelaan:

      4.1 Die predikant in kapelaansdiens is verantwoordelik vir die kerklike en geestelike bediening van die Gereformeerdes in departementele diens wat aan hom kragtens sy verbintenis aan die betrokke kerk en die ooreenkoms tussen die Departement en die Kerk toegewys is.

      4.2 Die kapelaansdiens moet in alle opsigte altyd ooreenkomstig die Skrif, Belydenis en Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in SA geskied.

      4.3 Besondere werk wat met die diens, gawes en opleiding van die predikant verband hou, sal alleen in oorleg met en met toestemming van die betrokke kerklike instansies aan die kapelaan opgedra word. Indien hierdie besondere werk ʼn permanente karakter moet aanneem, sal dit slegs kan geskied nadat kerklike toestemming langs kerkordelike weg daarvoor verkry is.

      5 Beëindiging van kapelaansdiens, emeritering en verplasing:

      5.1 Dit staan die predikant vry om sy kapelaansdiens by die Departement te beëindig. Dit kan egter alleen gedoen word nadat dit aangemeld en kerklik beoordeel is.

      5.2 Wanneer ʼn pos van kapelaansdiens by die Departement vanweë departementele beleid verplasing noodsaak, soos bv. met betrekking tot die getallebasis of operasionele aanwending, tree die Departement met die plaaslike kerk waaraan die predikant verbind is, in verbinding.

      5.3 Wanneer ʼn predikant in departementele diens kragtens hierdie ooreenkoms ʼn beroep ʼn ander kerk aanneem, bly sy aanstelling van krag totdat hy kerkordelik in die ander kerk bevestig is.

      5.4 Wanneer ʼn persoon in departementele kapelaansdiens kragtens kerklike handelinge sy bevoegdheid tot predikantsdiens verloor, sal die Departement by die ontvangs van kennis daarvan hom ook dadelik uit sy diens by die Departement ontslaan.

      5.5 Wanneer die Departement ʼn predikant in kapelaansdiens se diens wens te beëindig, word daaroor met die plaaslike kerk geskakel.

      6 Dissipline

      6.1 Die predikant in kapelaansdiens by die Departement bly ten opsigte van tug, toesig oor sy leer en lewe, ens. ten volle aan die Kerkorde onderworpe.

      6.2 Die predikant in kapelaansdiens by die Departement bly vir die uitvoering van sy diens ook ten volle onderworpe aan die reëls en regulasies wat ten opsigte van toesig, dissipline en ontslag in die betrokke Departement geld.

      6.3 Indien die Departement of die Kerk rede vind om die predikant in kapelaansdiens by die Departement te dissiplineer, sal dit in oorleg met die ander party gebeur.

      7 Wysiging van ooreenkoms.

      Hierdie ooreenkoms kan van tyd tot tyd met wedersydse instemming van die twee partye gewysig word.

      5.6 “Dienspligkapelane”.

      Die Sinode word versoek om hom in die lig van oorweging 4.18. nie oor die sogenaamde dienspligkapelane uit te spreek nie omdat dit geen sinodale aangeleentheid is nie.

      Besluit: Afgekeur.

      5.7 Deputate

      Die Sinode word versoek om nie weer deputate vir kapelane te benoem nie, aangesien die nodige skakeling met

      betrokke staatsdepartemente voortaan deur die deputate vir skakeling met die Hoë Owerheid kan geskied.

      Predikant - verlies van amp

      Die Sinodebesluite van 1939 en 1942 i.v.m. art. 12 KO word herroep omdat dit strydig is met die gees en die rigting van die Kerkorde, nl. dat die diens wat die persoon doen, waartoe hy middelik deur God geroep en bevestig is, sy amp bepaal. Sodra hy daar buite tree, verval sy amp en hy word eervol losgemaak, indien sy verandering deur die kerkraad en klassis, met advies van die deputate van die Streeksinode, as "necessitas" beoordeel word. Die bedoeling in art. 12 is om te bepaal hoe 'n bedienaar onder uitsonderlike omstandighede sy amp eervol mag neerlê en nie hoe hy dit kan behou nie (Acta 1964:100, pt. B.2)

      Proponente wat lank wag vir 'n beroep

      Indien 'n proponent lank wag op 'n beroep, moet die betrokke meerdere vergadering wat sy eksamen afgeneem het, homself van tyd tot tyd op hoogte stel met die leer en lewe van die proponent. Indien die wagtyd langer as nege maande duur moet die meerdere vergadering oordeel of dit nodig is dat daar weer eksamen afgeneem moet word (Acta 1970:128, pt. c).

      Rapporte - riglyne vir die opstel

      Die volgende is as riglyne vir deputaterapporte aan Algemene Sinodes goedgekeur:

      1.1 Opdrag - volledig aangehaal waar nodig of slegs verwys na vorige Acta-artikels.

      1.2 Sake waarvan die Sinode kennis moet neem. Indien daar sake is waaroor die Sinode nie 'n besluit hoef te neem nie, dan word dit onder die opskrif gestel

      1.3 Sake waaroor die Sinode moet besluit. Sake waarvan die Sinode gedeeltelik moet kennis neem en gedeeltelik oor moet besluit, moet volledig onder die opskrif behandel word. Aanbevelings moet direk onder elke punt aangegee word.

      1.4 Finansies. Finansiële implikasies / begrotings saam met aanbevelings daaroor.

      1.5 Opdragte aan te benoeme deputate.

      1.6 Onnodige formele gegewens moet weggelaat word (bv. konstituering, wie die deputate is / was, hoeveel vergaderings gehou is ens.).

      1.7 Alle korrespondensie en bylaes moet ter sake in die rapporte ingewerk word. Die stukke moet by die Rapport aangeheg word maar nie in die Agenda gepubliseer word nie (Acta 1991:57-58, pt. 4.4. en Acta 1991:59, pt. 5.3.4).

      Reg tot repliek

      Punt 4c (1.2.c. in nommering hierbo) van die besluit van Sinode van 1939, art. 135, insake prosedure vir die behandeling van appèlsake word soos volg geïnterpreteer: "Die appèllant en die verweerder moet na die rapport van die appèlkommissie ter tafel geneem is, die reg tot repliek hê" (Acta 1973:191).

      Reisattestasies

      Die kerkregtelike draagwydte van 'n reisattestasie behels die volgende:

      4.1 Vir die lidmaat self aan wie dit afgegee word: Vir die lidmaat bring dit nie 'n "oorgaan" van die een gemeente na die ander mee nie, selfs nie 'n tydelike "oorgaan" nie, maar alleen bied dit aan hom die voorreg van bediening in die midde van die gemeente waar hy hom tydelik bevind.

      4.2 Vir die kerkraad wat dit afgee: Wat die afgewende kerkraad betref, bly die lidmaat onder sy bediening en behou die lidmaat sy verpligtinge t.o.v. die kerkraad. As die lidmaat egter tydelik afwesig is en die kerkraad dus prakties geen kennis van die leer en lewe van die lidmaat dra nie, dien die reisattestasie juis as 'n getuienis oor die leer en lewe vir die afgewende kerkraad, daarin dat die kerkrade in wie se ressort hy tydelik verkeer, daarop die nodige op- of aanmerking maak wanneer hy weer vertrek. Die afgewende kerkraad kan hom dus verantwoord oor die leer en lewe van die lidmaat as hy tydelik met reisattestasie reisend was.

      4.3 Vir die kerkraad waar dit getoon word: T.o.v. die "ontvangende" kerkraad word die lidmaat wat reisattestasie toon nie lidmaat van die gemeente nie, want volgens die Geref. Kerkreg kan 'n persoon nie op twee plekke gelyktydig lidmaat wees nie. Die reisattestasie impliseer slegs dat die "ontvangende" kerkraad gedurende die tydperk van verblyf versoek word om so 'n persoon te bedien en onder meer, op grond van goeie getuienis, hom toe te laat tot die gebruik van die sakramente.

      4.4 Konkluderend blyk dit dus: dat 'n reisattestasie, anders as 'n attestasie, met beëindiging van lidmaatskap by die een gemeente en opneming as lidmaat by die ander gemeente, waar dit getoon word, niks te make het nie; dat dit gegee word slegs in die geval van 'n persoon wat vir 'n bepaalde tydperk uit sy gemeente afwesig sal wees na meer "onbekende" gemeentes en wat dan die reisattestasie weer by sy kerkraad moet inlewer voordat die beperkte tyd verby is; dat die reisattestasie by die kerkraad(e) waar die lidmaat hom tydelik bevind, slegs getoon word en dat die betrokke kerkraad(e) by sy vertrek daarop moet getuig aangaande leer en lewe en dit weer aan die lidmaat moet besorg (Acta 1970:462-463).

      Residentia Stigting - verhouding met

      Die Sinode verklaar dat die kerke onder artikel 25 en 26 Kerkorde by die sentrums van die Stigtinge belang het net soos by enige ander inrigtings van hierdie aard in hulle omgewing. Kerke wat weg van hierdie sentrums geleë is, handel volgens artikel 83 van die Kerkorde (Acta 1976:588, pt. 6).

      Sekundi vir afvaardiging na meerdere vergaderings

      Enigeen van die sekundi kan dien as plaasvervangers van die primi afgevaardigdes na meerdere vergaderings (Acta 1973:344).

      Stemming op kerklike samekomste

      3.1 Die stemming oor persone en sake vind plaas by volstrekte meerderheid. Blanko stemme word nie getel by die aantal geldige stemme nie. By 'n ewe getal word die meerderheid gereken die helfte plus een; by 'n onewe getal deur een te tel by die helfte van die geheel min een, bv. van 15 is die meerderheid 8.

      3.2.1 As die stemme oor sake staak, het die voorsitter geen beslissende stem nie (Acta 1910:68).

      3.2.2 As hulle staak oor persone, moet met plegtige aanroeping van die Naam van die Here geloot word (Acta 1873:46).

      3.2.3 Dit het egter geen betrekking op kandidate tot die Heilige Diens nie. In hierdie geval sal staking van stemme beskou word as nie-toelating nie.

      Toelating van 'n blinde tot die bediening van die Woord

      Die sinode van 1888 het klaarblyklik nie die bedoeling gehad om hom in die algemeen oor die toelating van blinde studente tot die Teologiese Skool uit te spreek nie. Die geval wat voor die Sinode gedien het, was die van 'n blinde wat ooreenkomstig art. 8 KO predikant wou word. Verder was dit seker nie die bedoeling van die Sinode om, met verbygaan van die Kuratorium, aan kerkrade en Streeksinodes die bevoegdheid te gee om blinde studente tot die Teologiese Skool toe te laat nie. Wat studente in die Teologie betref, is die geval heeltemal anders as in die van voornemende art. 8-predikante. Hier is die Kuratoium finaliter die liggaam wat besluit oor toelating tot die Teologiese Skool al dan nie (Acta 1955:221 en Acta 1961:246).

      Wat die toekoms betref, volstaan die eerw. Sinode met die besluit van die Sinode van 1888 waarin verklaar word (met die Sinode van Middelburg 1581) i.s. die toelating van blindes tot die bediening van die Woord dat dit selfs met uitnemende geleerdheid en gawes nie ligtelik sal geskied nie en daaraan toegevoeg dat dit in ons toestande in hierdie land indien nie geheel en al onmoontlik nie dan tog allerbeswaarliks geag moet word (Acta 1961:246).

      Tug oor ampsdraers

      1.1.1 'n Kommissie moet gedeputeer word en nie die hele kerkraad van 'n naasgeleë gemeente nie (Acta 1907:47-48).

      1.1.2 In plaas van die kerkraad van die naasgeleë gemeente kan ook kommissies uit twee naburige gemeentes gedeputeer word. Elkeen van die kommissies sal dan bestaan uit die predikant of konsulent en minstens twee ouderlinge (Acta 1936:93, 94).

      1.2 Hierdie kommissie sal bestaan uit die leraar of konsulent met twee ouderlinge van die naaste gemeente.

      1.3 Gemelde kommissie het sitting en reg van stemming in die kerkraad.

      1.4 In geval 'n dienaar van die Woord betrokke is, moet die kerkraad 'n ander voorsitter kies.

      1.5 In geval die predikant van die betrokke kerkraad die konsulent van die naasgeleë gemeente is, moet die naaste predikant wat nie betrokke is nie, opgeroep word (Acta 1907:48).

      Tug oor dooplidmate

      1.1 Dooplidmate moet beskou word as lidmate van die kerk kragtens die genadeverbond.

      1.2 Hulle is egter inkomplete lidmate en daarom kan die tug ook slegs inkompleet wees.

      1.3 Daar bestaan egter geen wesensverskil tussen tug oor belydende lidmate en die oor dooplidmate nie, maar wel 'n verskil in graad.

      1.4 Die Sinodebesluit van 1916, wat die bepaling bevat dat dooplidmate wat nie tot aflegging van belydenis van geloof kom nie, "uiterlik met hulle dertigste lewensjaar" hulle lidmaatskap verloor, word herroep en daarmee word die besluit van die Sinode van 1904 gehandhaaf.

      1.5 Kerkrade sal die gewone prosedure van tug soos dit volgens die Kerkorde op belydende lidmate toegepas word, ook toepas op dooplidmate met inagneming van die inkompleetheid van hulle lidmaatskap (Acta 1961:126).

      Tug oor emeritus-predikante

      By tughandeling op 'n geëmeriteerde wat sy eer en naam as bedienaar van die Woord of sy bevoegdheid om die Woord te bedien, aantas, moet uiteraard die weg gevolg word soos vir 'n bedienaar van die Woord bepaal word. Origens is 'n emeritus-predikant 'n lidmaat van die kerk waar hy woon en dit hoef nie die kerk te wees wat hom geëmeriteer het nie, want in daardie kerk het hy geen ampspligte meer nie. Die kerkraad wat hom geëmeriteer het, moet by eventuele tug oorleg pleeg met die kerkraad van die kerk waar hy woon en andersom, met dien verstande dat die kerkraad wat emeritaat verleen het, die tug ooreenkomstig artikels 79 en 80 Kerkorde toepas en die kerkraad van die kerk waar die emeritus woon, pas die tug ooreenkomstig artikels 76 tot 78 van die Kerkorde, toe (Acta 1970:428).

      Versorging van armes buite die diakonie om

      Eerwaarde Voorsitter en Broeders,

      Na deeglike oorlegpleging en veral omdat besef is dat dit ʼn saak is wat die hele kerkverband raak, word by die eerwaarde Sinode aanbeveel dat die hele (ons onderstreep) aangeleentheid verwys word na ʼn studiekommissie” (Acta Sinode 1955 bl. 149).

      Dit blyk derhalwe endersyds dat dit eerwaarde Sinode hom wil uitspreek oor die algemene beginsel van die gebruikmaking deur diakonieë van hulp afkomstig uit nie-kerlike bronne en andersyds dat die eerwaarde Sinode sy standpunt wil bepaal t.o.v. “Die Transvaler se Kersfeesfonds” en dergelike fondse.

      Die algemene beginsel.

      Ten opsigte van die algemene beginsel hierbo genoem, wil u Deputate die standpunt in die rapport van die Klassis Johannesburg (Acta 1955 bl. 148) aanvaar en aanbeveel: ʼn diakonie mag ʼn toesegging uit ʼn nie-kerklike bron aanvaar “mits daar nie sulke voorwaardes aan die toesegging verbonde is wat die vryheid van die diakonie aantas nie”.

      Dit kom daarop neer dat in die bepaling hiervan uitgegaan moet word van die absolute reg tot die bepaling van sy eie fondse. Ontvang ʼn diakonie dus ʼn skenking maar op sekere bindende voorwaardes t.o.v. die besteding daarvan, dan tas dit die vryheid van die diakonie aan.

      Slegs toesegging wat onvoorwaardelik deur die diakonie bestee mag word, mag aanvaar word, ofskoon geen diakonie ʼn versoek dat sekere skenkings bv. vir die Weeshuis of ʼn bepaalde onderdeel van die barmhartigheidswerk van die diakonie moet word, sonder meer ongeneë sal wees nie.

      Hierby wens u Debutate ook nog die volgende te voeg: Skenkings mag sekerlik deur ʼn diakonie aanvaar word insoverre die diakonie bewus is dat die insameling of verkryging van die aangebode hulp op ʼn eerbare en sedelik verantwoorde wyse geskied het.

      Fondse soos “Die Transvaler se Kersfeesfonds”.

      Fondse wat op inisiatief van ʼn koerant, op sodanige eties verantwoorde wyse ingesamel word, is uit die aard van die saak ʼn maatskaplike aksie en behoort as sodanig beskou en gehou te word. So word dit inderdaad deur sekere koerante beskou en behandel. Word ongevraag en buite enige inisiatief van die kerk uit sodanige fonds ʼn bedrag ʼn diakonie aangebied, moet lg. Dit dankbaar aanvaar, behoudens die algemene beginsel hierbo onder 2 gestel. Dit gebeur egter dat sodanige fondse ʼn kerklike karakter kry, hetsy dat ʼn koerant dit sodanig inisieer of daartoe leen, hetsy dat daar kerklike aanspraak op die fondse gemaak word, of erger nog, dat sodanige fonds deur die kerk geïnisieer en georganiseer word met gebruikmaking van die koerant as insamelingsmedium.

      Die verkeerde en gevaarlike hierin is:

      1 ʼn Koerant verwek die indruk van geneentheid tot ʼn sekere kerk of kerke.

      2 ʼn Wesenlik maatskaplike saak word vereng tot ʼn kerklike. Dit is een van die vorme van verkerkliking van maatskaplike lewensverhoudinge. Van ʼn maatskaplike en volksaak word ʼn kerklike saak gemaak met groot verwarring tot gevolg.

      3 As ʼn kerk die fondse vir sy barmhartigheidsdien deur middel van die openbare pers insamel en langs daardie weg sy barmhartigheidswerk gedeeltelik of ten volle op maatskaplike terrein inisieer en langs maatskaplike kanale organiseer, word die kerklike karakter van die barmhartigheidswerk van daardie kerk uiters gevaarlik ondermyn en die diakonale amp misken.

      4 Aanbevelings

      4.1 Die eerwaarde Sinode in die lig van bostaande beginseluitsprake nie ʼn reg of aandeel in enige sodanige fondse sal eis of aanvra nie: ʼn fonds deur enige koerant van stapel gestuur, is ʼn maatskaplike saak en moet as sodanig gehou word:

      4.2 Die Sinode rig ʼn skrywe aan die koerante. Die Transvaler, Die Volksblad en ander koerante wat deur die eerwaarde Sinode bygevoeg mag word, waarin die gevoelens van die Sinode soos vervat in 3 van die rapport aan die betrokke koerante berig word

      4.3 Aangesien sommige kerke hierdie gelde wat deur koerante gekollekteer word, kerklik en amptelik gebruik, besluit die Sinode om hierdie saak op te dra aan sy deputat wat benoem sal word, om met daardie kerke hieroor te spreek, aangesien die eerwaarde Sinode oortuig is dat hierdie gebruik die kerklike ampte tot non-aktiwiteit dwing

      Verspreidwonende lidmate

      1.1 Op die vraag: Wanneer is 'n lidmaat verspreidwonend? Word dit bepaal t.o.v die lidmaat of t.o.v. die gemeente? het die Sinode besluit dat die beantwoording van die vraag tuis hoort by die klassis, wat in voorkomende gevalle self 'n interpretasie van art. 39 KO moet gee (Acta 1955:374).

      1.2 Rapport i.s. verspreidwonende lidmate (Acta 1961:446-449).

      Vrymesselary

      1.1 Dat die sinode met dankbaarheid kennis neem van die studie van die Kommissie en bekragtig opnuut die sinodale besluit van 1897 art. 155 wat die volgende behels: "De Sinode van 1897 art. 155 verklaarde dat iemand die lid is of wordt van geheime genootschappen, als bv. het Vrymetselaarsgenootschap, geen lidmaat van de Geref. Kerk kan zijn naardien de christelijke Kerk een geestelijke en openbare vereeniging is, die geen gemeenschap kan nog mag oefenen met vereenigingen of genootschappen die buiten haar staan en vreemd zijn aan haar geestelijke en hemelsche aard. (Zie 2 Korinthe 6:14-18; Joh. 3:19-21). Derhalve worden alle lidmaten hiertegen gewaarschuwd en vermaand op zichzelven en op elkander acht te geven en daartegen te vermanen en zoo dit niet baat, dezulken ook bij de kerkeraaden bekend te stellen. Tevens worden vooral de kerkeraaden ernstig vermaand hierop te letten en hiertegen te waken...." Van kerkrade word verwag om hierdie besluit streng uit te voer (Acta 1939:204 - 210; vgl. ook Acta 1863:11, Acta 1936:86, 175, Acta 1958:493 en Acta 1964:447-450).

      1.2 Verbreking van lidmaatskap met vrymesselary (Acta 1955:271).

      Weiering om attestasie aan te vra

      Die Sinode wysig die besluit van 1893 en verwys na art. 82 KO (Acta 1973:168).

      Werkwyse van die Algemene Sinode

      1.1 Oproep: Die sinode word vier maande voor die sittingsdatum deur die roepende kerkraad, in oorleg met die deputaatskap vir korrespondensie, opgeroep.

      1.2 Kredensiebriewe: Die roepende kerkraad lewer die kredensiebriewe in, saam met 'n presensielys wat volgens die gegewens in die kredensiebriewe opgestel is. Hierdie kredensiebriewe moet die roepende kerkraad 'n maand voor die sittingsdatum van die sinode bereik.

      1.3 Presensielys en konstituering: Die presensielys word voorgelees, indien nodig, gewysig en die vergadering word gekonstitueer. Ook die name van die pre-adviserende lede en buitelandse afgevaardigdes moet in die lys opgeneem word.

      1.4 Kworum: Die kworum van die sinode word gehandhaaf soos in die verlede, naamlik twee-derdes van die wettig gedeputeerdes (Acta 1958:43).

      1.5 Moderamen:

      1.5.1 Op die openingsdag kom die afgevaardigdes om 4 nm. byeen om die presensielys op te maak en die Moderamen te kies. Die verkiesing van die lede van die Moderamen geskied met geslote stembriefies; en elke verkiesing is wettig alleen by volstrekte meerderheid van stemme.

      1.5.2 As daar 'n kworum aanwesig is, word die Moderamen gekies wat sal bestaan uit 'n voorsitter, vise-voorsitter, skriba en adjunk-skriba.

      1.5.3 Die Moderamen word nie by die kommissies ingedeel nie, maar mag die kommissievergaderinge bywoon en advies gee.

      1.6 Opening:

      1.6.1 Die opening van die sinode geskied deur die voorsitter van die roepende kerkraad wat die vergadering lei tot dit formeel gekonstitueer is.

      1.6.2 Die noodsaaklikheid en/of wenslikheid van openingsredes:

      1.6.2.1 Die Sinode herroep alle vorige besluite in verband met openingsredes, aangesien uit art. 32 KO nog die noodsaaklikheid, nog die wenslikheid van sodanige praktyk aangetoon kan word;

      1.6.2.2 die Sinode oordeel dit wenslik dat na die opening volgens art. 32 KO verdaag word met die oog op 'n bidstonde indien die Roepende Kerkraad sodanige erediens reël (Acta 1967:21).

      1.7 Bedanking en verwelkoming: Die voorsitter spreek 'n woord van dank in verband met die werk wat ter voorbereiding van die sinode gedoen is. Hy verwelkom die afgevaardigdes in punt 5 genoem en almal wat in offisiële of ander hoedanigheid die openingsvergadering bywoon.

      1.8 Openlike Verklaring: Die voorsitter lees die Openlike Verklaring en die lede van die sinode betuig instemming daarmee deur op te staan.

      1.9 Agenda

      1.9.1 Die agenda, deur die Deputaatskap vir Korrespondensie in orde gebring en deur die Administratiewe Buro in druk besorg, word ingelewer.

      1.9.1.1 Alle deputate wat deur die Sinode aangewys word, moet so gou moontlik hulle opdragte uitvoer en rapporte opstel.

      1.9.1.2 Alle rapporte moet so gou moontlik aan die deputate vir korrespondensie gestuur word.

      1.9.1.3 Vir die agenda word as keerdatum bepaal 'n datum ses maande voor die Sinodesitting - dan moet ook alle gravamina in hande van die deputate vir korrespondensie wees.

      1.9.1.4 Vir die Aanvullende Agenda word as keerdatum 'n datum bepaal ongeveer ses weke voor sinodesitting.

      1.9.1.5 Streeksinodes word versoek om toe te sien dat stukke vir die Algemene Sinode se Agenda bedoel binne 2 weke na sitting van streeksinodes net voor die Algemene Sinode aan die deputate vir korrespondensie gestuur word.

      1.9.1.6 In die Aanvullende Agenda word dan net opgeneem, wat van part. sinodale vergaderings na die keerdatum kom, appèlle teen besluite van streeksinodes na die eerste keerdatum en noodsaaklike aanvullende rapporte van sinodale deputate.

      1.9.1.7 Indien daar nog agendastukke na die laaste keerdatum deur die deputate vir korrespondensie ontvang word, sal dit nie in die Aanvullende Agenda opgeneem word nie, maar dit sal aan die Sinode self voorgelê word om te oordeel oor die ontvanklikheid daarvan (Acta 1967:39).

      1.9.1.8 Die gedrukte agenda moet ses weke voor die tyd die afgevaardigdes en pre-adviserende lede bereik.

      1.9.2 Die Kuratore-rapport moet in Januarie voordat die sinode vergader, gepubliseer word. Alleen met die goedkeuring van die sinode kan laat-ingekome stukke ter behandeling in ontvangs geneem word.

      1.9.3 Alle stukke vir die sinode bedoel moet gepubliseer word in die agenda, soos die mindere vergaderings dit deurstuur, d.w.s. met die saaklike motivering en noodsaaklike toeligting (Acta 1958:30).

      1.9.4 Dit behoort voor in die Agenda gedruk te word dat behalwe deur Die Kerkblad geen vrystellings van die inhoud toegelaat mag word alvorens die sinode finaal oor 'n saak besluit het nie. Die woorde "Kopiereg voorbehou", behoort ingevoeg te word (Acta 1967:32)

      1.10 Werkswyse - Rapporte en beskrywingspunte

      1.10.1 Rapporte word vooraf eers in ontvangs geneem deur die hele vergadering.

      1.10.2 Rapporte wat in die agenda en aanvullende agenda (behalwe die rapport van die deputate vir Korrespondensie) verskyn het, word nie weer gelees nie (Acta 1952:25, pt. C. 1 en 2).

      1.10.3 Alle stukke wat ter tafel moet kom, word in die volle Sinode toegelig, bespreek en direk afgehandel. Waar nodig word sake na toeligting en bespreking na 'n subkommissie verwys om 'n voorstel in die verband te formuleer. Na gelang van omstandighede word deur die Sinode tyd ingeruim ten einde sodanige subkommissies geleentheid te gee om hulle werk af te handel. Kopieë van die rapporte van subkommissies word die lede van die Sinode ter hand gestel voordat dit ter tafel gebring word (Acta 1958:28-29).

      1.10.4 Bogenoemde besluit word noukeuriger toegepas deur:

      1.10.4.1 te reël dat Kommissies vroeër en genoeg geleentheid kry om hulle werk deeglik te doen en gevolglik vroeër daarin sal slaag om Rapporte vir behandeling gereed te hê.

      1.10.4.2 voort te gaan met die aanwysing van Deputate vir Pre-advies, waar moontlik ook vir ander aspekte as net finansies en programmering (Acta 1991:494).

      1.11 Sittingsure: Die sittingsure sowel van die sinode as die kommissies word deur die Moderamen vasgestel in oorleg met die roepende kerkraad.

      1.12 Briewe en telegramme: Briewe en telegramme van gelukwensing aan die sinode word voorgelees.

      1.13 Buitengewone afgevaardigdes: So spoedig moontlik word aan die buitengewone afgevaardigdes, buite- en binnelandse, die geleentheid gegee om die sinode toe te spreek.

      1.14 Deputate vir programmering

      1.14.1 Die samestelling van die Deputate vir programmering sal voortaan bestaan uit die volle Moderamen van die vorige Sinode en die afgevaardigdes van die Streeksinodes (Acta 1988:27, pt. 2.5.13).

      1.14.2 Hierdie deputate "... moet 'n dag voor die opening van die Sinode die agenda sorgvuldig deurwerk met die oog op rangskikking, groepering en programmering van die agenda volgens die aantal werksdae wat vergader moet of kan of mag word. By die opening word die program aan alle deputate ter hand gestel.

      "Die deputate hierbo genoem, stel voor die opening van die Sinode uit die kredensiebriewe en uit die agendastukke tentatief vas vir welke sake sekerlik, waarskynlik en/of moontlik kommissies benoem sal word en doen die personeel vir die kommissies aan die hand. Sinvolle reëlings moet getref word, sodat die Sinode en sy kommissies op verskillende tye kan vergader." (Acta 1988:24).

      1.15 Kommissies

      1.15.1 Kommissie van orde. Voordat die agenda in behandeling geneem word, word 'n kommissie van orde benoem, waarvan die lede deur die Moderamen aanbeveel word. Op hierdie kommissie moet die ondervoorsitter en hulpskriba van die sinode ook sitting hê. Die opdrag van hierdie kommissie is soos volg:

      i 'n Program word opgestel vir die afhandeling van die Agenda. Sover moontlik word die tydsduur vir elke saak afgebaken.

      ii Behoorlike kontrole word uitgeoefen ten einde vas te stel watter sake nog ter tafel moet kom.

      iii Die lede van subkommissies word by die sinode aanbeveel Acta 1958:29).

      1.15.2 Ontvangskommissie. Die Moderamen moet 'n drietal Sinodale afgevaardigdes aanwys wie se taak dit sal wees om die afgevaardigdes van binne- en buitelandse kerke namens die Sinode te ontvang en hulle paslik voor te stel aan die eerw. Vergadering (Acta 1955:28, pt. 8).

      1.15.3 Finansiële kommissie. Die kommissie word deur die Moderamen benoem terwyl die sekretaris-penningmeester ampshalwe een (lid) is. Die lede van hierdie kommissie sal dan vergader so dikwels dit nodig mag blyk (Acta 1949: ). Die Moderamen stel nou voor dat 'n verteenwoordigende kommissie waarin al die streeksinodes verteenwoordig word deur een predikant uit elkeen en vyf ouderlinge op die Finansiële kommissie van preadvies sal dien: Die Sekretaris-Penningmeester sal ampshalwe op hierdie kommissie dien (Acta 1952:19, art. 102).

      1.15.4 Benoeming van deputate.

      1.15.4.1 'n Spesiale kommissie word benoem wat aanbevelings van die werkskommissies oorweeg en kontroleer en dan 'n aanbeveling by die eerw. sinode doen oor die finale samestelling van elke te benoemde deputategroep van die Sinode.

      1.15.4.2 Genoemde kommissie moet saamgestel word uit een predikant en een ouderling uit elke streeksinode in samewerking met die Moderamen, onderworpe aan die goedkeuring van die Sinode. Die Moderamen sal die kommissie benoem (Acta 1955:51).

      1.15.5 In die gevalle waar die sinode wel besluit het om deputate te benoem maar in gebreke gebly het om dit te doen, sal die deputate vir Korrespondensie dit doen (Acta 1952:26).

      1.15.6 Kommissierapporte: As leidraad vir die Kommissierapporte met pre-advies geld die volgende skema:

      Stukke in die Agenda en inligting wat op die saak betrekking het.

      Vir kennisname (die kern van die aangeleentheid of agtergrond van die saak, in kort stellings

      weergegee).

      Vir oorweging (beginsels en stellings oor die saak wat in ag geneem moet word).

      Aanbevelings met die oog op besluitneming (Acta 1991:492, pt. 8).

      1.15.7 Toeligting van kommissierapporte. Die kommissierapporte word op die volle sinode toegelig deur die rapporteurs waarop bespreking volg volgens 'n lys van sprekers deur die voorsitter opgestel op versoek van die afgevaardigdes wat wens te spreek. Die voorsitter beslis verder of iemand anders of 'n vorige spreker nog 'n geleentheid mag kry om te spreek.

      1.15.8 Persone nie lede van die sinode. Persone wat nie lede van die Sinode is nie, maar betrokke is by die sake wat behandel word, kan deur die kommissies, met toestemming van die Moderamen, aangehoor word.

      1.15.9 Alle notule en kommissierapporte word getik en vermenigvuldig waarna aan elke afgevaardigde 'n afskrif ter hand gestel sal word. Elke môre na die opening van die sinode sal die voorsitter geleentheid gee om die gedeelte van die notule wat intussen uitgegee is, te laat goedkeur.

      1.16 Die gedrukte Handelinge: Die gedrukte Handelinge van die sinode word deur deputate vir daardie doel benoem, uitgegee. Hierdie handelinge sal bevat:

      1.16.1 Die gang van sake van dag tot dag;

      1.16.2 die deputaterapporte soos vervat in die Agenda;

      1.16.3 deputaterapporte in finale goedgekeurde vorm;

      1.16.4 besluite op grond van beskrywingspunte en ander besluite;

      1.16.5 'n inhoudsopgawe en 'n register van sake.

      1.17 Versoeke om toekenning van tyd: In verband met aansoeke, soos o.a. deur die deputate onder hierdie punt genoem (Acta 1955:27, pt. 5), besluit die Sinode dat dergelike aansoeke in die toekoms met 'n aanbeveling van die Moderamen aan die Sinode voorgelê sal word, sodat die Sinode volgens meriete kan besluit oor die toesegging van geleentheid al dan nie (Acta 1955:29).

      1.18 Sluiting: Die sluiting van die sinode word waargeneem deur die voorsitter met Skriflesing, toespraak, psalmgesang en gebed. Voordat dit geskied sal daar geleentheid gegee word vir toesprake en bedankinge in verband met die sitting van die sinode.

      1.19 Plek van vergadering: Die vergaderings van die sinode sal in die toekoms altyd op Potchefstroom plaasvind en reis- en verblyfkoste word gedek deur 'n sinodale raming, sodat die koste gelykelik verdeel word (Acta 1945:102).

      1.20 Kennisgewing van afwesigheid: Alle kennisgewings van afwesigheid moet skriftelik aan die sinode gerig word met duidelike opgawe van redes (Acta 1885:16).

      1.21 Adviserende lede: Die professore in die Teologie is adviserende lede van die Algemene- en van die Streeksinodes. Hulle reis- en verblyfkoste word vergoed uit die respektiewe kasse (Acta 1913:10; 1916:12).

      1.22 Onafgehandelde korrespondensie: Korrespondensie wat op die afgehandelde sake betrekking het, word opgedra aan die Deputate vir Korrespondensie namens die sinode.

      1.23 Uitgee van Handelinge: Die Handelinge word gestuur aan die Admin. Buro wat vir die druk en versending daarvan sorg. Aan alle persone wat nie lede van die sinode was nie, maar wat tog as deputate vir pre-advisering mag benoem word, sal 'n eksemplaar van die gedrukte Handelinge gestuur word.